Enigiets kan gebeur
Home | Written stories | Multilingual stories | Enigiets kan gebeur

Written stories

Enigiets kan gebeur

Author

Dorah Masigo

Illustrator

Samantha van Riet

Lank, lank gelede het Hen en haar drie klein kuikentjies ’n weiveld met Koei gedeel.

Koei het daarvan gehou om aan die gras te loop en wei op pad na haar maat, Hen. Maar dit was swaar tye. Die reën was hierdie jaar laat, en daar was baie min gras. Koei is honger terwyl sy stadig na Hen se hok drentel. Die boer het vergeet om hooi te koop.

Hen is bly om vir Koei te sien. “Dagsê, vriendin,” sê Hen. “Kom, laat ek vir jou ’n bietjie koel, vars water gaan haal om te drink. Jy is seker baie dors ná jy so ver gestap het.” Hen skarrel weg om vir Koei water te gaan haal.

Terwyl Koei in die skaduwee van ’n groot ou doringboom rus, speel die drie klein kuikentjies rondom haar. Hulle is plomp en geel, nes die bloeisels van die trompetboom wat Koei soms in die lente sien.

Koei se maag gor en grom terwyl sy kyk hoe die kuikentjies speel. Sy lig haar kop op en loer skuldig oor haar skouer. Eers regs, dan links en dan weer regs. Daar’s nog geen teken van Hen nie.

Koeie eet nie gewoonlik vleis nie, maar onthou nou, enigiets kan gebeur! Koei is so honger dat sy opspring en die klein donsige geel balletjies begin rondjaag voor sy haar kan bedink!

Die drie kuikentjies skarrel voor Koei weg en piep onskuldig: “Ons is vinnig soos blits, ons kom weg in ’n kits. Jy kan ons nie vang nie, ons is nie bang nie. Ons is vinnig soos blits, ons kom weg in ’n kits. Jy kan ons nie vang nie, ons is nie bang nie.” En hulle piep en tjiep van die lag.

Net toe kom Hen terug met ’n bietjie water vir Koei. Sy kyk na die stofwolke wat om haar kuikentjies hang.

“Wat gaan hier aan?” vra Hen, en glimlag vir die drie kuikentjies.

“Koei speel met ons,” piep die kuikentjies, en val oor mekaar, bene in die lug.

“Maar sy is te stadig,” tjiep hulle. Toe spring hulle op en hardloop deur Koei se bene om te wys hoe vinnig hulle is.

“Moenie ons vriendin uitput nie,” kloek Hen vir haar broeisel voor sy wegstap om nog eetgoed vir Koei te gaan haal.

Toe Hen weg is, jaag Koei die kuikentjies weer en doen haar bes om ten minste enetjie te vang. Maar hulle skarrel weg en sing: “Ons is vinnig soos blits, ons kom weg in ’n kits. Jy kan ons nie vang nie, ons is nie bang nie. Ons is vinnig soos blits, ons kom weg in ’n kits. Jy kan ons nie vang nie, ons is nie bang nie.”

Teen die tyd dat Hen terugkom, hang Koei se tong uit, en sy slurp al die water wat Hen voor haar neersit, met een groot sluk op.

“Hulle is altyd onder ’n mens se voete. So spelerig,” sê Hen. “Maar ten minste weet ek hulle is veilig teen die valk wat hulle altyd van ver af dophou.” Hen kyk senuweeagtig op in die lug en glimlag dan vir Koei. “Dankie dat jy ’n ogie oor hulle gehou het terwyl ek weg was,” sê sy vir haar vriendin.

Koei weet dit is nie wat regtig gebeur het nie, en al voel sy sleg, knik sy net haar kop moegerig. Teen hierdie tyd is sy dood van die honger. Sy het al haar energie opgebruik om agter die kuikentjies aan te hardloop.

Ná ’n rukkie staan Koei op en groet vir Hen. Sy wonder of sy die lang pad tot by haar skuur sal kan stap.

Koei strompel in die skuur in net toe die aand se skaduwees oor die vloer begin rek. Sy is verlig om ’n groot baal hooi te sien wat die boer ingebring het. En toe sy eers begin eet, kan sy nie ophou nie. Sy eet en eet tot sy so vol is dat sy opstyg en tot by die maan sweef, soos ’n groot, veelkleurige ballon. Want onthou, enigiets kan gebeur!

 


 

Raak doenig met stories!

  • Wat is die mees ongewone ding wat jy al geëet het? Teken ’n prent van die kos. Skryf onder die prent hoe dit geruik en gesmaak het.
  • Skryf ’n nuwe einde vir die storie. Wat sou gebeur het as daar geen hooi was vir Koei toe sy by die huis gekom het nie? Onthou, enigiets kan gebeur!