Matty en die towerappelboom
Home | Written stories | Multilingual stories | Matty en die towerappelboom

Written stories

Matty en die towerappelboom

Author

Deur Bradley Paulse

Illustrator

Illustrasies deur Natalie en Tamsin Hinrichsen

Eendag was daar ’n jong vrou met die naam Matty. Sy het op ’n klein plasie gewoon waar die grond hard was en die werk swaar. Maar Matty was geen gewone boer nie. Sy het vasberade in die warm son geswoeg om genoeg groente te kweek om by die besige mark daar naby te verkoop.

Toe haar groente reg is om geoes te word en sy meer as genoeg het om te deel, pak Matty haar mandjie en gaan mark toe met haar wange wat gloei van opgewondenheid. “Vandag gaan ek al hierdie groente verkoop en dalk vir myself ook iets lekkers koop,” sê sy.

 

                                                                

 

Matty se gunstlinghappie wag by die mark vir haar. Dit is appels – groot, sappige, heerlike appels. Sy kan nie die heerlike, soet appels weerstaan nie. Dit is haar beloning vir al haar harde werk.

By die vrugtestalletjie ontmoet Matty ’n vriendelike ou dame met blosende wange soos ryp appels. Haar oë glinster terwyl sy kyk hoe Matty in verwondering na die kleurvolle vrugte staar.

Matty se gedagtes spring heen en weer terwyl sy wonder watter appels sy vir haar gebak moet koop. “Rooi appels, heerlik vir ’n koek,” sê Matty hardop toe sy ’n rooi appel optel. “En dalk ’n paar Granny Smith-appels vir ’n appeltert, en ’n paar Honey Crisp-appels vir kolwyntjies. En beslis ’n paar Golden Delicious-appels vir ’n warm krummelappeltert.” Matty pak die appels in haar mandjie terwyl sy elke soort appel opnoem.

Die ou dame lag stilletjies. Sy hou haar hand uit en gee vir Matty ’n goue appel. “Enigiemand wat so baie van appels hou, verdien ’n spesiale lekkerny. Vat hierdie spesiale appel vir jou. Dit sal jou altyd gelukkig maak,” sê die ou dame.

“Baie dankie,” sê Matty dankbaar. Die goue appel is groter en mooier as enige ander appel wat sy nog ooit gesien het. Sy kan nie wag om by die huis te kom en dit te eet nie.

Toe die son agter die heuwels sak, gaan Matty terug na haar plaas toe. Sy sorteer en was al die appels sorgvuldig en neurie vrolik terwyl sy werk. Sy sal al die heerlike eetgoed bak waaraan sy gedink het, maar sy hou die spesiale goue appel eenkant om as ’n spesiale lekkerny te eet.

Toe Matty al die appels gesorteer en gewas het, tel sy die spesiale goue appel op. “Nou vir my spesiale lekkerny,” sê sy. Maar net toe sy ’n happie wil vat, steek ’n piepklein koppie by ’n gaatjie in die appel uit.

“Moet my nie eet nie!” piep ’n wurm.

Van pure verbasing laat val Matty die appel. “Wat op aarde?” hyg sy.

Die wurm wriemel uit die appel uit, sy oë so groot soos pierings en vol spyt. “Ek is jammer dat ek aan jou appel geknibbel het, maar dit smaak so lekker!” sê hy.

Matty kan nie besluit of sy moet kwaad wees of nie. Die ou dame het gesê die appel sal haar altyd gelukkig maak, maar nou is sy nie meer so seker nie.

Uiteindelik sug Matty en sê: “Klein wurmpie, jy is gelukkig dat ek vandag in ’n goeie bui is. Kom ek begrawe jou appel in die agterplaas sodat jy dit in vrede kan eet, sonder dat die voëls jou pla.”

Toe Matty die appel in die gat sit wat sy in die grond gemaak het, sê die wurm: “Totsiens, Matty. Ek belowe om jou te vergoed omdat jy so gaaf is.” Matty wuif totsiens en gaan terug om verder te gaan bak.

Die volgende oggend, toe die eerste sonstrale die lug verkleur, word Matty wakker van die soetste reuk wat sy nog ooit geruik het. Sy hardloop buitentoe en haar mond val oop van verbasing. Voor haar oë staan ’n reusagtige appelboom, die takke swaar belaai met die pragtigste appels wat sy nog ooit gesien het.

 

                                                

 

Matty dans om die boom, en haar lag klink saam met die voëls se gekwetter op. Sy pluk die appels een vir een en staan verstom oor die wonderwerk wat oornag gebeur het.

Daardie aand gaan Matty terug na die boom toe en sit ’n varsgebakte kolwyntjie by die boom se wortels neer. “Dankie,” fluister sy. “Die ou dame was toe al die tyd reg, want hierdie boom sal my regtig altyd gelukkig maak!”

 

[Get story active!] Raak doenig met stories!

Wat is jou gunstelingvrug? Teken ’n prent daarvan. Skryf die volgende sin onder jou prent: “My gunstelingvrug is …” Jy kan iemand vra om jou te help om jou sin te skryf.
Maak ’n lys van al die dinge wat jy met jou gunstelingvrug kan maak. Dit kan iets wees wat jy kan bak of kook, ’n sap of ’n koue poeding.
Dink oor die reuk, smaak, vorm en kleur van ’n appel of enige ander vrug. Dink oor die geluid wat dit maak wanneer jy dit byt. Skryf nou ’n gedig oor die vrug.