Krokodil se begrafnis
Home | Written stories | Multilingual stories | Krokodil se begrafnis

Written stories

Krokodil se begrafnis

Author

Kai Tuomi

Illustrator

Samantha van Riet

Translator

Anita van Zyl

Al die diere weet dat Krokodil ’n groot hoop goud in haar huis het, maar nie een van hulle het dit al ooit gesien nie, want Krokodil is naar en gemeen. Sy sal hulle wegjaag en hulle met haar skerp tande byt. Een warm somersdag stap Aap langs die rivier toe hy Krokodil in die son sien lê. Aap, wat baie stout is, tel ’n stok op en steek Krokodil in haar sy. Krokodil roer nie, en Aap steek haar weer.

“Sy moet dood wees,” sê Aap. Hy hardloop om vir die ander diere te gaan vertel. Al die diere kom bymekaar om vir Krokodil ’n begrafnis te hou. Hulle staan om haar en gesels. Hulle wil weet wie Krokodil se groot hoop goud gaan erf. Natuurlik wil almal die goud hê, maar die wet van die bosveld sê dat die goud aan Krokodil se familie behoort. En dis die probleem – niemand weet wie Krokodil se familie is nie. Wyse Skilpad roep toe die diere op die rivierwal bymekaar om uit te vind. Eers staan die voëls, met hul kleurvolle vere en pragtige stemme, op om te praat. “Ons moet die familielede van ons dierbare moeder Krokodil wees,” sing hulle almal saam. “Selfs al was Krokodil nie so mooi soos ons nie, het sy groot eiers in die sand gelê. Ons verdien haar groot hoop goud.” Die ander diere skree: “NEEE!” en die voëls gaan sit.

 

“Dis baie waar,” sê Skilpad. “Krokodil het groot eiers in die sand gelê. Het enigiemand anders iets hieroor te sê?” Die akkedisfamilie staan op en sis vir die voëls. “Dis twak,” sê die leier van die akkedisse. “Ek ken baie akkedisse wat ook eiers lê, en ons is glad nie voëls nie. Krokodil was ’n lid van ons familie, want haar vel is ook vol skubbe. Ons verdien die groot hoop goud.” Die ander diere skree: “NEEE!” en die akkedisse gaan sit. “Dis ook baie waar,” sê Skilpad. “Krokodil het ’n skubberige vel. Het enigiemand anders iets hieroor te sê?” Daar is ’n plons in die rivier, en vier blou koppe verskyn bo die water. “Ons gee nie om of sy eiers gelê het of skubberige vel het nie,” sê die visse. “Ons het ook skubbe, en ons het elke dag vir Krokodil onder die water sien swem. Sy was net ’n vis, soos ons. Ons verdien die groot hoop goud.”

 

“O, nee, dis nie waar nie,” sê die leier van die akkedisse. “Kyk net hoe sy daar lê. Sy het vier bene. Wys vir my ’n vis met vier bene.” “Maar sy’t geswem,” sê die visse. “Wag!” sê Springbok. “Krokodil het vier bene. Al die wildsbokke het ook vier bene, so sy moes ’n wildsbok gewees het. Ons verdien die groot hoop goud.” “Maar julle lê nie eiers nie,” sing die voëls. Die visse plas in die rivier rond en spat die voëls vol water. Die voëls vlieg op en fladder rond. “Waarom het julle dit gedoen?” vra een van die voëls. “As julle regtig familie van Krokodil was, sou julle van water gehou het,” sê die visse. “Buitendien, het julle ooit vir Krokodil sien vlieg?” En sommer gou baklei al die diere van die bosveld onder mekaar. “Stop, almal! Stop!” sê Skilpad, maar niemand luister na hom nie.

 

Skielik voel Skilpad hoe iemand hom op die skouer tik en hy draai om. ’n Verskriklike ding kyk af na hom. Dit het groot oë en baie skerp tande. Dis Krokodil! “Ek dag jy is dood,” sê Skilpad, en bewe binne-in sy dop. “Ek het geslaap,” sê Krokodil met haar diep stem. “Maar die lawaai het my wakker gemaak.” Skilpad mompel ’n verskoning en skarrel weg in die bosveld in. Krokodil draai na die ander diere. “Haai!” skree sy. Hou nou op baklei en bly stil. Hulle kyk met groot oë na Krokodil.

“Dis beter,” sê Krokodil. “So julle wil almal my goud hê, nie waar nie? Wel, eers wil ek graag aandete eet saam met my ware familielede. Wie wil bly vir ’n smaaklike ete?” vra Krokodil en lek haar lippe af. “Die voëls is jou familie,” sê die visse en swem vinnig weg. “O, nee, die wildsbokke is,” sê die voëls en vlieg tot in die boomtoppe. “Hulle het vier bene.” Maar die wildsbokke het klaar in die bosse verdwyn. “Wel,” sê die akkedisse, “dan bly net ons oor. Moet ons asseblief nie opeet nie, Krokodil.” “Julle opeet?” sê Krokodil met ’n glimlag. “Hoekom sal ek my eie familie opeet? Kom, akkedisse, kom ons gaan eet.”

Die akkedisse volg vir Krokodil na haar hut waar hulle maroelakoek eet en heerlike fonteinwater drink en grappe vertel en lag tot dit donker word buite. En van daardie dag af weet al die diere dat die akkedisse Krokodil se regte familie is, en dat hulle haar groot hoop goud sal erf wanneer sy eendag regtig doodgaan.