Jabu se dagboek
Home | Written stories | Multilingual stories | Jabu se dagboek

Written stories

Jabu se dagboek

Author

Jane Semu

Illustrator

Magriet Brink en Leo Daly

Jabu is ’n baie avontuurlustige seun. Hy woon in ’n klein dorpie in die Oos-Kaap saam met sy ouma, oupa, tantes, ooms en baie neefs en niggies. Al speel Jabu gereeld saam met sy neefs en niggies en maats, hou hy die meeste daarvan om op avonture in die bos naby sy huis te gaan.

Daar is baie dinge om in die bos te doen. Hy kan die voëls dophou, slakke soek, of hy kan kyk hoe die termiete hul neste bou.

 

Jabu speel elke dag heerlik in die bos, maar dit maak hom altyd hartseer dat hy nie sy avonture met sy ouers kan deel nie.

Jabu se ma en pa woon in Mosselbaai in die Wes-Kaap. Hulle bel elke week, maar Jabu kry gewoonlik net ’n paar minute om met hulle te gesels, want almal wil ’n beurt hê.

“Gee vir my die foon. Ek moet vir Tannie iets vra,” sê een niggie.

“Ek het ’n belangrike boodskap vir jou pa,” roep ’n oom uit.

Terwyl hy sy beurt afwag, dink Jabu aan al die opwindende avonture waarvan hy sy ouers wil vertel. “Ek sal vir hulle vertel van die keer toe ek gesien het hoe ’n groot voël ’n veldmuis vang. Nee! Ek gaan hulle vertel hoe ek vanoggend gesien het hoe die slakke die blare eet. Nee! Ek gaan hulle vertel van die termiet wat by my broek ingekruip het. Nee! …” en so vlieg sy gedagtes heen en weer.

Wanneer dit sy beurt is om met sy ouers te praat, is daar so baie dinge wat Jabu wil sê dat hy vashaak en skielik nie weet watter storie om te vertel nie.

Toe vertel sy juffrou, mev. Nako, een week vir die klas van ’n wonderlike boek wat ’n dagboek genoem word.

“’n Dagboek is ’n boek met baie bladsye om op te skryf,” sê mev. Nako vir die klas. “Dit is spesiaal, want elke bladsy is vir een dag van die jaar van Januarie tot Desember. Jy kan dit gebruik om belangrike dinge wat gedurende die dag met jou gebeur, neer te skryf. Jy kan ook ’n nota van sekere dae maak, soos jou verjaardag, sodat jy op daardie dag kan onthou om dinge te doen.”

Jabu is opgewonde!

“Dis wat ek nodig het!” dink hy gelukkig. “Ek het ’n dagboek nodig sodat ek al my avonture kan neerskryf. Dan kan ek gaan sit en besluit van watter avonture ek my ouers wil vertel as hulle weer bel!”

Toe die klas verby is, hardloop Jabu na mev. Nako toe en vra haar of sy ’n dagboek het, selfs ’n oue, wat hy kan gebruik.

Gelukkig het mev. Nako ’n paar klein dagboeke klas toe gebring ingeval daar van die leerders was wat dit wou hê. Jabu is baie bly. “Dankie, mev. Nako. Juffrou weet nie hoe belangrik dit vir my is nie!” sê hy met ’n glimlag.

Sy nuwe dagboek is klein genoeg om in sy sak te pas, en hy kan dit oral saamdra. Dis blou en daar’s ’n lintjie aan die binnekant. Mev. Nako het gesê hy kan die lintjie as ’n boekmerk gebruik om sy plek te hou by die bladsy waar hy wil wees.

“Gogo, kyk my nuwe dagboek!” roep Jabu van die hek af toe hy ná skool by die huis kom. Hy is so opgewonde dat hy nie die groot modderpoel reg voor hom sien nie. Hy trap daarin en val met ’n groot gespat neer! Almal lag en lag – en Jabu begin selfs vir homself lag.

“Hawu, Jabu,” sê Gogo, “ek het vir jou gesê jy moet stadiger loop as jy opgewonde is. Nou is jy van kop tot tone vol modderwater! Maar gelukkig het jou nuwe dagboek nie nat geword nie.”

 


 

“Ek weet, Gogo,” sê Jabu toe hy opstaan. “Maar dit is die eerste avontuur waaroor ek in my dagboek gaan skryf!”

Toe Jabu weer skoon is en ná aandete rus, gaan sit hy naby Gogo en begin skryf.

’n Paar dae later is Jabu baie in sy skik, want hy het al baie avonture in sy nuwe dagboek geskryf. Hy merk die bladsye met die storie van hoe hy in die modderpoel geval het, met die lintjie.

“Ek hou van hierdie storie, Gogo,” sê Jabu. “Hierdie storie help my om die dag te onthou toe ek my dagboek gekry het. En ek kan ook al hoe beter skryf, Gogo, want ek skryf elke dag!”

“Dis baie goed, Jabu,” sê Gogo en glimlag vir hom. “Gaan haal nou jou dagboek, want jou ouers gaan nou-nou bel.”

Jabou haal die dagboek uit sy sak. Hy voel gelukkig en opgewonde, want hy weet uiteindelik presies wat hy gaan sê wanneer dit sy beurt is om oor die foon te praat!

 

Raak doenig met stories!

  • Teken ’n prent om hierdie deel van die storie te illustreer: Toe Jabu weer skoon is en ná aandete rus, gaan sit hy naby Gogo en begin skryf.
  • Vind die vier diere wat Jabu in hierdie storie sien.
  • Maak die 3D-appeldagboek op bladsy 4. Skryf een interessante ding wat vandag met jou gebeur het daarin neer.