Eendag was daar ’n mamma-eend wat ses klein, geel baba-eendjies gehad het. Hulle het in ’n klein huisie op ’n plaas gewoon, maar die baba-eendjies het in ’n droë, warm somer uitgebroei. Daar was geen reën om in te speel of poeletjies om in te plas nie. “Ek wens dit wil reën,” sê Mamma Eend vir haar baba-eendjies. “Dis so lekker om in die reën te speel. Ek weet julle gaan dol wees oor die reën. Alle eende hou van reën!”
Toe die somer plek maak vir die herfs, begin dit uiteindelik reën! Mamma Eend word wakker toe sy die tippe-tap van die reën op die dak hoor. Sy roep haar baba-eendjies. “Kom kyk hoe reën dit!” Sy is baie opgewonde en maak gou al die baba-eendjies bymekaar. Daarna volg hulle almal Mamma Eend toe sy in die reën uitloop.
Maar die kleinste eendjie hardloop gou-gou terug in die huis in. “Wat’s fout?” vra Mamma Eend. “Kom uit en voel hoe lekker reën dit.”
“Nee dankie,” sê die kleinste eendjie. “Ek hou nie van die reën nie. Ek hou nie daarvan om nat te word nie, en die reën laat my geel vere aan my vasplak.”
Mamma Eend kan haar ore nie glo nie. Sy klap haar vlerke en sê: “Het jy al ooit gehoor van ’n eend wat nie van reën hou nie? Ek sal ’n plan moet maak.”
Die volgende oggend gaan Mamma Eend na Mamma Bok MaMbuzi toe. Sy het ’n winkel op die plaas waar ’n mens enigiets kan koop. “MaMbuzi, my kleinste eendjie wil nie uitgaan as dit reën nie. Sy sê sy hou nie daarvan om nat te word nie. Het jy al ooit van ’n eend gehoor wat nie van reën hou nie? Ons moet ’n plan maak!” sê Mamma Eend.
MaMbuzi lag. “Dis omdat sy nog jonk is en nog nooit reën gesien het nie,” sê sy. Toe soek MaMbuzi in haar kaste en vind ’n klein, blou reënjassie. “Hierso,” sê sy vir Mamma Eend. “Gee vir haar hierdie klein, blou reënjassie om aan te trek wanneer dit weer reën.” Mamma Eend sê vir MaMbuzi dankie en gaan huis toe met die reënjas.
’n Paar dae later reën dit weer. Mamma Eend gee vir haar kleinste baba-eendjie die reënjas om aan te trek. “Kom ons gaan nou buitentoe en gaan geniet die reën,” sê sy.
Al die eendjies loop vrolik agter Mamma Eend aan buitentoe. Maar ná ’n rukkie kom Mamma Eend agter dat die kleinste eendjie nie meer by hulle is nie. Sy soek oral en uiteindelik kry sy haar waar sy stoksielalleen in die huis sit. “Hoekom sit jy so alleen hier? Jy het mos nou ’n reënjas. Kom nou buitentoe en kom geniet die reën,” sê Mamma Eend.
“Nee dankie,” sê die kleinste eendjie. “Ek hou nie van reën nie. Die modder sit aan my voete vas.”
Mamma Eend is baie verward. “Alle eende hou van reën,” sê sy. “Hulle gee nie om as hul vere nat word en hul voete vol modder raak nie! Ek sal ’n plan moet maak!”
Die volgende oggend gaan Mamma Eend terug na MaMbuzi toe om hulp te vra. “MaMbuzi, my kleinste eendjie sê sy hou nie van reën nie, want die modder sit aan haar voete vas. Wat is ek veronderstel om te doen? Ons moet ’n plan maak.”
MaMbuzi lag weer. “Dis omdat sy nog jonk is en haar voetjies baie klein is,” sê sy. Toe soek MaMbuzi op haar rakke rond en vind ’n klein paar groen reënsteweltjies. “Hierso,” sê sy vir Mamma Eend. “Gee vir haar hierdie klein, groen reënsteweltjies om aan te trek wanneer dit weer reën.” Mamma Eend sê vir MaMbuzi dankie en gaan huis toe met die stewels.
Toe dit weer reën, gee Mamma Eend vir haar kleinste eendjie die reënjas en reënstewels om aan te trek. “Kom ons gaan nou buitentoe en gaan geniet die reën,” sê sy.
Die kleinste eendjie is nou baie gelukkiger. Haar vere is droog en haar voete is nie vol modder nie. Mamma Eend glimlag en voel verlig terwyl sy kyk hoe al haar eendjies saam in die reën speel.
Toe die reën ophou en die son uitkom, verskyn ’n groot reënboog in die lug. “Kyk, Mamma,” sê die kleinste eendjie en wys na die reënboog. “Wat is daardie kleurvolle ding?”
Mamma Eend en die ander eendjies kyk in die lug op. Die eendjies is almal verstom oor die pragtige, kleurvolle boog wat hulle daar sien.
“Dit is ’n reënboog,” glimlag Mamma Eend. “Dit kom uit wanneer die reën ophou en die son uitkom. As julle mooi kyk, sal julle sien dit het sewe verskillende kleure.”
“O, ek hou vreeslik baie van die reënboog. Dit het dieselfde kleure as my reënjas, stewels en vere,” sê haar kleinste eendjie opgewonde. Die ander vyf eendjies klap hul vlerke instemmend.
Toe die son ondergaan en die reënboog verdwyn, gaan Mamma Eend en haar eendjies huis toe.
Ná daardie dag kan die kleinste eendjie nie wag dat dit weer reën nie, want sy wil so graag weer nog ’n reënboog sien. Om die waarheid te sê, sy is so opgewonde om ’n reënboog te sien dat sy skoon vergeet om haar reënjas en reënstewels aan te trek toe dit weer reën.
Toe die reënboog verskyn, sê sy vir Mamma Eend: “Ek gee nie meer om as my vere nat en my voete vol modder word as dit reën nie, want as dit klaar gereën het, sal die son uitkom en dan sal ek die mooiste ding in die hele wêreld sien – ’n kleurvolle nuwe reënboog. Ek hou baie van die reën, maar ek hou die meeste van reënboë!”
Mamma Eend kan nie gelukkiger, of meer verlig, wees nie. Nou hou al haar eendjies van die reën, nes eendjies veronderstel is om te doen!
Raak doenig met stories!
Teken ’n prent wat wys wat jy graag op ’n reënerige dag doen. Skryf ’n sin onder die prent om te sê waaroor dit gaan.
Maak ’n lys van dinge waarvan jy hou op reënerige dae en nog ’n lys van dinge waarvan jy nie hou nie.
Ken jy ’n liedjie oor reën of reënboë? Maak jou eie liedjie of gedig op en voer dit vir jou familie op.