Hoekom dassies nie sterte het nie
Home | Written stories | Multilingual stories | Hoekom dassies nie sterte het nie

Written stories

Try our growing collection of stories to print out or read aloud at home with the whole family.

Hoekom dassies nie sterte het nie

Author

deur Themba Mabaso

Illustrator

deur Vian Oelofson

Listen to the story here

Lank, lank gelede het die diere nie sterte gehad nie. Hulle was baie ontevrede hieroor en het besluit om by die watergat bymekaar te kom.

Dassie kyk hoe die diere verbystap op pad na die byeenkoms by die watergat.

“Maak gou! Ons moet by die watergat kom,” roep Haas terwyl sy verbyhop.

“Bedaar tog, ek sal jou volg!” antwoord Dassie, en hy draai sy rug om die strale van die warm son te vang.

“Kom jy nie saam nie?” vra Apie toe hy verbykom.

“Bedaar tog, ek sal nou daar wees,” antwoord Dassie, en hy gaan lê op sy rug om sy maag lekker warm te bak.

Die laaste dier wat verbykom, is Dassie se beste vriend, Skilpad. “Kom jy nie saam na die byeenkoms toe nie?” vra sy.

“Net as my vriend my ’n saamrygeleentheid kan gee,” antwoord Dassie.

“Maar my dop is al klaar so swaar,” sê Skilpad.

“Wel, ek is nie swaar nie. Jy sal nie eens die verskil agterkom met my bo-op jou dop nie,” sê Dassie met ’n breë glimlag.

“Maar my dop is hard en ongemaklik om op te sit,” verduidelik Skilpad.

“Ek’s ’n dassie! Ek is gewoond daaraan om op harde rotse te sit!” antwoord Dassie, en spring op Skilpad se rug. Dassie is swaar, maar wat kan Skilpad doen? Dassie is haar beste vriend.

Ná die byeenkoms, praat al die diere oor sterte.

“Ek lyk lelik sonder ’n stert,” kla Hiëna.

“Wanneer ek probeer draai wanneer ek hardloop, val ek om omdat ek nie ’n stert het nie,” sê Jagluiperd.

“Ek het ’n ekstra ledemaat nodig sodat ek my hande kan gebruik om aan bome te swaai en vrugte te pluk,” sê Apie.

 

 

“Kom ons vra die Skepper om vir ons sterte te gee,” stel Leeu voor.

Die diere kyk toe op na die hemel. “O, Skepper, gee asseblief tog vir ons sterte!” pleit hulle.

’n Harde stem bulder uit die hemel. “Gaan môreoggend af rivier toe en daar sal julle sterte aan die groot boom vind.”

Die diere gaan hoopvol en gelukkig huis toe.

“Ek kan nie wag om ’n stert te kry nie. Kom ons gaan môre ons sterte saam haal,” sê Dassie toe Skilpad hom by die rots wat sy huis is, aflaai.

Omdat sy weet dat sy stadig stap, word Skilpad die volgende oggend vroeg wakker. Dit is nog donker toe sy haar huis verlaat, en die ander diere slaap nog.

Toe Skilpad by Dassie se huis verbystap, roep sy: “Komaan! Kom ons gaan haal ons sterte!”

“Nie vandag nie. Ek voel lui. Ek gaan net hier op hierdie rots sit en die son geniet. Kry asseblief vir my ook ’n stert en laai dit op pad huis toe vir my af,” sê Dassie met ’n breë glimlag. “Ek sal hou van ’n lang, wollerige stert.”

Skilpad is verbaas dat Dassie nie wil saamkom nie. “Ek maak so,” sê sy tevrede toe sy besef dat sy nie vir Dassie op haar rug hoef te dra nie.

Teen dagbreek is al die ander diere in ’n groot groep op pad rivier toe. Hulle is vinniger as Skilpad en stap by haar verby op pad soontoe. Maar Skilpad is vasberade om by die boom uit te kom en vir haar en haar vriend ’n stert te kry en daarom skuifel sy voort.

Toe die diere naby die rivier kom, sien hulle die groot boom vol sterte. Daar is kort sterte, lang sterte, wollerige sterte en dun sterte. Daar is pragtige sterte en lelike sterte.

Die diere begin na die boom toe stap. Dis duidelik dat die een wat eerste daar kom, die beste keuse sal hê. Apie spring van boom tot boom. Leeu, Jagluiperd en Sebra hardloop volspoed. Olifant en Renoster storm vorentoe. Jakkals en Vark draf vinnig, maar Vark stop hier en daar om sappige larwes en wortels te eet. Skilpad is heel agter.

Apie is eerste by die boom. Sy gryp die langste stert. Jagluiperd is tweede en hy kies ’n ander lang stert. Die diere wat ná hulle kom, kies uit die sterte wat nog in die boom hang.

Toe Vark en Skilpad uiteindelik daar aankom, is daar net twee sterte oor. Een is ’n kort, stomp stert en die ander ’n dun, krullerige stert. Vark kies die krullerige stert, en Skilpad kry toe die stomp stert.

Daar bly niks aan die boom oor nie, en niemand onthou dat Dassie ook ’n stert wou hê nie.

Dassie sit op sy rots en sien hoe die diere huis toe kom. Hulle stap spoggerig en swaai hul sterte heen en weer. “Ek kan nie wag vir my nuwe stert nie!” dink Dassie.

 

 

Dassie sien vir Skilpad en Vark aankom. “Het jy my stert saamgebring, Skilpad?” vra Dassie toe hulle nader kom.

“Nee, ek’s jammer, ou maat, maar die sterte het opgeraak! Ek en Vark het die laaste twee sterte gekry. Kyk na my stert,” verduidelik Skilpad, en wys na haar stomp stert. “Dis al wat ek kon kry.”

“Ek moes self gegaan het!” sê Dassie spyt. “Ek is vinniger as albei van julle. Ek kon ’n baie mooi stert gehad het as ek nie so lui was nie.” Skilpad en Vark stap in stilte weg.

En dis hoekom dassies nie sterte het nie – maar hulle sit nog op rotse en bak lekker in die warm son!

 

Raak doenig met stories!

  • Stel jou voor dat die diere ander sterte van die boom af gekies het. Teken n prent van enige dier met n ander soort stert, soos Skilpad met n leeu se stert, of sebra met n vark te stert.
  • Word n woordspeurder! Kyk goed na die storie. Kan jy die volgende vind: die name van vier diere – twee getalname – vyf woorde wat sterte beskryf?
  • Maak of jy Dassie is. Skryf n brief vir die Skepper en vra nog n kans om n stert te kry.