Home | Start reading | Multilingual stories | Waarom die vlermuis snags vlieg

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Waarom die vlermuis snags vlieg

Author

Kgosi Kgosi

Illustrator

Mdu Ntuli

Eendag, lank, lank gelede, was daar ’n bosrot met die naam Legotlo. Legotlo was ’n goeie vriend van Mamanthwane – die vlermuis. Die twee van hulle was altyd saam.  Maar Mamanthwane was jaloers op Legotlo. Legotlo het baie vriende gehad, en almal het meer van hom as van die vlermuis gehou. Legotlo het ook ’n vrou gehad wat baie lief was vir hom. Die vlermuis was jaloers op al hierdie dinge wat Legotlo gehad het. 

 

Legotlo en Mamanthwane het altyd saam geëet. Wanneer die vlermuis gekook het, was die kos altyd heerlik. “Hoe kry jy dit reg om sulke lekker sop te maak?” vra die bosrot. “Ek kook altyd myself in die water, en my vleis is soet. Dis wat die sop so lekker maak,” verduidelik die vlermuis. Maar hy jok.  Mamanthwane bied aan om vir die bosrot te wys hoe hy dit doen. Hy gaan haal ’n pot warm water wat nie warm genoeg is om enigiemand te brand nie, maar hy sê vir Legotlo dat die water kokend warm is. Toe spring Mamanthwane in die pot en spring vinnig weer uit. Toe Mamanthwane die sop opskep, proe dit so lekker soos altyd. Legotlo is verstom. Die vlermuis se plan werk regtig, dink hy. 

Toe hulle klaar geëet het, gaan die bosrot huis toe en vertel vir sy vrou dat hy net sulke lekker sop soos die vlermuis gaan maak. Sy vrou vra hoe hy dit gaan doen. “Dis ’n geheim!” sê Legotlo. Legotlo vra sy vrou om water te kook, wat sy toe ook doen. Toe sy vrou nie kyk nie, spring Legotlo in die pot. Gou kook hy in die water!  “Help my! Help my!” skree hy. “Ek brand!” Die bosrot se vrou hardloop om hom uit te trek, maar die skade is reeds gedoen. Legotlo is so erg verbrand dat hy al sy hare verloor het. Sy vel is rooi en pienk van die warm water. 

 

“Waarom het jy in ’n pot kookwater gespring?” vra sy vrou. 

“Want Mamanthwane het my vertel dat dit is wat sy sop so lekker maak,” sê Legotlo. 

Toe Legotlo se vrou na hom kyk en sien hoe seer hy gekry het, begin sy huil. Sy vat hom dokter toe, maar die dokter kan hom nie help nie. Die dokter sê net dat Legotlo nooit weer hare sal groei nie. Toe Legotlo se vrou hierdie hartseer nuus hoor, word sy baie kwaad! Sy gaan meld die saak by die koning en koningin aan. Hulle beveel al die mense van die dorp om die vlermuis te vind sodat hy gestraf kan word. 

 

Almal daag op om na die vlermuis te soek. Maar Mamanthwane het al klaar gehoor wat aangaan en hy het in die bos gaan wegkruip. Die mense van die dorp soek en soek, maar hulle kan hom nêrens kry nie. 

 

Die volgende dag gaan die mense van die dorp na die bos toe om te sien of hulle Mamanthwane daar kan vind. Hulle is reg – hulle kry Mamanthwane waar hy in ’n boom wegkruip. Hulle wag tot hy slaap, vang hom en vat hom reguit na die koning en koningin toe. 

 

Toe hulle by die koninklike huis aankom, is Legotlo en sy vrou reeds daar. Mamanthwane is skaam om sy vriend, Legotlo, in die oë te kyk. 

“Waarom het jy dit aan my gedoen? Ons was dan beste vriende!” sê Legotlo vir die vlermuis. “Omdat ek jaloers is op jou,” antwoord Mamanthwane. “Jy het alles wat ek nie het nie, en almal is lief vir jou en haat my.” Die mense vandie dorp is geskok oor Mamanthwane se antwoord.  Hulle wonder waarom Mamanthwane nie net vir sy vriend gevra het hoe hy dit regkry dat almal lief is vir hom nie. 

 

Toe sê die koning: “Wel, jy het so pas vir almal ’n rede gegee om jou nog meer te haat.” Die koning en koningin beveel die wagte om Mamanthwane in die trunk te gooi. Die koningin sê: “Vandag sluit ons jou toe! Môre sal ons besluit hoe om jou te straf!” Die volgende oggend toe die wagte Mamanthwane uit sy tronksel gaan haal, is hy nie daar nie. Hy het ontsnap, en niemand weet hoe nie. Legotlo en sy vrou is woedend toe hulle die nuus hoor. Die koning en koningin is ook baie kwaad. Hulle beveel die mense van die dorp om weer na die vlermuis te gaan soek. 

 

Die mense probeer die hele dag lank om vir Mamanthwane te vind, maar hulle kry hom nêrens nie. Mamanthwane het ’n grot ver weg van die dorp gevind, waarvan niemand weet nie. Die grot is moeilik om te vind. Mamanthwane het ook besluit om een van sy gewoontes te verander – van daardie dag af kom hy slegs ná donker uit om te eet. 

En daarom sal jy selfs vandag nog nooit vir Mamanthwane, die vlermuis, in die dag sien nie. Net snags sal jy hom sien rondvlieg.