Nomsa kyk hoe haar ousus, Mandisa, ’n string krale inryg. Hul ma roep uit die kombuis: “Mandisa, sal jy asseblief gou winkel toe gaan.
Hier is die inkopielys.” Mandisa lees die inkopielys: “Brood, margarien, grondboontjiebotter, appelkooskonfyt, meel, eiers, suiker, melk, tee en sout.
Ek gaan twee inkopiesakke hiervoor nodig hê.” Nomsa spring op en af. “Kan ek ook saamkom? Kan ek asseblief saamkom?” Sy het geld gespaar.
Sy is dol oor die groot, ronde oranje lekkers by die winkel. “Moet jy regtig?” sug Mandisa. Sy is twaalf en Nomsa is ses en soms raak sy moeg vir haar
kleinsus wat soos ’n stertjie al agter haar aanloop. “Jy sal my dan moet help dra.” “Ek sal, ek sal!” belowe Nomsa. “Lees weer die lysie,
ek wil hoor wat ons moet koop.”“Brood, margarien, grondboontjiebotter, appelkooskonfyt, meel, eiers, suiker, melk, tee en sout,”
lees Mandisa terwyl Nomsa die items op haar vingers aftel. Tien items, een vir elke vinger. Nomsa kan nog nie lees nie, maar sy kan baie goed onthou.
Die susters stap uit straat toe. Die wind waai omtrent! Dit laat hul klere om hulle wapper en waai die rommel in die straat al om hul voete.
Toe hulle by mev. Ngubane se motorhuis verbystap, sien hulle vir Fezeka en Phumla wat hul hare laat vleg. Mev. Ngubane is baie goed met hare vleg.
Fezeka en Phumla is Mandisa se beste maats. “Sjoe, julle lyk so goed!” sê. Mandisa toe sy in die haarsalon ingaan om na die nuwe manier van hare vleg te kyk.
Dit lyk regtig pragtig. “Jy’t ’n nuwe hemp aan,” sê Mandisa vir Fezeka. Sy buk om met haar vingers aan die materiaal te vat. “Waar het jy dit gekry?”
Nomsa sug. Sy is haastig om by die winkel te kom. Maar al waaraan Mandisa deesdae kan dink, is klere en hare en skoene. “Ek is mal oor jou nuwe krale,
Phumla!” sê Mandisa en buk om aan haar maat se nuwe krale te vat. En toe, ô-ô! Die wind skep die inkopielys uit Mandisa se hand! Dit vlieg oor die muur,
dan oor die dak langsaan. Dit is weg, weg, weg! Heeltemal skoonveld! “Nou’s ek in die moeilikheid,” sê Mandisa, met haar hand voor haar mond.
“Ek sal moet huis toe gaan en vir Mamma ’n nuwe lysie moet vra en sy gaan baie kwaad wees!”
“Jy hoef nie! Ek kan onthou wat op die inkopielys was,” sê Nomsa en spring op en af. “Ek kan alles onthou.”
Sy hou haar hande in die lug en tel die items op haar tien vingers af. Elke vinger is iets op die inkopielys. “Brood, margarien, grondboontjiebotter,
appelkooskonfyt, meel, eiers, suiker, melk, tee en sout!” sê sy. Mandisa lyk verbaas. “Mooi so, Kleinsus! Ek is bly jy het saamgekom.
Kom ons gaan gou winkel toe om daardie goed te gaan koop. Anders gaan Mamma ongelukkig wees.” Toe hulle by die Mambhele Kontantwinkel kom,
vra Mandisa vir al die dinge wat Nomsa op haar tien vingers onthou het, en sy pak dit in die inkopiesakke.
Nomsa staar na die groot fles oranje lekkers en die fles jellielekkers naby die kasregister. Sy haal haar geld uit en gee dit vir Mandisa.
Sy wys na die lekkers wat sy wil hê en Mandisa koop dit. Mandisa sit nog ’n rooi suigstokkie ook by.
“Dit is omdat jy gekeer het dat ek in die moeilikheid beland,” sê Mandisa. “Ek weet jy hou van rooi suigstokkies.”
Hulle dra elkeen ’n inkopiesak huis toe en Nomsa suig aan haar rooi suigstokkie.
By die huis pak hulle die inkopiesakke op die kombuistafel uit en Mandisa vra: “Mamma, kan ek vanaand pannekoek bak vir aandete?”
Sy weet Nomsa hou van pannekoek. “Ja,” sê haar ma. “Ek het baie merkwerk vir die skool om vanmiddag te doen. Dit sal regtig baie help as julle aandete maak.”
Nomsa en Mandisa meng die meel, eiers, melk, suiker en ’n knippie sout vir die pannekoek. Hulle laat die beslag vir ’n uur staan.
Toe bak hulle pannekoek, en nog pannekoek. Die kombuis ruik heerlik! Toe Pappa by die huis kom, stap hy reguit kombuis toe.
“My neus vertel vir my ons eet pannekoek vir aandete! En ek sien my twee meisiekinders is die kokke. Watter vulsel gaan julle maak?” vra hy.
“Daar het van gister se maalvleis oorgebly. Ons kan dit gebruik,” sê Mandisa. “En daar’s appelkooskonfyt.
Appelkooskonfyt is die lekkerste lekker in die hele wêreld!” sê Nomsa en hop op en af. “Ek stem saam,” sê Pappa en lag.
Toe Mamma in die kombuis inkom, klap sy haar hande. “Mooi so, meisies!” sê sy. Die pannekoek is heerlik.
“Ek kan die bestanddele vir die resep onthou,” sê Nomsa. Sy hou haar hand op en tel dit op haar vyf vingers: “Meel, eiers, melk, suiker en ’n knippie sout!”
Haar pa lag en klop haar op die skouer. “My slim meisiekind!” sê hy. “Dalk moet ek ook my vingers gebruik om dinge te onthou!”