Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Die vlieër

Author

Michelle Friedman

Illustrator

Deur Vian Oelofsen

Translator

Deur Anita van Zyl

“Agge nee!” hyg Motlatsi en Tshepo toe hul swart-en-rooi vlieër op mev. Ntshona se dak beland en om die TV-antenna draai.

“Gou! Ons moet dit lospluk!” skree Tshepo.

Motlatsi gryp die tou en pluk daaraan. Tot sy afgryse knak die TV-antenna, wat al oud is, totdat dit byna aan die teëls op hul bure se dak raak.

“Pa gaan so kwaad wees!” sê Tshepo en bedek sy gesig met sy hande.

“Nie naastenby so kwaad soos mev. Ntshona nie!” antwoord Motlatsi. Hy gryp sy broer en hulle duik agter die motorhuis in. “Kyk! Daar is sy!”

En daar staan mev. Ntshona sowaar buite haar kombuisdeur, hande op die heupe. Die seuns kan sien sy is kwaad. Sy kyk op na die dak en sien die stukkende antenna. Haar oë rek. Sy skud haar kop. Sy frons só, dat haar wenkbroue aan mekaar raak. Sy tik met haar voet op die grond. Haar lippe is ’n reguit lyn.

“Pa het gesê ons mag die vlieër net in die park vlieg, en ons het belowe ons sal!” fluister Tshepo vir sy broer.

“Nou’s ons in groot moeilikheid,” stem Motlatsi saam. “Ons het nie na hom geluister nie! Wat dink jy gaan hy doen?” Hy skop stof op met sy voet.

“Dalk sal Pa ons vlieër vat,” antwoord Tshepo, “of hy sal nie weer vir ons geld gee om lekkers te koop nie.” Hy kyk in sy broer se oë.

Teleurstelling flits oor Motlatsi se gesig. “Heng! Wat nog?”

“Ons het ons belofte verbreek. ’n Belofte is vir altyd.” Tshepo gaan sit met sy kop in sy hande.

“So wat gebeur nou?” vra Motlatsi terwyl hy sy naels byt.

Tshepo krap sy kop. “Pa gaan ons nie weer vertrou nie.”

“Wat beteken dit, Tshepo? Wat is vertroue?” vra Motlatsi.

“Ssjj! Nie so hard nie! Mev. Ntshona gaan ons hoor! Ek dink dit beteken dat hy ons nie weer sal glo as ons hom iets vertel nie,” fluister Tshepo.

“Jy bedoel soos toe ek gesê het ek het my wiskunde deurgekom?” vra Motlatsi, swetend.

“Nee, hy’t dit geglo, want hy het jou rapport gesien,” sê Tshepo.

“Bedoel jy soos as ek vir hom sê ek het roomys vir middagete geëet?” stel Motlatsi voor in ’n poging om te probeer verstaan.

Tshepo skud sy kop. “Nie eintlik nie,” sê hy. “Dit moet iets belangriks wees.”

“Soos toe ek die twee rand wat hy my gegee het, verloor het?” vra Motlatsi. “Ek het vir hom gesê dit het uit my sak geval.”

“Hy’t geweet dis waar, want daar was ’n gat in jou sak,” verduidelik Tshepo.

“Wat dan? Beteken dit Pa sal weggaan en nooit weer terugkom nie? Of gaan hy ons wegstuur?” vra Motlatsi, na aan trane.

Tshepo skud sy kop. “Nooit as te nimmer nie! Pa is lief vir ons! Dis net dat as ’n mens vir iemand belowe dat jy iets nie sal doen nie, dan moet jy dit nie doen nie – nooit nie. En as jy iemand belowe dat jy wel iets sal doen, dan moet jy dit doen sodat die persoon jou kan vertrou. Soos toe jy vir Sibongile belowe het jy sal haar nuwe pen vind, en toe het jy! Sjuut nou!”

Tshepo en Motlatsi loer om die hoek van die motorhuis. Hulle sien hoe mev. Ntshona na haar selfoon kyk. Sy gaan ’n oproep maak.

“Sy gaan vir Pa bel! Ag, nee! Hoe kan ons haar keer?” vra Motlatsi. Hy wil net weghardloop toe Tshepo ’n kans waag. Hy begin na die heining loop, reg op die gevaar af!

“Hallo, mev. Ntshona,” sê Tshepo toe hy by die heining kom. “Ek is so jammer oor u TV-antenna.”

Mev. Ntshona kyk hom op en af met haar mond op ’n plooi getrek. Sy haal vinnig asem. “’n Nuwe antenna is duur, weet jy, Tshepo. Dalk moet jy ’n werk kry en vir my ’n nuwe een koop!” Haar stem klink kwaai.

“My pa gee vir ons sakgeld,” sê Motlatsi en kom staan langs sy broer. “Ons sal ons sakgeld gebruik om vir u ’n nuwe antenna te koop.” Hy wens hy het dit nie gesê nie, maar hy weet hy moes dit doen.

“Regtig?” sê mev. Ntshona en haar stemtoon styg. “Wanneer kry julle jul sakgeld en hoeveel is dit?”

“Ons kry elkeen vyf rand per week,” fluister hulle saam en staan ’n bietjie terug.

“Dis tien rand per week. Ons kan spaar …” sê Tshepo, en sy stem raak sagter. Dit kan lank duur om vir ’n nuwe antenna te betaal en Pa sal uitvind wat gebeur het.
 
Die broers is so besig om hulpeloos na mekaar te staar, dat hulle van mev. Ntshona vergeet. Toe hulle weer na haar kyk, is hulle verras. Mev. Ntshona het ’n sagte, dromerige uitdrukking op haar gesig.

Die seuns hou asem op.

“Kinders, ek het eens op ’n tyd ’n vlieër gehad. Dit was grys-en-pienk. Ek het in my oupa se tuin in Lesotho gestaan en die tou vasgehou. Die vlieër het hoog in die lug gevlieg. Dit het so vrolik gelyk. Ek het die tou laat los. Ek het gekyk hoe dit hoër en hoër vlieg tot ek dit nie meer kon sien nie.”

Sy glimlag vir die seuns. “Tshepo en Motlatsi, dis als reg. Ek sal nie vir julle pa vertel nie. Die ou antenna was in elk geval nutteloos. Ek moes al ’n nuwe een gekoop het. Ek sal die leer gaan haal en dan kan julle opklim en jul vlieër gaan haal.”

Toe sy wegstap hoor die broers haar sê: “Ek het dalk selfs warm sjokolade en koek in die kombuis wanneer julle afkom!”

Die seuns kyk na mekaar en glimlag.

Wees kreatief!

In die storie is daar ’n beskrywing van hoe mev. Ntshona se gesig lyk wanneer sy kwaad is. Moedig jou kinders aan om ’n prent te teken van hoe hul gesigte of ’n maat se gesig lyk wanneer hulle kwaad is.