Die vriendskapsarmbandjies
Home | Written stories | Multilingual stories | Die vriendskapsarmbandjies

Written stories

Try our growing collection of stories to print out or read aloud at home with the whole family.

Die vriendskapsarmbandjies

Author

Deur Zahida Wahab

Illustrator

Illustrasies deur Chantelle en Burgen Thorne

Palesa en Gracie is al vandat hulle drie jaar oud is beste maats. Hulle woon langs mekaar, en hul ma’s is ook vriende. Hulle is ’n maand uitmekaar gebore en het soos susters grootgeword. Hulle doen alles saam. Hulle gaan na dieselfde skool toe en beland altyd in dieselfde klas! Toe, op ’n dag, toe die meisies ’n bietjie ouer is, gebeur iets wat hulle baie hartseer maak. Gracie kom in trane by Palesa se huis aan.

“Wat’s fout?” vra Palesa baie bekommerd vir haar maatjie. “My pa het ’n werk in ’n ander stad gekry, en ons moet trek,” sê Gracie deur haar trane. Die twee meisies huil hulle amper dood. “Mamma, kan Gracie asseblief by ons bly?” smeek Palesa haar ma. “Mamma, kan Palesa asseblief saam met ons kom?” pleit Gracie by haar ma. Maar ongelukkig kan dit nie gebeur nie, want die meisies moet elkeen by hul eie gesin bly. Die dag voor Gracie se familie vertrek, dink Palesa aan ’n spesiale geskenk vir haar maatjie.

Dit is die geluksarmbandjie wat haar ouma jare gelede vir haar gegee het. Die vrou wat die armbandjie aan haar ouma verkoop het, het gesê sy het net twee van daardie soort gemaak.

                                                                                                                                                    

Een armbandjie het ’n son as gelukbringer gehad en die ander een ’n maan. Palesa se ouma het die een met die son vir Palesa gekies. “Jy is die lig in ons lewe,” het sy gesê toe sy vir Palesa die armbandjie gee. Ná haar ouma se dood, voel Palesa steeds haar ouma se liefde wanneer sy die armbandjie dra. Dit is baie spesiaal vir haar. “Ek wil hierdie armbandjie vir Gracie gee,” fluister Palesa vir haarself. “Dit sal haar daaraan herinner dat ons altyd beste maats sal wees.”

Gracie gaan na haar nuwe skool toe, maar sy verlang baie na haar maatjie. Wanneer hulle ook al kans kry, skryf die twee meisies vir mekaar. Eendag is daar ’n pakkie in die pos vir Palesa. Dit kom van Gracie af. “Ek wonder wat binne-in is,” sê Palesa toe haar ma dit vir haar gee. “Maak dit oop!” glimlag Mamma. Tot Palesa se verbasing is daar ’n armband in die pakkie, presies soos die een wat sy vir Gracie gegee het. “Hoekom het Gracie my armbandjie teruggestuur?” vra Palesa en sy voel bekommerd en ’n bietjie hartseer. Maar toe Palesa die armbandjie van nader bekyk, sien sy dat hierdie een ’n maan as gelukbringer het.

                                                                                                                                                  

“Dit is die ander armbandjie waarvan Ouma my vertel het!” sê Palesa met ’n breë glimlag. Toe sien sy ook ’n briefie van Gracie. Gracie skryf: Ek het hierdie armbandjie in ons nuwe huis gekry. Ek het dit vir die eienaar probeer teruggee, maar sy het gesê ek kan dit hou as ’n geskenk. Ek stuur dit vir jou om jou te herinner dat ons altyd beste maats sal wees. 

“Dis nou toevallig – en wonderlik,” sê Palesa terwyl sy die armbandjie aansit. Palesa weet dit is ’n teken dat die twee maats vir altyd maats sal wees, al woon hulle ook hoe ver van mekaar af. Hulle is soos die son en die maan, wat elk op hul eie unieke manier lig gee.

Raak doenig met stories!

  • Het jy ’n beste maat? Wat is dit van jou beste maat waarvan jy hou?
  •  Teken ’n prent van jou en jou beste maat wat besig is om te doen wat julle die graagste doen.
  • Skryf en versier ’n brief wat sê hoeveel jy jou beste maat waardeer. Jy kan jou brief begin deur te sê: “Liewe Jabu, dankie dat jy my maat is. Ek waardeer jou want …”