Een warm somersaand stap ’n kakkerlak stadig oor die kombuistafel. Hy eet die broodkrummels wat die gesin op die tafel gemors het. Nou is hulle vas aan die slaap in hul beddens. Toe hoor hy ’n geluid. Bzzzz, bzzzz! “Wat’s dit?” vra die kakkerlak. Hy kyk om hom rond, maar kan niks sien nie. Dan hoor hy dit weer. Bzzzz, bzzzz! “Wie maak daardie irriterende geluid?” fluister die kakkerlak. “Ek’s ’n muskiet,” antwoord ’n stem. “Wie is jy? En hoekom praat jy so sag?” Die kakkerlak kyk rond. “Waar is jy?” vra hy. “Jy moet baie klein wees, want ek kan jou nie sien nie. Ek hoop jy weet ek is die baas hier rond.” Die muskiet gaan sit op die tafel naby die kakkerlak. “Dink jy nogal jy is die baas?” sê die muskiet spottend. Die kakkerlak hou glad nie hiervan nie. “Ek is die baas hier. As die mense sien dat ek hulle kos eet, eet hulle nie verder nie. Die kos is dan myne, wat beteken hulle respekteer my en is bang vir my,” spog die kakkerlak.
Toe draai hy sy rug op die muskiet, stap na die wasbak vol vuil skottelgoed en begin die oorskietkos op die borde eet
. Die hele tyd hou die muskiet die kakkerlak baie goed dop. Toe vlieg sy om die kakkerlak se kop en maak die hele tyd die zoemgeluid. “Hoekom eet jy hulle oorskietkos as jy die baas is?” vra die muskiet. Die kakkerlak waai met sy voorpoot om van die muskiet ontslae te raak, maar die muskiet bly al om die kakkerlak zoem. Uiteindelik sê die kakkerlak: “Hou asseblief tog op om daardie aaklige geluid te maak.
As die mense ons kry, sal hulle ons albei doodslaan.” “Ek is nie bang vir mense nie!” antwoord die muskiet. “Ek byt hulle en drink hulle bloed. As hulle my probeer doodslaan, koes ek en vlieg draaie en verdwyn dan. En net wanneer hulle dink ek het spore gemaak, kom ek terug! Die geluid maak hulle mal. Hulle kruip onder die komberse weg, al is dit warm. En wanneer ek hulle byt, maak dit ’n rooi knop wat kwaai jeuk.” Toe lag en lag die muskiet. Skielik skakel iemand die kombuislig aan. ’n Man stap na die opwasbak in die kombuis en maak ’n glas vol water by die kraan. Die kakkerlak skarrel vinnig in ’n kraak agter die deur in en gaan kruip weg.
Die muskiet is min gepla. Sy maak haar zoemgeluid, vlieg hier en daar en al om die man terwyl hy die water drink. Eers probeer die man die muskiet met sy hand wegwaai. Maar die muskiet bly om sy kop draai. Die man raak al hoe meer geïrriteerd totdat hy sy pantoffel woes rondswaai. Maar die muskiet draai net al om sy kop en zoem haar irriterende zoem. Op die ou end gee die man op, skakel die lig af en gaan klim weer in die bed. “Ek dink ek sal maar ’n rukkie langer in my wegkruipplek bly,” dink die kakkerlak. “Ek weet nie waarheen daardie muskiet is nie, en ek is nie seker dis veilig om uit te kom nie.” En hy is reg om in sy wegkruipplek te bly, want die muskiet is na die kinders se kamer toe en draai al om hul koppe. “Pappa!” roep een van die kinders. “Daar’s ’n muskiet in ons kamer. Kom help, asseblief.” Die hele gesin word wakker en gou soek almal in elke kamer, gereed met kussings en pantoffels om die muskiet dood te slaan.
Maar natuurlik draai en swaai die muskiet net elke keer as iemand haar sien en dan verdwyn sy. Ná ’n hele rukkie gooi die mense tou op. Hulle gaan terug bed toe en trek die komberse oor hul koppe, al is dit veels te warm daarvoor. Toe die muskiet weer in die kombuis invlieg, kom die kakkerlak uit sy wegkruipplek. “Sjoe, ek is beïndruk,” sê hy vir die muskiet. “Al daardie mense het jou probeer vang, maar nie een van hulle kon jou in die hande kry nie.” “Ek het jou gesê ek is bang vir niemand nie. Sê nou vir my, wie dink jy is regtig die baas?” vra die muskiet.
“Dis beslis jy!” antwoord die kakkerlak. “Jy is dalk piepklein, maar jy het die mense verslaan.” “Ek is bly ons stem saam daaroor,” sê die muskiet trots. “Van nou af kan jy my roep as die mense jou pla.” “Ek sal, baie dankie,” antwoord die kakkerlak terwyl hy wegskarrel om nog oorskietkossies te gaan soek. Van daardie dag af is die kakkerlak en die muskiet beste maats, en hulle werk saam om mense soveel as moontlik te irriteer!
Raak doenig met stories!
Dink aan al die gediertes wat mense irriteer: muskiete, vlieë, kakkerlakke en enige ander waarvan jy weet. Watter een is die irriterendste? Hoekom dink jy so?
Skryf ’n gedig oor een of meer van die gediertes hierbo. Dink oor hoe hulle lyk, hoe hulle beweeg, die geluide wat hulle maak en die dinge wat hulle doen om mense te irriteer of bang te maak.
Maak jou eie insek op! Teken jou insek. Skryf neer hoe groot dit is, wat dit eet, en watter geluid dit maak.