Elke jaar in Desember is dit tyd vir die Kwanzaa-fees – ’n tyd wanneer families bymekaarkom en kos en geskenke met mekaar deel. En elke jaar staan Khwezi, Lubo en Malaika voor dagbreek op en gaan af rivier toe. Op pad sing hulle pragtige liedjies en pluk braambessies. Die drie meisies is altyd baie opgewonde, want op hierdie dag wag die waterprinses, Nobukhwebezane, vir hulle by die rivier. Wanneer hulle nader kom, kan hulle haar pragtige stem hoor:
“Mense van Afrika staan op … dis tyd vir Kwanzaa!
Ons gee vir mekaar pragtige geskenke … wys liefde vir mekaar!
Bring vrugte, vleis en amahewu.
Kom ons eet en vier saam fees … wys liefde vir mekaar!”
Die meisies sit op die rivierwal en luister na die lied. Dan, wanneer die son opkom, gee Nobukhwebezane vir hulle mandjies vol groente en vrugte om na hul dorpie terug te neem.
“Mooi bly, Waterprinses!” roep hulle terwyl hulle huis toe hardloop sodat die mense van die dorpie ’n feesmaal vir die viering van Kwanzaa kan voorberei.
Maar iets pla altyd vir Nobukhwebezane. “Ek wonder hoekom daardie meisies nooit vir my dankie sê wanneer hulle die mandjies met vrugte en groente vat nie?” wonder sy terwyl sy alleen daar sit.
Terug in die dorpie kom almal met hul helder, kleurvolle klere by die hoofman se huis bymekaar. Buiten die vrugte en groente wat hulle by die waterprinses gekry het, bring die dorpenaars graan en vleis, en hulle maak saam kos terwyl die kinders speel.
Wanneer die dorpenaars klaar geëet het, gee hulle vir mekaar geskenke en sing en dans. Die ouer mense maak beurte om hul gunstelingvolksverhale te vertel.
Een jaar, toe dit weer tyd is vir Kwanzaa, word Khwezi, Lubo en Malaika wakker en haas hulle hulle soos gewoonlik na die rivier terwyl hulle sing en langs die pad braambessies pluk. Toe hulle naby die rivier kom, besef hulle iets is fout. Hulle kan nie vir Nobukhwebezane hoor sing nie.
“Slaap Nobukhwebezane dalk nog?” wonder Malaika.
“Miskien voel sy siek,” stel Khwezi voor.
“Dalk het sy vergeet dat Kwanzaa vandag begin,” sê Lubo.
Toe hulle by die rivier kom, is daar geen teken van Nobukhwebezane nie.
Skielik verblind ’n helder lig hulle. Toe sê ’n harde, vreesaanjaende stem: “Enigiemand wat iets kry, moet dankie sê daarvoor! Dit is goeie maniere!” Toe verdwyn die lig en al wat hulle kon sien is die opkomende son agter die heuwels in die verte. Die meisies voel baie sleg toe hulle besef wat hulle vergeet het om te doen.
“Ons sê nooit vir Nobukhwebezane dankie vir die geskenke vir Kwanzaa nie! Ons maak altyd net dat ons wegkom,” sê Lubo hartseer.
Met swaar harte begin hulle stadig terugstap huis toe.
“Wat gaan ons sê wanneer ons met leë hande in die dorp aankom?” vra Malaika.
Khwezi draai na haar maats toe en sê: “Ons moet teruggaan en vir die waterprinses sê ons is jammer.”
“Maar Nobukhwebezane wil niks met ons te doen hê nie. Sy wil ons nie sien nie!” sê Lubo hopeloos.
“Ek stem saam met Khwezi,” sê Malaika. “Ons moet teruggaan en om verskoning vra. Selfs al is Nobukhwebezane nie daar nie kan ons vir haar ’n boodskap by die visse los.”
“Dis ’n goeie plan,” sê Lubo en begin beter voel. “Ek weet, ons kan op pad rivier toe braambessies pluk en dit vir Nobukhwebezane as ’n geskenk gee.”
Die drie meisies pluk ’n sak vol braambessies. Toe hulle terughardloop rivier toe glimlag hulle weer. Toe hulle nader kom, hoor hulle die soet klanke van die lied wat hulle so goed ken:
“Mense van Afrika staan op … dis tyd vir Kwanzaa!
Ons gee vir mekaar pragtige geskenke … wys liefde vir mekaar!
Bring vrugte, vleis en amahewu.
Kom ons eet en vier saam fees … wys liefde vir mekaar!”
“Nobukhwebezane is terug! Die waterprinses is terug!” roep hulle en hardloop na die rivierwal toe.
Nobukhwebezane sit op ’n rots naby die rivierwal en sy glimlag.
“Prinses, ons is regtig jammer dat ons nooit vir jou dankie gesê het vir die vrugte en groente wat jy ons persent gegee het nie!” sê Malaika.
“Ja, Nobukhwebezane, ons vra om verskoning. Vergewe ons, asseblief,” smeek Khwezi.
“Kwanzaa is ’n tyd om geskenke te gee. Vandag het ons vir jou ’n geskenk gebring!” sê Lubo en steek haar hand na Nobukhwebezane toe uit en gee vir haar die sak braambessies.
Nobukhwebezane kyk in die sak en glimlag. “Hierdie braambessies lyk heerlik. Dankie, my vriende!”
“Ons is so dankbaar, Prinses, vir die geskenke wat jy elke jaar tydens Kwanzaa vir ons gegee het. Dankie,” sê Malaika skamerig.
“My vriende, … Kwanzaa is ’n tyd om te gee, ’n tyd van vreugde, vrede en liefde! Kom nader, ek wil vir julle ’n nuwe liedjie leer!” Toe sing Nobukhwebezane:
“Wees altyd dankbaar, wees altyd lief vir ander en jy sal beloon word!
Wees altyd dankbaar, wees altyd lief vir ander en jy sal beloon word!
Wees altyd dankbaar, wees altyd lief vir ander! Dit is goeie dinge!”
“Hardloop nou huis toe,” sê sy. “Dit word laat! Hier is die mandjies vrugte en groente. Dit staan gereed vir julle.”
“Dankie, Waterprinses. Dankie, Nobukhwebezane!” sê die meisies.
“Mooi loop! Gelukkige Kwanzaa!” roep Nobukhwebezane.
“Vir jou ook, Prinses! Dankie!” roep die meisies.
Toe die meisies by die huis kom, wag die dorpenaars al vir hulle. “Dankie, meisies. Dit lyk of julle meer vrugte en groente as ooit tevore gebring het. Dankie!” sê die hoofman van die dorpie.
Toe die meisies dit hoor, kyk hulle na mekaar … en glimlag. Hulle weet Nobukhwebezane het hulle vergewe. “Dankie, Prinses,” fluister hulle.
[Get story active!] Raak doenig met stories!
- Neem jou gesin of gemeenskap deel aan ’n viering wat eie aan Afrika of Suid-Afrika is? Wat word dit genoem en wat word gevier?
- Watter soort vrugte en groente het julle dikwels by julle vieringe? Teken van hierdie vrugte en groente.
- Maak jou eie liedjie op waarin jy dankie sê vir die goeie dinge wat jy elke dag ontvang.