Die kat en die kakkerlak
Home | Written stories | Multilingual stories | Die kat en die kakkerlak

Written stories

Try our growing collection of stories to print out or read aloud at home with the whole family.

Die kat en die kakkerlak

Author

Deur Yolanda Banze

Illustrator

Illustrasies deur Chantelle en Burgen Thorne

’n Lawwe klein bruin kakkerlak het eenmaal ’n huis met ’n gesin en hul kat gedeel. Die lawwe klein bruin kakkerlak hou daarvan om te eet, nes die res van sy kakkerlakgesin. Kakkerlakke hoef nie elke dag te eet nie, maar in hierdie huis word die lekkerste oorskietkossies vir die kat uitgesit – kossies wat die lawwe klein bruin kakkerlak nie kan miskyk nie! Sy lang voelers wikkel heeltyd heen en weer terwyl hulle die heerlikste geure ruik wat uit die kombuis – waar die kat ook eet – aangesweef kom. “Moenie elke aand kombuis toe gaan nie. Hulle sal jou sien en jou doodmaak!” waarsku die lawwe bruin kakkerlak se gesin. Maar hy geniet sy lewe en luister nie na hul waarskuwings nie. Hy geniet dit om die lippeleklekker kos uit die kat se bak te eet. Die kat los graag iets in haar bak waaraan sy laatnag kan peusel, maar tot haar verbasing is haar bak leeg wanneer sy daar kom. “Dis baie vreemd,” dink die kat. “Dit kan net ’n muis wees wat elke aand my peuselhappie wat ek vir laatnag bêre, opeet.” Sy begin oral in die huis na ’n muis soek.

                                                                                                                                                

 

Terwyl die kat elke aand na die muis soek wat haar kos steel, kraai die lawwe klein bruin kakkerlak van die lag. “Die kat dink sy is so slim,” giggel die lawwe klein bruin kakkerlak terwyl hy wag dat die kat moed opgee met haar soektog. Een aand sien die lawwe klein bruin kakkerlak dat die kat weer ’n bietjie van haar kos en melk gelos het vir later, en sy maag begin grom. Sy voelers wikkel heen en weer terwyl hy wag vir die kat om te gaan slaap. Hy kyk terwyl die maan stadig verby die venster skuif. “Opskud, opskud, gaan slaap nou! Ek is so honger,” kerm die lawwe klein bruin kakkerlak totdat die kat uiteindelik aan die slaap raak. Intussen is die kat baie hartseer omdat sy nie die muis kan vang wat haar kos steel nie. Om alles te kroon kan sy nie eens die muis ruik nie. “Wat sal gebeur as die gesin uitvind daar’s ’n muis? Hulle sal dink ek is te oud om ’n muis te jaag of selfs uit te snuffel! Dalk begin hulle dink hulle moet ’n nuwe en jonger kat kry,” dink sy hartseer.

Laat een aand sluip die lawwe klein bruin kakkerlak weer in die kombuis in. “Katte is regtig nie baie slim nie,” dink hy terwyl hy aan die oorskietkossies in die kat se bak knibbel. Maar skielik gaan die kombuislig aan, gevolg deur ’n skrikwekkende, deurdringende gil! Die gil is so hard en so deurdringend dat die lawwe klein bruin kakkerlak heeltemal deurmekaar raak en nie weet watter kant toe om te hardloop nie. Dis die vrou van die huis wat so gil. Sy gil en gil terwyl sy in die kombuis rondhardloop en spring en elke keer net-net die skarrelende lawwe bruin klein kakkerlak mis trap. Met die verskriklike lawaai kom die kat om die hoek gehardloop om te help. Dit gee die vrou kans om ’n rooi spuitkannetjie te gryp. Die lawwe klein bruin kakkerlak skiet soos ’n pyl uit ’n boog weg van die kat af. Hy is bly dat dit lyk of die vrou die aftog geblaas het, maar hy besef nie in watter gevaar hy is nie. Die vrou mik en spuit, die kat nies en die lawwe klein bruin kakkerlak begin lomerig en duiselig voel.

 

                                                                                                                                            

“O, nee, my kop gaan bars van hierdie lawaai,” dink die lawwe klein bruin kakkerlak, “en my kop draai so dat ek nie goed kan sien nie. Hoekom het ek tog die kat se kos gesteel? Hoekom het ek tog nie na my gesin geluister nie?” mompel hy voor hy flou word. Die vrou gryp die besem en vee die lawwe klein bruin kakkerlak op terwyl die kat sit en kyk. “Jy sit jou voete nie weer hier nie, lawwe klein bruin kakkerlak! Ek hou jou dop en ek wag vir jou,” sê die kat, terwyl die vrou die lawwe klein bruin kakkerlak by die agterdeur in die donker uitgooi. En dis hoekom die lawwe klein bruin kakkerlak tot vandag toe nog buite bly, ver van katte en spuitkannetjies en vroue wat hard gil. Maar soms oorweldig die heerlike reuke hom, en dan skarrel die lawwe klein bruin kakkerlak in die middel van die diep, donker nag by ’n huis in om ’n feesmaal te geniet.

Raak doenig met stories! 

  •   Hoe sal jy voel as jy ’n kakkerlak in jou huis sien? Teken ’n prent van jouself wanneer jy ’n kakkerlak sien.
  •  Stel jou voor dat die kakkerlak die kat om verskoning wil vra omdat hy haar kos gesteel het. Skryf die brief wat die kakkerlak vir die kat stuur. 
  • Maak of jy die vrou is wat in die huis woon. Wys hoe sy rondhardloop en spring wanneer sy die kakkerlak sien.
  • Maak die kat en die kakkerlak uit speeldeeg.