Die silwer maanmonster | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Die silwer maanmonster

Die silwer maanmonster

Author

Geskryf deur Jenny Robson

Illustrator

Ge.llustreer deur Samantha van Riet

Flossie die veldmuis skarrel so vinnig soos haar kort beentjies haar kan dra deur die gras. “ O, toggie!” snak sy na haar asem. “Ek gaan nooit betyds by die huis wees nie!”

Die son begin al sak. Daar is donker skaduwees oral om haar. “O, toggie! Dis amper nag. En dan gaan die silwer maanmonster na my kom soek!”

Flossie is doodbang vir die maanmonster. Sy het gereeld nagmerries oor hom. Maar nou kan sy nie meer hardloop nie. Haar beentjies is seer, haar bors brand. Sy is net te moeg. Sy gaan staan langs ’n ou boom en kruip tussen die wortels in. Sal sy veilig wees hier?

“Goeienaand!” sê ’n diep stem iewers bo haar.

Flossie kyk op en piep benoud van die skrik. Twee ronde oë staar af na haar. Twee blink pieringoë! Flossie se hart klop doef-doef in haar bors. Enige gedierte met sulke groot oë moet beslis baie, baie groot wees!

 

“Wie is jy?” vra Flossie met ’n bewerige stemmetjie. “Is jy die maanmonster?”

 

Die diep stem lag ’n wollerige lag. “Nee, ek is nie ’n monster nie. Ek is net ’n mot. Noem my Maxwell.”

 

’n Mot!? Flossie kan dit nie glo nie! Watter soort mot het sulke pieringoë? “Is jy ’n reusemot?” vra sy.

 

Maxwell lag weer sy wollerige laggie. “Nog nooit! Dis nie my oë nie,” sê hy. “Daardie blink sirkels is net patrone op my vlerke. Kyk hier!” En Maxwell klap sy vlerke sodat Flossie kan sien hoe die blink, ronde patrone beweeg: op en af, op en af.

 

Maxwell fladder teen die boomstam af, nader na die veldmuis toe. Dit is lekker om iemand te hê om mee te gesels. Snags is daar nie baie gediertes wat buite rondskarrel nie.

 

“Sê vir my,” sê hy. “Hoekom is jy so haastig? Ek het gesien hoe jy so vining soos jou kort beentjies jou kan dra deur die gras skarrel.”

 

“Ek wou voor donker by die huis wees,” sê Flossie. “Maar nou is dit te laat. Dis al nag, en my huis is nog ver weg.” Sy begin klein veldmuistraantjies huil.

 

Maxwell verstaan nie. “Maar hoekom wil jy by die huis wees?” vra hy. “Hoekom wil jy nou binne wees? Goeiste! Die nag is die heel beste tyd. Jy kan kyk hoe die maan agter die heuwels uitkom. Jy kan sien hoe die gras silwer begin lyk. Jy kan die wind deur die blare hoor fluister.”

 

Flossie skud haar kop. “Nee, nee! Die nag is ’n verskriklike tyd. Dis in die nag dat die silwer maanmonster uitkom en gaan jag.”

 

 

“Die silwer maanmonster? Nog nooit van hom gehoor nie!” sê Maxwell.

 

Flossie verduidelik toe: die silwer maanmonster vlieg op silwer vlerke wat breër as ’n boom is. Hy vlieg uit die maanlig uit, en sy donker skaduwee swiep oor die grond. Hy vlieg in vreesaanjaende stilte, op soek na klein muisies. En dan gryp hy hulle met sy skerp kloue en voer hulle weg die donkerte in – vir altyd!

 

Maxwell skud sy kop en lag weer ’n diep, wollerige lag. “A nee a! Dis nie ’n monster nie! Dis net ’n uil. En hy is glad nie silwer nie; hy’s so ’n dowwe bruin kleur. Wie’s nou bang vir ’n vervelige ou uil?”

 

“Nee! Moenie dit sê nie!” piep Flossie benoud. “Dalk jag die silwer maanmonster ook motte!”

 

“Ha!” sê Maxwell selfversekerd. “Ek sal wil sien hoe hy probeer!”

 

Net toe roer iets in die lug bo hulle. Flossie kyk op en sien ’n groot silwer gedaante uit die maanlig op hulle afvlieg. Met die twee reusagtige silwer vlerke wyd uitgesprei, gooi dit ’n donker skaduwee oor die boomwortels.

 

Flossie is te bang om te beweeg. Sy knyp haar ogies styf toe terwyl die swiepgeluid nader ... en nader kom. Sy weet wat volgende gaan gebeur. Al haar ergste nagmerries gaan nou waar word.

 

Skielik is daar ’n harde, aaklige skreegeluid, dan ’n geklap van reusevlerke. En toe stilte.

 

“Jy kan nou maar jou oë oopmaak,” sê Maxwell.

 

Flossie maak haar oë oop en sien hoe die uil oor die boomtoppe verdwyn.

 

“Wat het gebeur?” vra sy verwonderd. “Hoekom het die maanmonster weggevlieg?”

 

Maxwell is baie in sy skik met homself. “Dis die patrone op my vlerke. Die uil het gedink dis oë – nes jy. En nes jy, het hy gedink iemand met sulke groot oë moet reusagtig groot wees. Hy het hom boeglam geskrik, glo my! Het jy gehoor hoe skree hy?”

 

“Hoe slim van jou!” sê Flossie.

 

“Ja, ek is darem slim, of hoe?” knik Maxwell. “Nou kan jy hier naby my kom slaap. Jy sal veilig wees tot die son opkom.”

 

Flossie kruip knus tussen die boomwortels in. Sommer gou is sy vas aan die slaap. En sy droom glad nie van die silwer maanmonster nie. Nie eens een keer nie.

 

* Gebruik leë toiletrolle, papier, gom, tandestokkies en verf of kryte om ’n mot te maak. Knip die vorm van die mot se vlerke uit, kleur dit in en plak dit op die toiletrol vas wanneer dit droog is. Verf die tandestokkies swart en plak dit aan die mot vas om sy voelers te maak