There is no price for being kind | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | There is no price for being kind

Written stories

There is no price for being kind

Author

Zahida Wahab

Illustrator

Heidel Dedekind

In ’n dorpie ver, ver hiervandaan, was daar ’n baie arm seun wat skape opgepas het om sy familie te voed. Hy was altyd vriendelik en het sy bure gehelp en was ’n seën vir sy ouma en oupa wat hom grootgemaak het vandat hy ’n klein seuntjie was. Sy naam was Thabo, en almal was lief vir hom.

“Aa! Dankie dat jy by die winkel vir my gaan brood koop het, Thabo” sê mev. Abbas. “Hou maar die kleingeld.”

Maar Thabo weet mev. Abbas het elke sent nodig. “Als reg, mev. Abbas,” sê hy met ’n glimlag. “Vriendelikheid kos niks.”

Op ’n dag bring die boer vir wie Thabo werk, sy nefie Simphiwe huis toe. Simphiwe is netjies aangetrek en praat vlot Engels.

“Thabo, kom ontmoet vir Simphiwe,” sê die boer. “Simphiwe woon in die stad, maar hy kom vir ’n rukkie by ons kuier. Ek hoop julle twee sal goed oor die weg kom en geselskap wees vir mekaar.” Thabo is opgewonde om iemand van sy ouderdom te ontmoet. Hopelik sal hulle goeie maats word.

Maar Thabo se opgewondenheid verander gou in hartseer. Want Simphiwe is onbeskof en arrogant. Hy het geen respek vir sy oom of enige van die ander werkers op die plaas nie. “Hierdie mense is so outyds,” sê Simphiwe, en lag hard vir die mans wat met donkiekarretjies werk toe en huis toe ry. “En hoekom sal enigiemand in elk geval kies om hier in die middel van nêrens te woon?”

Simphiwe weier ook om met die dagtake op die plaas te help. “Ek is ’n geleerde persoon. Dink julle ek gaan skool toe net om hier te kom handearbeid doen? Ek gaan nie enige van hierdie werk doen nie!”  

Eerder as om te help, lê Simphiwe dae lank onder ’n boom en niks doen. Hy weier om te help met ontbyt of middagete of om enige van die take te doen. Thabo is baie teleurgesteld dat ’n seun van sy ouderdom so lui en onvriendelik kan wees. “Ek gaan na die skool op die dorp. Daar leer ons wat die waarde van vriendelikheid en harde werk is. Simphiwe het nie hierdie basiese dinge geleer nie,” dink Thabo. “Hy is dom as hy dink hy kan so deur die lewe gaan.”

Op ’n dag is Simphiwe verveeld en hy besluit om in die bos rondom die plaas te gaan stap. Almal waarsku hom dat dit gevaarlik is, want daar is rondloperhonde wat in die bos woon. Hulle is altyd honger en glad nie vriendelik nie! Maar Simphiwe lag net. “Wat weet julle tog?” sê hy kortaf. “Ek is slim genoeg om na myself te kyk.”

Thabo het saam met die boer gaan voorraad koop. Toe hy terugkom, vertel die werkers hom dat Simphiwe besluit het om alleen in die bos te gaan stap. Thabo gryp dadelik ’n stok en ’n boksie vuurhoutjies en hardloop om na Simphiwe te gaan soek.

“Hy besef nie in hoeveel gevaar hy is nie,” fluister Thabo by homself terwyl hy so vinnig moontlik deur die bos beweeg. “Die ander het vir my gesê om die onbeskofte stadsjapie te los sodat hy ’n les kan leer, maar ek wil nie hê hy moet iets oorkom nie. Dit gaan nou-nou donker wees, en die bos is ’n gevaarlike plek, veral vir ’n seun soos Simphiwe wat nog nooit uit die stad was nie.”

Thabo soek al ’n hele ruk voor hy skielik ’n geskreeu hoor wat hom laat skrik. Hy hardloop in die rigting waarin hy die geskreeu gehoor het en sien vir Simphiwe in die middel van ’n trop rondloperhonde staan. Die honde wys hulle skerp tande en maak gereed om hom te bespring. Thabo moet vinnig dink. Hy steek die stok wat hy saamgebring het, aan die brand en storm op die honde af.

’n Ruk lank dreig die honde nog om die seuns te bespring, maar uiteindelik draai hulle om en draf weg.  

Simphiwe bewe van vrees. Hy het sy enkel geswik toe hy van die honde probeer weghardloop het en loop hinkepink. Thabo is sterk van al die harde werk op die plaas en daarom dra hy vir Simphiwe die hele pad terug tot op die plaas.

’n Paar dae later is Simphiwe weer op die been, maar iets aan hom is anders. Hy is vriendeliker en spog nie meer so baie nie. Hy is stiller en het meer respek vir sy oom en al die werkers. Toe hy vir Thabo sien, sê hy vir hom dankie dat hy sy lewe gered het en wil vir hom sy selfoon gee as ’n teken van sy dankbaarheid, maar Thabo weier om hierdie geskenk te aanvaar. Hy glimlag net en sê: “Vriendelikheid kos niks,” en gaan voort om die donkiekar te was.

 

[Get story active!] Raak doenig met stories!

 

  • Teken ’n prent om hierdie gedeelte van die storie te illustreer: Almal waarsku hom dat dit gevaarlik is, want daar is rondloperhonde wat in die bos woon. Hulle is altyd honger en glad nie vriendelik nie! Maar Simphiwe lag net.
  • Lees weer die storie. Maak ’n lys van al die verskillende karaktereienskappe wat Thabo het en maak ’n aparte lys van Simphiwe se karaktereienskappe. Begin so: Thabo is … Simphiwe is …
  • Lees jou twee lyste – die lys oor Thabo en die lys oor Simphiwe – hardop. Gebruik jou stem om die woorde op jou lys te sê sodat jy die betekenis van die woorde met jou stem oordra.