Jy’s te klein | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Jy’s te klein

Jy’s te klein

Author

Deur Dorothy Dyer

Illustrator

Illustrasies deur Magriet Brink en Leo Daly

Mamma Tau is op pad huis toe! Sy was lank weg om te gaan studeer en haar familie het na haar verlang. Almal is baie opgewonde. Maar Thapelo, haar jongste kind, is meer opgewonde as al die ander.

Op die dag dat Mamma Tau huis toe kom, is haar familie die hele oggend besig om reg te maak daarvoor. Die son skyn. Thapelo skop sy bal op die gras. Hy wil vir sy ma wys hoeveel beter hy sokker kan speel as toe sy hom laas gesien het. “Vang dié een, Bless,” roep hy vir die hond. Maar Bless kyk net vir die bal en loop binnetoe.

Thapelo volg die hond en gaan soek sy ouer suster, Refilwe. Refilwe is ’n platejoggie. Sy is so cool dat sy haar sonbril selfs in die huis dra. Refilwe is in haar kamer, besig om musiek te kies wat sy wil speel wanneer Mamma by die voordeur instap. “Ek gaan niks van daardie rapmusiek speel waaroor sy altyd so kla nie,” sê Refilwe. “Vandag gaan ons net jazz luister. Nes Mamma daarvan hou.” Sy haal haar sonbril af en knipoog vir Thapelo. “Dalk kan jy met Mamma dans.”

Dan sit Refilwe haar oorfone op en begin haar kop op maat van die musiek knik.

“Kan ek jou help?” vra Thapelo.

“Wat?” sê Refilwe en haal haar oorfone af. “Wat het jy gesê?”

“Kan ek jou help?” skree Thapelo.

“Jy hoef nie so te skree nie,” sê Refilwe. “Ek kan jou hoor.” Dan skud sy haar kop. “Dis alles op die rekenaar, Thapelo. So jy kan nie help nie. Jy’s te klein.”

Thapelo gaan soek sy broer, Saul. Hy is in die kombuis, besig om een van sy spesiale koeke te bak. Wanneer daar ’n spesiale geleentheid is, bak Saul altyd ’n koek. Vir Thapelo se vorige verjaardag het hy ’n sjokoladekoek met Smarties bo-op gebak.

Saul het ’n gestreepte voorskoot aan en roer die koekmengsel in ’n groot bak. “Dis ’n suurlemoenkoek,” sê hy vir Thapelo. “Mamma se gunsteling.”

“Kan ek jou help?” vra Thapelo.

“Nee,” sê hy. “Laas keer het jy ’n eier laat val. Jammer, Thapelo. Jy’s te klein.”

Hy gaan soek sy ander suster, Mampotoko, wat die versierings in die sitkamer ophang. Daar is papierkettings en ballonne. “Kan ek jou help?” vra hy.

“Hier, kyk of jy dit kan opblaas,” sê sy en gee vir Thapelo ’n paar ballonne aan. Hy kies ’n rooie en begin blaas. Hy blaas en blaas, maar hy het nie genoeg asem om die ballon op te blaas nie.

“Ag nee,” sê hy, hartseer. “Ek’s te klein.”

Thapelo gaan soek toe vir Ntate. Hy sit by die tafel, besig om ’n string krale vir Mamma toe te draai. “Hierdie krale is haar gunstelingkleure,” sê hy. “Pers en groen. Is dit nie pragtig nie?”

Thapelo sien die geskenkpapier met die sterre daarop.

“Kan ek help om die krale toe te draai?” vra Thapelo.

“Nee, jammer, Thapelo, jy’s te klein,” sê sy pa.

Thapelo voel hartseer. Hy kyk na hulle hond, Bless, wat langs Ntate sit. “Kom, Bless,” roep hy. Maar Bless sit net daar. “Selfs Bless dink ek’s te klein,” dink Thapelo.

Thapelo gaan buitentoe en gaan sit op die stoeptrappie. “Ek wens ek was so groot soos ’n reus,” dink hy. “Dan sou almal bang wees vir my, en niemand sou sê: ‘Jy’s te klein’ nie.”

Net toe hoor hy iemand in die huis hard roep: “Bless! Kom terug, Bless!”

Bless hardloop verby Thapelo en om die hoek van die huis. En Ntate hardloop agterna. Dan kom Saul. Dan Refilwe. En dan Mampotoko. “Die hond het Mamma se geskenk gesteel!” roep Ntate toe hy verby Thapelo hardloop. Thapelo hardloop saam met hulle agter Bless aan.

Bless spring deur ’n gat in die heining, tot in die erf langsaan. “Kom terug, Bless!” roep hulle. En na ’n rukkie kom Bless terug ... maar sonder die geskenk!

“Ag, nee, hy het dit langsaan gelos!” kreun Ntate. “En die Sitholes kom eers more terug! Nou gaan dit aan daardie kant van die heining lê tot hulle terug is!”

“Ek kan deur die gat klim en dit gaan haal,” stel Thapelo voor.

“Nee,” sê hulle almal gelyk. “Jy’s te ...” Hulle bly stil. Hulle kyk na Thapelo.

“Sal jy kan deurkom?” vra Refilwe.

“Is jy klein genoeg?” vra Saul.

Thapelo buk af en wurm homself deur die gat. Hy maak dit net-net. Daar, op die gras in die Sitholes se erf, is die toegedraaide geskenk, en net ’n stukkie van die geskenkpapier is geskeur. Hy tel die geskenk op en wurm homself weer deur die gat.

“O, Thapelo,” sê Ntate. “Jy is ’n ster!”

“Drie hoera’s vir Thapelo!” sê Saul, en almal gee hom ’n drukkie.

Later daardie middag is daar ’n klop aan die deur. Dis Mamma! Thapelo hardloop in haar arms in.

“Sjoe, maar jy’t grootgeword, my seun,” sê sy. “Kyk hoe lank is jy.”

“Maar ek is nog steeds te klein, Mamma,” sê hy.

“Nee!” roep almal.

“Nee, jy is nie!” sê Ntate, “Jy is net groot genoeg!”