Sonvanger

Written stories

Sonvanger

Author

Deur Ann Walton

Illustrator

Illustrasies deur Rico

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Dit is ’n reënerige dag en Josh sit by die kombuistafel, besig om ’n vlieër te maak. Hy het ’n paar ligte houtstokkies wat hy vir die raam van die vlieër gebruik. Hy het ook blou en rooi en groen en pienk sneespapier. Hy trek die hele vlieër met blou sneespapier oor.

“Hierdie blou papier is die vlieër se gesig!” besluit Josh. Hy knip glimlaggende lippe uit rooi sneespapier, oë uit groen sneespapier en sirkels uit pienk sneespapier vir die wange. Dan maak hy ’n lang stert vir die vlieër uit blou, rooi, groen en pienk papier.

“Jou stert lyk soos die klere wat op Gogo se wasgoedlyn in die wind dans,” sê Josh vir die vlieër. Dan draai hy ’n baie lang stuk tou om ’n kartonrol en bind die ander punt aan die raam van die vlieër vas sodat die vlieër nie sal wegvlieg wanneer hy dit later buitentoe neem nie.

“Jou naam is Sonvanger!” sê Josh vir die vlieër.

Die volgende oggend sit Josh in sy rolstoel buite sy voordeur, met Sonvanger op sy skoot. Dis die regte soort dag om ’n vlieër te vlieg. Hy wag vir Hope. Sy gaan hom so vinnig as wat sy kan op die sypaadjie stoot sodat Sonvanger die wind kan skep en kan vlieg. Waar bly sy?

“Hier’s ek!” sê Hope. “Ek’s jammer ek’s ’n bietjie laat. Is jou vlieër gereed om te vlieg?”

“Ja, ek kan nie wag om dit in die lug te kry nie!” sê Josh.

“Kom ons gaan!” sê Hope terwyl sy die handvatsels van die rolstoel styf vashou. Sy begin eers stadig stap, en hardloop dan al met die sypaadjie langs. Die wiele maak bompe-kebomp, bompe-kebomp, en tel spoed op terwyl Hope hardloop. Josh laat ’n stukkie van die tou van die kartonrol wat hy vashou, afrol. Skielik styg die vlieër op! Dit wapper in die lug net bo hul koppe.

Josh en Hope jaag verby Neo wat in sy voortuin met Bella speel. Neo dra ’n seerowerhoed wat van koerantpapier gemaak is en hy het ’n kartonswaard. Bella dra ’n heksehoed.

“Jy’s nie ’n baie goeie seerower nie!” sê Bella, en waai haar towerstaf.

“Woef! Woef!” blaf Noodle, maar Neo luister nie na hom of Bella nie. Neo kyk hoe Josh en Hope op volle vaart met die sypaadjie af kom. Toe vergeet Bella ook van hul speletjie en kyk ook vir Josh en Hope!

“Kan ons saamkom?” vra Neo.

“Ja, kom! Ons gaan Sonvanger laat vlieg!” sê Josh in die verbygaan.

“Komaan, Bella, kom ons gaan!” sê Neo.

“Kom, Noodle,” sê Bella.

“Woef! Woef!” blaf Noodle.

Hope en Neo en Bella en Noodle hardloop toe in ’n lang ry agter Josh aan – bompe-kebomp en woef! woef! al met die sypaadjie langs.

Toe hulle by die veld langs ’n paar huise kom, laat Josh nog tou afrol en Sonvanger vlieg hoër in die lug op. En toe nog hoër. Dit sweef liggies oor die dakke en boomtoppe met die blou lug daaragter. Josh en Hope en Neo en Bella kyk verlangend na die vlieër en wens hulle kon ook in die lug rondvlieg.

“Woef! Woef!” blaf Noodle hard. Hy kyk ook op na die vlieër.

“Neo, wil jy ook probeer om die vlieër te vlieg?” vra Josh.

“Ja, asseblief!” sê Neo, en hy vat die kartonrol met tou by Josh. Maar dit is winderig en Sonvanger pluk hard aan die tou, sodat Neo die kartonrol laat val. Dit tol al in die rondte op die grond, soos ’n lewendige, wilde ding en meer en meer van die tou rol af sodat die vlieër al hoër en hoër vlieg. Gou is die vlieër net ’n klein spikkeltjie in die lug.

Noodle bespring die rol tou! Hy hou dit in sy bek en onder sy pote vas sodat dit nie kan rondtol nie. Dan spring hy teen Josh op en gee die rol vir Josh aan. Uiteindelik bly Sonvanger op die plek hang, met sy helder stert wat in die lug onder hom wapper.

“Noodle, jy het ons vlieër gered!” sê Josh. Noodle waai sy stert.

“Noodle, jy’s die beste vlieërvanger ooit!” sê Hope. Noodle waai sy stert.

“Noodle, jy’s so ’n slim hond!” sê Bella. Noodle waai sy stert.

Josh katrol sy vlieër in. Hy draai die tou stywer en stywer om die kartonrol totdat Sonvanger stil in sy skoot lê na die groot avontuur in die lug. Hope draai die rolstoel om en hulle bompe-kebomp en woef! woef! al die pad huis toe.

Toe Josh daardie aand in sy bed lê, dink hy aan die pret wat hy daardie dag met sy vlieër gehad het, en hoe hy dit byna verloor het. “Gelukkig het ek die beste maats in die wêreld!” sug hy toe hy sy oë toemaak.

Wees kreatief!

* Laat jou kinders hul eie vlieërs ontwerp. Vra vir hulle vrae om hulle aan die gang te kry – byvoorbeeld: Watter vorm gaan jou vlieër wees? Watter materiaal kan jy gebruik om dit te maak? Hoe kan jy dit versier?
* Geniet dit om saam met jou kinders ballonne op te blaas en hulle dan te laat gaan. (Moenie die ballon wat opgeblaas is, onder toeknoop nie.) Kyk hoe hulle oraloor vlieg wanneer die lug ontsnap!
* In die storie dra Neo ’n hoed wat van koerantpapier gemaak is. Gee vir jou kinders koerante, kleefband, skêre en tou en daag hulle uit om ’n voorwerp uit hierdie materiale te maak.