Die spieël in die bosveld | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Die spieël in die bosveld

Die spieël in die bosveld

Author

Deur Melody Ngomane

Illustrator

Illustrasies deur Magriet Brink en Leo Daly

Dit is ’n snikhete dag in die Afrika-savanne wanneer Hasie besluit om by die stroompie te gaan water drink. In die hitte hop sy stadig met ’n oop, stowwerige paadjie langs toe sy ’n spieël in die sonlig sien flits. Hasie het nog nooit voorheen ’n spieeël gesien nie, en sy wonder watter vreemde dier dit is. Toe sy nader kom, sien sy tot haar verbasing die veld binne-in, en ook ’n klein wit hasie nes sy wat vir haar terugkyk. Hasie hardloop so vinnig sy kan om hulp te kry.

“Help! Iemand help my, asseblief!” roep sy.

Jakkals was besig om in die skadu van ’n groot boom te rus nadat hy gejag het. Toe hy Hasie se hulpkrete hoor, maak hy of hy niks gehoor het nie en hoop die ander diere sal haar help, want hy is moeg. Maar voor hy hom kom kry, hardloop Hasie reguit na waar hy sit en rus.

“Jakkals, help! ’n Monster, ’n monster!” huil die klein wit hasie.

“’n Monster? Waar?” vra Jakkals, en gaap.

“Onder op die paadjie op pad rivier toe. Die monster het die hele veld ingesluk en ook ’n klein wit hasie nes ek,” snik Hasie.

Jakkals jaag eers vir Hasie weg, want hy kan nie glo dat so iets kon gebeur nie. “As die monster die veld ingesluk het, hoekom is ons dan hier en nie binne-in die monster nie?”

Hasie kan nie hierdie vraag antwoord nie, maar sy bly om hulp roep. Jakkals gaan roep vir Luiperd, sodat al drie van hulle saam na die vreemde monster kan gaan kyk.

Jakkals en Luiperd volg vir Hasie na waar die monster is. Hulle kruip stadig na die spieël toe. Toe hulle naby kom, sien hulle drie diere wat vir hulle kyk. Die diere binne-in die monster se maag lyk nes hulle! Hulle hardloop gillend van vrees af rivier toe om vir Seekoei te gaan roep.

“Seekoei, kom help ons, asseblief. ’n Monster het die veld en drie diere nes ons ingesluk!” sê Jakkals, wat so vinnig hy kan praat.

Seekoei steur haar nie juis aan hulle nie en swem lekker verder, want sy dink die diere probeer haar om die bos lei. Maar toe sy sien hoe vreesbevange hulle is, klim sy uit die water. Seekoei, Luiperd, Jakkals en Hasie jaag na die plek waar die spieël is.

Toe hulle daar aankom, staan Hasie en Jakkals agter, want hulle is bang dat die vreemde dier hulle ook sal insluk. Luiperd en Seekoei storm vorentoe om die vreemde dier aan te val … maar toe hulle nog ’n seekoei en luiperd na hulle toe aangehardloop sien kom, hardloop hulle weg en skree: “’n Monster! ’n Monster!”

Die vier diere hardloop om vir Leeu te vind en vir hom die storie van die vreemde dier te vertel.

“Die dier het ’n hasie, ’n jakkals, ’n luiperd en ’n seekoei ingesluk,” verduidelik die diere terwyl almal gelyk praat.

“Hy het ook die hele veld ingesluk,” voeg Hasie by.

“En die diere in sy maag wou ons aanval!” sê Seekoei.

Leeu het nog nooit van so iets gehoor nie. Hy roep daarom dadelik sy trop leeus bymekaar en hulle hardloop vinnig weg om die monster te gaan aanval. Hasie, Jakkals, Luiperd en Seekoei volg net agter hulle.

Op pad kom hulle vir Apie teë, wat lyk of hy na iets soek. Hy spring voor Leeu in.

“O, Leeu, ek is so bly om jou te sien,” sê hy. “Help my asseblief om my spieël te vind. Ek dink iemand het dit gesteel.”

“Gee pad, Apie. Ons het belangriker dinge om te doen. Ons is op pad om ’n monster aan te val wat diere en die veld ingesluk het,” sê Leeu ongeduldig.

Die apie staan eenkant toe, maar besluit om die diere te volg, want hy wil sien hoe hierdie monster lyk.

Toe die diere naby die plek kom waar die spieël is, gaan staan die leeus, Seekoei en Luiperd doodstil en maak gereed om aan te val. Hulle hardloop na die spieël toe! Maar toe hulle ’n groep woedende diere na hulle toe sien aanstorm, kies hulle koers in die lang gras in. Van hulle gaan lê plat op die grond, party kruip agter bossies weg en ander klim in die bome.

Toe die apie besef dat die diere so bang is vir sy spieēl, bars hy uit van die lag. Hy hardloop na die spieēl toe, kyk na homself en sê: “Ek soek al heeldag na jou, spieēl.”

 

Toe die ander diere sien hoe Apie voor die vreemde dier staan en hoe vriendelik die monster met hom is, kom hulle uit hul wegkruipplekke en begin vir Apie vrae vra oor die vreemde dier.

“Dit is ’n spieël, nie ’n dier nie. Jy kan jouself daarin sien. Kyk, dis ek in die spieēl,” verduidelik Apie, terwyl hy die spieēl regop hou.

Toe die diere dit hoor, lag hulle almal lekker saam en kyk vir ’n lang tyd na hulself in die spieël.