Molemo en die towerbaadjie
Home | Written stories | Multilingual stories | Molemo en die towerbaadjie

Written stories

Molemo en die towerbaadjie

Author

Deur Siphiliselwe Makhanya

Illustrator

Illustrasies deur Geoff Walton

Dit is ’n yskoue oggend. Molemo druk sy hande dieper in die sakke van sy skoolbroek in en trek sy skouers op terwyl hy wag om by die verkeerslig oor die straat te stap. Hy het twee T-hemde onder sy wit skoolhemp aan, maar hy kry steeds koud.

“Brrrrrrr,” sê Molemo en stamp sy voete terwyl hy wag dat die verkeerslig oorslaan. “Ek wens Ouma het genoeg geld gehad om vir my ’n baadjie te koop.”

Toe die groen mannetjie op die verkeerslig verskyn, begin Molemo oor die straat stap. Maar net toe hoor hy iemand agter hom skree. Toe hy omkyk, sien hy hoe ’n man met ’n ou tannie stoei en haar handsak probeer gryp.

“Help! Help!” skree die tannie.

Molemo dink nie verder nie – hy hardloop om die ou tannie te help en skop die man so hard as wat hy kan op sy enkel. Die man skree van pyn en laat los die tannie se handsak. Toe hinkepink hy so vinnig hy kan daar weg.

“Jammer, Tannie, het jy jou seergemaak?” vra Molemo, terwyl hy die tannie help om op te staan. Sy het geval toe die dief haar handsak laat los het. “Hou aan my skouer vas,” sê Molemo.

Die ou tannie bewe, en dit lyk of sy wil begin huil. “Dankie, baie dankie,” sê sy. “Ek weet nie wat deesdae met mense aangaan nie.”

Toe die ou tannie weer regop staan, tel Molemo haar besittings op en gee dit vir haar aan. “Ten minste is daar nog steeds gawe jongmense soos jy,” glimlag sy.

 

                                  

 

Later daardie middag stap Molemo op pad huis toe by dieselfde stel verkeersligte oor die pad. Tot sy verbasing staan die ou tannie daar vir hom en wag. Sy glimlag toe sy hom sien. “Jong man! Ek het iets vir jou!” sê sy en gee vir Molemo ’n netjies toegedraaide pakkie. “Maak dit oop wanneer jy by die huis kom.”

Molemo voel verleë. “Tannie hoef nie vir my eni…,” begin hy sê.

“Vat dit, vat dit,” val die tannie hom in die rede. “Dit is presies wat jy nodig het. Toe ek jou ontmoet het, het ek geweet dit sal perfek wees vir jou.” Sy klop Molemo op die rug en gee sy skouer ’n drukkie. “Gee dit vir ’n ander kind wat net so gaaf is soos jy wanneer dit nie meer vir jou pas nie.” Toe draai sy om en stap weg.

Toe Molemo by die huis kom, maak hy die pakkie oop. Binne-in is ’n heldergeel baadjie. Daar is sakke aan die buitekant en ’n pragtige ruitpatroon op die voering aan die binnekant. Dit is pragtig. Maar toe hy dit uithaal, sien hy dat dit taamlik klein is.

Molemo voel teleurgesteld. “Dit sal my nooit pas nie!” dink hy. Maar omdat dit so ’n mooi baadjie is, pas hy dit tog aan.

En toe gebeur iets verrassends – die baadjie se regtermou lyk of dit langer word toe hy sy arm daarin steek. Dit word langer en langer totdat dit presies die regte lengte vir sy arm is. Molemo kan sy oë nie glo nie. Dit kan nie waar wees nie! Molemo steek sy ander arm in die linkermou van die baadjie. En weer word dit langer en langer tot dit hom pas.

                            

          

Die baadjie pas Molemo perfek. Hy stap buitentoe en kyk na sy weerkaatsing in die venster. Hy gaan staan met sy hande op sy heupe en dan weer met sy hande in die baadjie se sakke. Hy lyk goed!

Net toe kom sy ouer suster, Nina, om die hoek. Sy lyk moeg. Molemo vat haar sak en volg haar in die huis in. “Hoe gaan dit? Wat van ’n koppie tee?” vra hy.

Nina gaan sit by die kombuistafel. “Ek’s oukei, net moeg,” sê sy en probeer glimlag. “Dis harde werk om werk te soek. Tee sal lekker wees, dankie.”

Dit voel of Nina al vir ewig werk soek. Dit maak Molemo hartseer. Sy het so hard gewerk om skool klaar te maak, en hy weet sy voel sleg dat sy drie jaar later nog nie werk gekry het nie.

“Ek’s seker jy sal binnekort iets kry, Nina. Jy’s ’n harde werker en jy hou nooit op probeer nie,” sê Molemo.

Hy draai om en steek die paraffienstofie aan om water vir haar tee te kook. “Ek wens Nina kan ’n goeie werk kry,” dink hy. Hy sit die ketel op die stofie en sit ’n koppie met ’n teesakkie reg.

Molemo druk sy hande in die baadjiesakke terwyl hy wag dat die water kook. Toe voel hy ’n stukkie papier in die hoekie van die regterkantste sak. Hy is verbaas. Molemo wonder of dit heeltyd daar was en hy dit net nie opgelet het nie.

Hy haal die stukkie papier versigtig uit die sak. Dit is ’n koerantadvertensie wat netjies opgevou is en sê: WERKGELEENTHEID: Matrikulant gesoek!

Molemo glimlag. Dit lyk of sy familie se geluk aan die verander is, en dis alles te danke aan die ou tannie se geskenk.

 

 

[Get story active!] Raak doenig met stories!

Het jy al ooit die geleentheid gehad om ’n ouer persoon te help? Wat het gebeur? Hoe het jy ná die tyd gevoel?
Teken ’n prent van jou wat iemand help. Skryf onderaan jou prent ’n sin neer wat beskryf wat in die prent gebeur.
Wat is die beste geskenk wat jy al van ’n familielid ontvang het? Hoekom hou jy so baie daarvan? Teken ’n prent van die geskenk.