Vandag is die eerste dag van die skoolvakansie! Dis ook markdag, en Mme wa Afrika vat vir Afrika en Dintle mark toe om ’n speelding of lekkerny te gaan koop. “Daar’s net een voorwaarde voordat jy jou speelding of lekkerny kan kry,” sê Mme wa Afrika met ’n glimlag. “Jy moet weet wat die naam daarvan in Sesotho en Afrikaans is!” Afrika wil die klein, kleurvolle windpomp hê wat hy die vorige keer toe hulle by die mark was, gesien het. Dit herinner hom aan die windpompe wat hulle altyd op die plase daar naby sien. “Kyk hoe kleurvol is dit! ’n Mens kan dit van ver af sien,” sê hy vir Dintle en beduie op pad na die taxi toe na ’n windpomp.
Afrika weet wat hy wil hê, maar hy ken nog nie die Sesotho-woord daarvoor nie. Sy plan is om almal wat hy teëkom, te vra of hulle weet wat die Sesotho-woord vir ’n windpomp is. “Hallo, Oom,” groet Afrika die taxibestuurder toe hy op die voorste sitplek gaan sit. Op pad na die mark toe, sien Afrika sy gunstelinghelderblou windpomp op ’n plaas daar naby en wys daarna. “Oom, wat noem ’n mens daardie ding?” vra hy. “I-Windmill, my kind?” vra die bestuurder, laggend.
“Ek bedoel, wat noem ’n mens dit in Sesotho?” fluister Afrika. “I-Windmill yi windmill,” sê die bestuurder en draai die taxi se radio harder. Dis nie die antwoord waarna Afrika soek nie.
Wanneer hulle by die mark aankom, sien Afrika sy maat Maduo en haar ma. In ’n fluisterstem vra hy vir Madua se ma: “Wat is die woord vir ’n windpomp in Sesotho?”
“Ke windy milly,” sê Mme wa Maduo. Afrika dink nie dis die regte Sesotho-naam vir ’n windpomp nie, maar hy sê vir Mme wa Maduo dankie voor hy weer teruggaan na sy gesin toe. Mme wa Afrika vat die kinders na die vrugtestalletjies toe. Die rooi appels blink te mooi. “Wil jy appels hê?” vra Mme. “Nee dankie,” sê Afrika.
Toe hulle op pad is om groente te gaan koop, sien hulle klein, bruin houtbeelde van mense en diere. “Kyk Mme, Gogo,” sê Dintle opgewonde en beduie na ’n beeld van ’n ouma. “Wil jy graag ’n houtbeeld hê, Afrika?” vra Mme. “Nee dankie,” sê Afrika terwyl hy glimlag en sy kop skud. Afrika stap na die vrou wat by die houtbeelde sit. “Hallo, Tannie, kan jy een van daardie goeters vir my maak?” vra Afrika en wys na ’n klein swart-enwit windpomp in die verte. “Ek kan enigiets uit hout maak, my kind,” antwoord sy trots. “Ja!” dink Afrika en doen ’n dansie. “Kan Tannie asseblief vir my sê wat ’n mens dit in Sesotho noem?” vra hy. “Jitte, vandag se kinders! Die vrae wat hulle vra,” sê die vrou sonder om te antwoord. Terwyl Afrika, sy ma en Dintle verder deur die mark loop, sien hulle ’n seun wat met ’n blikkarretjie speel. Die wiele is van herwinde botteldoppies gemaak. “Wil jy ’n speelgoedkarretjie hê, Afrika?” vra Mme.
“Nee dankie,” sê Afrika. Dan sien Afrika dit! ’n Klein windpomp bo-op ’n tafel, met die kleurvolle lemme wat in die briesie draai. “Dis pragtig,” sê Mme vir Afrika en kyk ook met verwondering na die windpomp. “Dis presies wat ek wil hê,” sê Afrika en hardloop na die tafel toe.
“Wel, jy weet wat ons ooreenkoms is,” sê Mme toe sy by hom kom staan. Afrika besef hy weet nog altyd nie wat die woord vir ’n windpomp in Sesotho is nie. “Dumela, Mme,” groet Afrika die vrou wat die windpompe verkoop. “Jou speelgoed is alles pragtig!” “Dankie! Ons maak dit uit herwinde materiaal,” sê die vrou en gee vir Afrika die windpomp waarna hy kyk. “Maar wat noem ’n mens dit?” vra Mme wa Afrika en kyk na Afrika.
“Dit is ’n sefefo sa moea. Nog iets vir julle?” sê die vrou, want sy dink Mme wa Afrika praat met haar. Afrika glimlag breed. “Kan ek hierdie een kry, asseblief?” sê hy. “Hierdie wat?” vra Mme wa Afrika terwyl sy vir die windpomp betaal. “Hierdie sefefo sa moea,” sê Afrika trots. Dan hou hy die windpomp bo sy kop soos ’n trofee en kyk hoe die lemme in die wind draai. “Dit was nou ’n baie slim manier om ’n nuwe woord te leer, of hoe, Dintle!” sê hy gelukkig.
Raak doenig met stories!
Nadat julle die storie saam gelees het, praat oor wat in die storie gebeur het. Vra oop vrae om jou kinders aan te moedig om na te dink en te praat oor idees wat met die storie verband hou, byvoorbeeld: “Wat is jou gunstelingdeel van die storie?”
As jy ouer kinders het, moedig hulle aan om uit te vind wat “windpomp” in ten minste twee ander tale is.
Teken ’n prentjie van ’n speelding of lekkerny waarvan jy baie hou.
Maak ’n lys in jou huistaal van die 10 speelgoed of lekkernye waarvan jy die meeste hou. Vind nou uit wat daardie speelgoed of lekkernye in een ander taal genoem word en skryf dit neer.
Maak saam met jou gesin ’n speelgoedwindpomp met stokkies, wol of tou, papier en gom