Die diere se geheim
Home | Written stories | Multilingual stories | Die diere se geheim

Written stories

Try our growing collection of stories to print out or read aloud at home with the whole family.

Die diere se geheim

Author

Deur Mbali Nyabane

Illustrator

Illustrasies deur Jiggs Snaddon-Wood

Eendag was daar ’n jong seun en sy naam was Tshego. Hy was baie nuuskierig en ook effens ondeund. Tshego het baie daarvan gehou om nuwe plekke te verken. Hy het vrae gevra oor alles. “Mamma, kan diere hoor? Mamma, verstaan diere wat ons sê? Mamma, kan diere praat? Mamma, hoekom miaau katte?” Hy hou aan vrae vra tot sy ma vir hom sê om buite te gaan speel. Tshego gaan buitentoe en gaan sit langs sy kat, Frisky. Hy staar na Frisky, en Frisky staar terug. Dis amper asof Frisky iets wil sê.“Ek wens ek kon met jou praat en dat jy ook met my kon praat, Frisky,” sê Tshego. Maar Frisky miaau net en draai sy rug op Tshego. Tshego sug diep. Hy wonder hoe dit sou wees as diere kon praat. Dan sou honde wat blaf, katte wat miaau en voëls wat tjirp, presies kon sê wat hulle wil hê. Tshego lag lekker terwyl hy hieraan dink en weet dit sal nooit gebeur nie. “Tshego?” Tshego skrik hom boeglam toe hy sy naam hoor, maar dis net Mamma wat by die deur staan. Sy het haar helderkleurige hoed wat sy buite dra op. Toe onthou Tshego dat hulle gaan kampeer! “Tshego, het jy alles ingepak wat jy nodig het?” vra Mamma. “Ja, Mamma, ek het al gisteraand klaar gepak,” glimlag Tshego.

 

                                                                                                                                                                                         

 

“Dan’s ons reg om te gaan!” sê sy ma. “Ek kan sien jou pa pak die laaste goed in die kar.” Tshego weet hy gaan die kampeerdery geniet. Hy is nuuskierig om meer uit te vind oor al die diere wat naby die kampeerterrein woon. Hulle klim in die kar en terwyl hulle ry, tel Tshego die minute af tot hulle by die kampeerterrein aankom. Die kampeerterrein is pragtig. Dis omring met bome, en Tshego kan nie wag om hierdie nuwe plek te gaan verken nie. “Pappa, kan ek gaan stokke optel vir ’n kampvuuur terwyl jy die tent opslaan?” vra Tshego. “Dis ’n blink plan, maar moenie te ver weggaan nie. Ek wil nie hê jy moet tussen al die bome verdwaal nie,” sê Pappa. “Reg so!” roep Tshego terwyl hy hardloop om stokke te gaan optel. Maar omdat Tshego so nuuskierig en ook effens ondeund is, dwaal hy al hoe dieper in die woud in sonder dat hy dit besef. Hy kyk onder blare, agter rotse en op in die bome om al die diere te sien wat daar woon.

Toe Tshego ’n groot hoop stokke bymekaargemaak het, kyk hy om hom rond en besef … hy het verdwaal! Teen hierdie tyd lyk al die bome dieselfde, en hy weet hy gaan nie weer die pad terug na die kampeerterrein vind nie.

Sommer gou word dit donker, en daar is nie ’n maan in sig nie. Tshego gaan sit, trek sy knieë teen sy bors vas en begin saggies huil. Hoe gaan hy ooit weer sy ouers vind? Toe hoor Tshego fluisterstemme naby hom. Hy hou op huil en kyk rond. Het sy ouers hom opgespoor? Maar dis nie sy ouers nie. Voor hom staan ’n pragtige perd en ’n uil met groot pieringoë. “Wat’s fout, jong man? Hoekom huil jy?” vra die uil. Tshego kan sy ore nie glo nie. Het die uil regtig met hom gepraat? “Jy … jy kan praat?” stamel Tshego. Die uil grinnik. “Natuurlik kan ons praat. Vertel nou asseblief vir ons hoekom jy alleen hier in die donker sit.” “Ek het verdwaal terwyl ek stokke vir ons kampvuur opgetel het,” sê Tshego. “Jy’s seker flou van die honger,” sê die perd. Tshego se maag grom instemmend! “Wag hier dan gaan haal ek vir jou iets om te eet.” En die perd draf weg. Die uil bly by Tshego en hou hom geselskap. Die perd kom terug met ’n tak waaraan groot, rooi appels hang. Tshego verslind twee appels en voel sommer baie beter. “Ek dink ek het jou ouers daar anderkant gesien,” sê die perd. “Kom, klim op my rug, dan vat ek jou na hulle toe.” Tshego klim op die perd se rug, en die uil vlieg tot op Tshego se skouer. Saam stap hulle deur die bome aan.

 

                                                                                                                                                                                          

 

Hulle is sommer gou by die kampeerterrein. Tshego spring van die perd se rug af en sê vir albei die diere dankie dat hulle hom gehelp het. “Sal ek julle ooit weer sien?” vra hy. “Miskien,” antwoord die uil, en die diere verdwyn weer tussen die bome. “Mamma, Pappa!” roep Tshego. Hy hardloop na hulle toe en gee hulle ’n stywe drukkie. Sy ouers lyk bekommerd. “Ek is jammer dat ek so lank weggebly het, maar ek het verdwaal. Gelukkig het ’n pragtige perd en ’n baie gawe uil my na julle toe teruggebring. Het julle geweet diere kan praat?” Tshego babbel sonder ophou! Sy ma en pa is so bly om hom te sien dat hulle net vir mekaar glimlag en vir Tshego nog ’n drukkie gee. ’n Paar dae later is dit tyd om huis toe te gaan. Toe hulle by die huis kom, hardloop Tshego na Frisky toe. “Hallo, Frisky. Het jy na my verlang?” vra Tshego. Frisky strek en miaau saggies. “Ek ken jou geheim,” sê Tshego, “en wanneer jy reg is, kan jy met my praat.” Frisky skuur sy kop teen Tshego se arm en klim op sy skoot. En Tshego weet Frisky het elke woord verstaan!

Raak doenig met stories!

  •   Het jy al ooit op ’n onbekende plek verdwaal? Hoe het jy gevoel? Hoe het jy weer jou gesin gevind?   
  • Dink jy diere verstaan wanneer ons met hulle praat? Hoekom dink jy so?
  •   Kies enige dier. Skryf nou twee vrae neer wat jy vir die dier sou vra as die dier kon praat. 
  •   Skryf ’n nuwe einde vir die storie. Stel jou voor dat Frisky met Tshego praat. Wat sal Frisky sê?