Towerhare

Author

Mbali Kgame

Illustrator

Magriet Brink and Leo Daly

Translator

Anita van Zyl

Zinhle hou daarvan om op die speelgrond saam met haar maats, Sindi en Zongi, tou te spring. Net een ding pla haar. Wanneer haar maats spring, wip hulle hare op en af, en waai heen en weer. Zinhle het ’n dik bos sagte hare wat groot en rond om haar kop uitwaaier, en dit beweeg nooit soos hulle s’n nie.

Een Saterdagoggend vra Zinhle vir haar ma: “Mamma, hoekom is my hare nie soos my maats se hare nie? Hulle hare waai heen en weer wanneer hulle spring. Dit lyk so mooi! Dit maak my hartseer as my hare nie soos hulle s’n beweeg nie. My hare staan net stil!” “Jou hare is dalk anders as jou maats se hare, maar dit is net so mooi soos hulle s’n!” sê Mamma. Zinhle trek ’n hartseer gesig, maar haar mamma glimlag net vir haar. “Kyk om jou rond, Zinhle,” sê sy. “Jou hare groei van hul wortels af op, soos die bome en plante. Dis ook groot en rond, nes die aarde waarop ons woon. Jy kan daarmee rondspeel en pragtige patrone en vorms daarin maak. Jou hare is towerhare – en dit is spesiaal!”

 

Hierdie woorde maak Zinhle gelukkig. Sy hardloop buitentoe om vir haar maats van haar towerhare te gaan vertel. Maar toe sy vir Zongi en Sindi vertel wat Mamma gesê het, kyk hulle net na mekaar en bars uit van die lag.

“Wat maak jou hare towerhare?” vra Zongi. “Ha-ha-ha!” lag Sindi. “Moenie grappies maak nie, Zinhle! Towerhare? Nooit!”

Zinhle se oë skiet vol trane, maar sy huil nie. Sy wil nie hê Zongi en Sindi moet weer vir haar lag nie.

Net toe sien die meisies hoe Gogo vir hulle waai. Sy staan by die voordeur van haar huis.

“Kyk, Gogo roep ons,” sê Zinhle.

Die drie kinders hou baie daarvan om vir Gogo te help. Sy vertel vir hulle baie stories en elke keer wanneer hulle vir haar gaan kuier, gee sy vir hulle droëvrugte. Daarom hardloop Zinhle, Zongi en Sindi om uit te vind hoekom Gogo hulle roep.

“Ek voel nie vandag lekker nie,” sê Gogo. “Ek wil julle na kwaNtuli stuur om medisyne te gaan haal.”

 

 

 

Die kinders is hartseer om te hoor dat Gogo siek voel en stem in om vir haar medisyne te gaan haal.

“Ek sal vir julle ’n kaart teken sodat julle nie verdwaal nie,” sê Gogo. “Die kaart sal julle na mnr. Ntuli se plek toe lei, en hy sal vir julle kruie gee.” Toe gaan Gogo binnetoe om papier en ’n potlood te gaan haal om die kaart te teken. Sy kyk in haar laai, maar daar is nie papier nie. “Ek sal ’n ander plan moet maak,” sê sy.

Sy kyk goed na elkeen van die meisies. Dan sê sy: “Zinhle, jy het pragtige hare. Dit lyk sterk. Ek sal klein vlegseltjies in rye op jou kop vleg om ’n kaart in jou hare te maak. Die kaart sal julle help om by kwaNtuli uit te kom.”

Gogo gaan sit op haar geliefde rooi stoel, en Zinhle gaan sit op die mat voor haar. Gogo vleg Zinhle se hare. Die ander meisies hou haar met groot belangstelling dop. Terwyl Gogo verskillende patrone kam en vleg, is Zongi en Sindi verstom oor hoe lank Zinhle se hare is.

 

“Sjoe! Jou mamma is reg,” sê Sindi. “Jy HET regtig towerhare! Dit lyk so kort, maar dis langer as wat ’n mens dink!”

“Dis waar,” sê Zongi. “Dis ’n groot verrassing!”

Zinhle glimlag bly vir hulle.

Toe Gogo Zinhle se hare klaar gevleg het, lyk die vlegseltjies net soos ’n kaart om die kinders na kwaNtuli te lei! Terwyl hulle langs die smal paadjies deur die veld stap, gaan staan Zongi en Sindi gereeld en kyk na Zinhle se hare om seker te maak hulle stap nog in die regte rigting. Terwyl hulle stap, sing hulle ’n liedjie wat hulle opgemaak het:

 

“Gogo voel olik,

Gogo voel olik.

Ons gaan na kwaNtuli,

ons gaan kruie haal –

kruie om Gogo gesond te maak!”

Uiteindelik kom die kinders by kwaNtuli aan. Daar gee mnr. Ntuli vir hulle twee sakkies kruie vir Gogo. Op pad huis toe gebruik die meisies weer Zinhle se vlegseltjie-kaart om vir hulle die pad te wys. Toe hulle veilig by Gogo se huis aankom, gee hulle vir haar die medisyne. Die volgende oggend gaan Zinhle, Zongi en Sindi na Gogo se huis toe om te kyk of sy beter voel. Toe hulle daar aankom, is sy besig om haar tuin nat te lei.

“Goeiemôre, meisies,” sê Gogo met ’n breë glimlag. “Ek voel vandag baie sterker, en dis alles aan julle te danke!”

Die meisies is bly om te hoor dat hulle vir Gogo gehelp het, maar hulle dink ook aan iets anders.