Hoe lyk ’n engel?
Home | Written stories | Multilingual stories | Hoe lyk ’n engel?

Written stories

Hoe lyk ’n engel?

Author

Njabulo Mokoena

Illustrator

Chantelle en Burgen Thorne

Sharon hou baie van haar skool, haar maats en haar gesin.

Op ’n dag by die skool vertel juffrou Jane vir hulle van engele. Sharon is so opgewonde oor wat sy geleer het dat sy dadelik, toe sy daardie dag ná skool by die huis kom, vir haar ma vertel van al die goeie dinge wat engele doen.

“Hoe lyk ’n engel, Mamma?” vra sy toe sy ná skool haar middagete eet.

 

what_does_an_angel_look_like.aw01_lo_res.jpg

“Ek weet nie, my skat. Hoe sê juffrou Jane lyk ’n engel?” vra Mamma.

“Sy sê ons sal weet dis ’n engel wanneer ons een sien,” sê Sharon en sug. Sy wens juffrou Jane het hulle vertel presies hoe ’n engel lyk. Dan sal Sharon ten minste weet waarna om te soek!

“Glo jy nie wat juffrou Jane sê nie?” vra Mamma.

“Ek weet nie. Ek wonder net hoe ek ’n engel sal herken as ek nie weet waarna om te soek nie,” sê Sharon. Toe eet sy klaar en gaan sit haar bord en beker in die opwasbak in die kombuis.

“Kom help my asseblief om die tafel skoon te maak,” sê Mamma. “Gooi die groenteskille in die komposhouer en bêre die brood, asseblief.”

“Ja, Mamma,” sê Sharon en doen dadelik dit wat haar ma gevra het.

Toe haar pa daardie aand ná werk by die huis kom, hardloop Sharon deur toe om hom te groet. Sy vat sy werktas en dra dit vir hom. Haar pa gee haar ’n drukkie en glimlag vir haar.

“Ek wil iets vra, Pappa,” sê Sharon, sonder om hom kans te gee om te gaan sit.

“Ja, my skat, wat wil jy weet?” vra haar pa en glimlag breed.

“Hoe lyk ’n engel, Pappa?”

“Wel, engele is goed, gaaf en pragtig,” sê haar pa.

“Ek weet. Dis wat juffrou Jane ook sê. Maar ek wil weet hoe hulle regtig lyk,” sê Sharon.

Haar pa kyk na haar en dink ’n rukkie. Dan sê hy: “Ek sal jou die naweek neem om na een te gaan kyk.”

Sharon is baie opgewonde. “Weet jy waar om te kyk?” vra sy verwonderd. “Mamma!” roep sy, “Pappa weet waar om engele te vind!”

“Dis wonderlik, Sharon. Ek is bly jy gaan uiteindelik ’n antwoord op jou vraag kry,” sê Mamma. Sy glimlag breed vir Sharon se pa.

Die volgende oggend in die taxi op pad skool toe, vertel Sharon vir al haar maats dat sy die naweek ’n engel gaan sien. Haar maats glimlag beleefd, want hulle hou van Sharon, maar hulle glo nie wat sy sê nie.

Toe vertel sy vir haar juffrou van haar planne vir die naweek. Juffrou Jane vra haar om Maandag vir die klas van haar avontuur te kom vertel.

Saterdagoggend word Sharon vroeg wakker en maak al haar werkies klaar. Toe bad sy, trek netjies aan en eet ontbyt. Al wat oorbly, is om vir haar pa te wag om reg te maak. Sommer gou is Sharon op die agtersitplek van die kar vasgegordel en is hulle op pad.

“Is dit ver, Pappa?” vra sy vrolik.

“Ons is sommer nou daar,” sê hy en glimlag. Hulle ry nog ’n entjie voordat hulle by ’n ouetehuis stilhou.

“Hier is ons,” sê Pappa en maak sy veiligheidsgordel los.

“’n Ouetehuis?” Sharon is verward. Wat doen engele by ’n ouetehuis?

“Aa, goeiemôre,” sê ’n jong man wat na hulle toe aangestap kom. “Jy moet Sharon wees. Ek het ’n lys gemaak van die dinge wat jy kan doen om vandag hier by die tehuis uit te help.” Hy glimlag vir Sharon en gee vir haar pa ’n vel papier.

Pappa lees die lysie. Eers help Sharon vir Pappa om die erf te vee. Toe maak hulle die stoele skoon waarop die bejaardes in die son sit. Sharon doen haar werk so vinnig sy wat kan sodat haar pa haar kan neem om ’n engel te sien.

“Nou gaan ons die eetsaal skoonmaak,” sê Pappa. Hulle vee en stof af en vryf die meubels blink totdat alles silwerskoon is.

Uiteindelik is dit tyd vir middagete. Sharon en haar pa was hulle hande en gesig en gaan eetsaal toe. Daar help Sharon om die etes te bedien. Sy geniet dit om by almal te sit terwyl hulle vir haar stories van lank gelede vertel. Hulle speel ook bordspeletjies. Toe sê een tante vir Sharon: “Jy’s ’n regte engel,” en gee vir haar ’n stywe drukkie.

“Wat is jou naam, my engel?” vra ’n ander ou tante.

“Ek is Sharon,” antwoord sy met ’n glimlag en hardloop na haar pa toe.

“Die ou tannies noem my ’n engel. Toe onthou ek Pappa is veronderstel om vandag vir my ’n engel te wys,” sê sy.

Haar pa glimlag en wys na hul weerkaatsings in ’n spieël daar naby. “Dis hoe ’n engel lyk, Sharon.”

 

what_does_an_angel_look_like.aw02_lo_res.jpg

Sharon staar vir ’n oomblik na haarself en glimlag. Sy kan nie wag om Maandag skool toe te gaan om vir haar maats en juffrou Jane te vertel hoeveel sy dit geniet het om die goeie werk van ’n engel te doen nie.

 

[Get story active!] Raak doenig met stories!

  • Hoe dink jy lyk engele? Teken ‘n prent van ’n engel. Knip materiaal vir die klere en wol of tou vir die hare uit en plak dit op die prent.
  • Skryf ’n gedig wat vir ons sê wat jy van engele dink.
  • Maak ’n “Ek is jou engel”-fles vir iemand vir wie jy lief is. Nooi daardie persoon om klein notas van maklike dinge – soos Maak vir my ’n koppie tee – wat hulle graag wil hê jy vir hulle moet doen, in die fles te sit. Haal gereeld een van die notas uit die fles en doen iets goeds vir die persoon vir wie jy lief is.