Prins Suiker en Awande, die bakker | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | Prins Suiker en Awande, die bakker

Written stories

Prins Suiker en Awande, die bakker

Author

Deur Ayanda Hlatshwayo

Illustrator

Illustrasies deur Chantelle en Burgen Thorne

Daar was eendag ’n prins met die naam Suiker. Prins Suiker is so genome omdat hy so lief was vir soetgoed, soos koek, koekies, terte, oliebolle en poeding. Prins Suiker was ’n bedorwe brokkie en wou nooit enige van sy soetgoed met die kinders van die dorp deel nie.

“Niemand eet van my koek nie! Verstaan jy, Mary? Dis die wet!” sê Prins Suiker vir die koninklike bakker. “Die koek, koekies en terte is alles myne, net myne.”

Op ’n dag kom ’n raaiselagtige nuwe bakker in die dorp aan. Sy begin vir al die kinders koek en koekies uitdeel. Toe Prins Suiker hiervan hoor, is hy woedend, en hy stuur sy wagte om die bakker te arresteer en na hom toe te bring.

“Hoe durf jy in my dorp inkom en lekkernye vir die kinders begin uitdeel. Dis teen die wet!” skree Prins Suiker woedend.

“Ek vra opreg om verskoning, u Hoogheid. Gee my asseblief ’n kans om my fout reg te stel deur net vir u te bak,” antwoord die bakker, wie se naam Awande is. “Ek sal elke dag vir u ’n nuwe soet lekkerny bak. Die soetgoed wat bak, is baie spesiaal. U moet die hele lekkerny binne ’n dag opeet.”

“Natuurlik sal ek elke dag ’n soet lekkerny kan opeet!” sê die prins gulsig.

“Dan is dit reg so,” antwoord Awande met ’n glimlag.

Elke oggend kry Prins Suiker ’n varsgebakte soet lekkerny, wat hy verorber. Namate die dae verbygaan, lyk dit of die soetgoed al hoe lekkerder en groter word. Prins Suiker is baie gelukkig, en hy eet al die heerlike koek, koekies en terte op sonder om ’n krummeltjie met die kinders van die dorp te deel.

Maar namate die soetgoed al hoe groter raak, begin Prins Suiker al hoe meer sukkel om dit op te eet. Hy moet dit op ’n geheime plek in die paleis wegsteek sodat Awande nie uitvind dat hy nie elke dag al die soetgoed opeet nie.

Ná ’n paar weke moet Prins Suiker soveel soetgoed wegsteek dat niks meer in sy geheime wegsteekplek kan pas nie. Hy roep toe sy diensknegte en vir Mary, die koninklike bakker, en beveel hulle om van die soetgoed weg te gooi.

“Maak seker Awande sien nie dat julle dit doen nie,” beveel hy.

Die volgende oggend dra Mary en die diensknegte die oorskiet tot diep in die woud agter die paleis. Maar toe gebeur ’n vreemde ding: daardie aand, terwyl almal slaap, verskyn al die soetgoed wat in die woud weggegooi is, weer in die paleis!

Die volgende oggend kom Awande, die bakker, met ’n varsgebakte soet lekkerny aan en vra om Prins Suiker te sien.

“Het u gedink ek sal nie weet as u my soetgoed weggooi nie? Het u nie ingestem om elke dag alles wat ek daardie dag stuur, teen die einde van dieselfde dag op te eet nie? Ek het u aan die begin gewaarsku dat my lekkernye spesiaal is en dat u elkeen sal moet opeet,” sê Awande kwaai.

Prins Suiker begin effens bang voel en hy voel ook effens naar op sy maag, maar hy eet en eet tot hy al die oorskiet opgeëet het en ook dit wat Awande met haar saamgebring het.

“Ek geniet nie meer die soetgoed nie,” sê Prins Suiker die volgende oggend toe Awande met die soet lekkerny vir die dag daar opdaag.

“Belofte maak skuld, u Hoogheid,” sê Awande.

Die prins lyk hartseer. “Wat kan ek doen om te keer dat jy elke dag vir my soetgoed bak?” vra Prins Suiker.

“U naam is Prins Suiker omdat u so lief is vir soetgoed. En tog is dit as gevolg van u wette dat ander kinders nie soetgoed ken nie,” antwoord Awande. “Daarom moet u eet en eet tot die kinders se monde soet word.” Daarmee draai die bakker om en stap uit die paleis uit. Maar sy laat ’n heerlike, groot koek agter wat Prins Suiker moet opeet.

Prins Suiker dink en dink oor wat Awande gesê het, maar hy verstaan nie. Hoe kan die kinders se monde soet word as hy die enigste een is wat Awande se soetgoed eet? Die prins gaan stap toe in die tuin, waar dit baie stil is. Hy moet aan ’n manier dink om Awande te keer om elke dag vir hom soetgoed te bring.

Terwyl hy stap, vlieg ’n sokkerbal oor die hoë tuinmuur en beland in die bosse. Daarna klim ’n verslonsde seuntjie oor die muur om die bal te kom haal. Toe hy vir Prins Suiker sien, skrik hy hom boeglam.

“Ek is so jammer, u Hoogheid. Ek het net die bal kom haal,” sê die vreesbevange seuntjie.

Prins Suiker is so besig om aan ’n plan te dink om nie meer die soetgoed te kry nie dat hy vergeet om kwaad te wees.

“Voor jy jou bal gaan haal,” sê hy, “vertel asseblief vir my wat jou mond soet sal maak.”

“Goed met suiker in, u Hoogheid,” sê die seuntjie skamerig. “Koek en oliebolle en koekies – al die goed wat ons nie mag eet nie.”

Die seuntjie lyk so hartseer wanneer hy dit sê dat Prins Suiker skielik skaam kry. Vir die eerste keer sien hy hoe selfsugtig hy is. Hy het soveel soetgoed dat hy dit nie meer geniet nie, maar die kinders van die dorp het baie lank al geen soetgoed om te eet nie.

Die prins gaan vinnig terug in die paleis in en laat roep Awande.

“Awande,” sê hy, “ek was selfsugtig en simpel. Ek wil graag vir die mense van die dorp ’n partytjie hou. Bak asseblief jou soetgoed ook vir die kinders en hul ouers. Van vandag af mag almal soetgoed eet as hulle wil.”

Awande glimlag. “Met plesier, u Hoogheid!” sê sy, en sy bak die mooiste en heerlikste koeke, koekies en terte wat die mense van die dorp nog ooit gesien of geproe het. En hulle eet en eet tot hulle versadig is.

Die volgende oggend is daar geen teken van Awande, die bakker, nie. Prins Suiker gaan voort om vir die mense van die dorp partytjies te hou – maar nou is hy en Mary self die bakkers.