Buffeltjie word die oggend aan die verkeerde kant van die lappie gras wakker. Hy het laasnag glad nie lekker geslaap nie. Hy het heelnag lank die vreesaajaendste geluide in die bosveld gehoor. Eers was die geluide ver weg, maar toe het dit al hoe nader gekom. Dit het nes die grom-brom-geluid geklink wat Oupa Olifant se maag maak wanneer hy honger is! Vanoggend lyk dit asof nie een van die ander buffels dit gehoor het nie. En al is Buffeltjie die jongste buffel in die trop, gaan hy nie vir die ander jong buffels oor die geluid uitvra nie! Sê nou hulle dink hy is ’n lafaard en terg hom. Die hele oggend wonder Buffeltjie wat die grom-bromgeluide was. Oupa Olifant staan rustig aan ’n paar mopanieblare en kou toe Buffeltjie by hom verbystap op pad watergat toe. “Oupa Olifant, is dit jou maag wat gisteraand sulke harde grombrom-geluide gemaak het het dat ek dit heel aan die ander kant van die bosveld kon hoor?” vra Buffeltjie.
“Nee, Buffeltjie. Dit was nie ek nie. My maag het eers vanoggend ná sonop begin grom en brom,” antwoord Oupa Olifant. Toe draai hy om en kies koers na die hoë bome toe. By die watergat kry Buffeltjie vir Tant Seekoei wat in die son lê en bak. “Tant Seekoei, het jy gisteraand daardie grom-brom-geluide gehoor?” vra Buffeltjie. “Nee, Buffeltjie. My ore was onder die water. Ek het niks gehoor nie,” antwoord Tant Seekoei. Toe gee sy ’n groot seekoeigaap en maak haar oë toe vir ’n middagslapie.
Die hele middag wonder Buffeltjie wat die aardige grombrom-geluide gemaak het. Hy vra almal wat hy teëkom of hulle dit gehoor het, maar dit klink of niemand dit gehoor het nie. “Dalk was dit net ’n droom, Buffeltjie,” antwoord Mamma Buffel toe hy haar vra. En Mamma sal tog weet, want Buffeltjie slaap reg langs haar. Toe die laaste sonstrale wegraak, is dit tyd vir Buffeltjie en al die ander buffels om vir die nag hul lê op die sagte gras te kry. Buffeltjie het net aan die slaap geraak toe hy skielik wakker skrik. Hy hoor die grom-brom-geluide so wrintiewaar weer! Aan die begin klink dit asof dit nog ver weg is, maar dan kom dit al hoe nader. En dit word al hoe harder! Buffeltjie se hart slaan tamboer. Hy kyk rond om te sien of die ander buffels ook die geluid gehoor het, maar hulle is almal vas aan die slaap. Selfs Mamma Buffel roer nie. Buffeltjie voel bang. Dit grom-en-brom en grom-en-brom oral rondom hom. En toe … PLOEP!, val iets nats op Buffeltjie se neus. Ploep, ploep, ploep! Daar is al hoe meer waterdruppels.
Buffeltjie kyk op. Groot waterdruppels val in vlae uit die lug uit. Buffeltjie lag hardop vir homself. Natuurlik, dit moet reën wees. Sy heel eerste reënbui! En die grom-brom-geluide wat hy gehoor het, is net die donderweer! Daar is niks om voor bang te wees nie. Met ’n geruste hart skuif Buffeltjie styf teen Mamma Buffel se warm lyf in. Hy luister nog ’n rukkie na die geluid van die reën op die gras en blare en toe raak hy vas aan die slaap sonder om hom oor enigiets te kwel.
Raak doenig met stories!
- Kan jy aan ’n keer dink toe jy ’n geluid gehoor het wat jou bang gemaak het? Wat het jy gedoen? Waar het die geluid vandaan gekom?
- Teken ’n prent van Buffeltjie en Tant Seekoei. Teken ’n praatborrel by Buffeltjie en nog een by Tant Seekoei. Skryf die woorde wat elke karakter in die storie sê in die praatborrels.
- Dink aan reën. Skryf ’n gedig wat sê hoe reën klink, ruik en hoe dit op jou vel voe