In ’n land met die naam Gaboen, is daar ʼn klein dorpie aan die rand van ʼn woud. In die hart van hierdie woud, in die hoogste takke van ʼn reusagtige boom, woon ʼn baie spesiale voël − die voël wat reën maak.
So lank as wat die dorpsmense kan onthou, probeer hulle om hierdie voël gelukkig te hou. Hulle bêre stukkies brood, vrugte en vars kokosneutmelk, en elke week of twee neem ʼn groep van hulle hierdie lekkernye na die woud. Wanneer hulle dit langs die stam van die boom neersit, speel een van hulle ʼn eenvoudige wyse op ’n duimklavier. Na ʼn rukkie vlieg die voël af grond toe om te eet en te drink. Wanneer sy klaar is, begin sy die pragtigste lied sing. Terselfdertyd lig sy haar donker, blinkblou vlerke op, en minute later begin dit reën.
So gaan dit vir baie jare. Omdat dit gereeld reën, groei die gesaaides goed en daar is baie kos in die dorpie. Maar geleidelik begin dinge verander. Op een of ander manier is die dorpsmense altyd besig, en hulle begin die reënvoël afskeep. “Dit sal in elk geval reën,” sê hulle. “Dit is tyd om op te hou om daardie lawwe ou voël so te bederf!”
Maar die mense is verkeerd. Toe hulle ophou om vir die voël te sorg, hou die reën op val. Die landerye begin opdroog en die plante vrek. Die diere word maer en swak. Steeds gaan niemand in die woud in om vir die voël wat die reën bring kos te gee nie. Nou is hulle almal te besig om geld bymekaar te maak om in die buurdorp te gaan kos koop.
Een snikhete dag besluit ʼn jong meisie met die naam Ketti om ná skool na die woud te gaan. “Dit sal ten minste koel wees daar,” dink sy. Sy stap en stap, en na ʼn rukkie kom sy by die hoë boom waar die reënvoël woon. Ketti kyk in die boom op. Skielik onthou sy hoe haar ouma haar na die woud gebring het om vir die voël kos te gee toe sy nog ʼn klein dogtertjie was. Ketti maak haar skooltas oop en haal ʼn stukkie brood wat in haar kosblik oorgebly het uit. Versigtig sit sy die brood teen die stam van die boom neer. Toe, omdat sy geen duimklavier by haar het nie, sing sy ʼn ou liedjie wat sy van altyd af ken.
Met ʼn harde klapgeluid swiep ʼn pragtige blou voël uit die takke oor Ketti se kop en begin die brood eet. Toe die voël klaar geëet het, maak sy haar bek oop en sing ʼn paar suiwer, hoë note. Toe lig sy haar blinkblou vlerke op, en skielik hoor Ketti die gerammel van donderweer. Toe sy by die huis kom, val die reën in reusedruppels en koel die drooggebakte rooi grond af.
Ketti is baie gelukkig, tot sy vir haar ouers vertel wat gebeur het. “Moenie laf wees nie!” raas haar ma. “Niemand glo meer dat daardie voël enigiets met die reën te make het nie!”
“Jou ma is reg,” sê Ketti se pa. “Die droogte is gebreek en nou is alles weer reg. Moenie brood mors deur daardie gulsige ou voël te gaan voer nie!”
Ketti stry nie met haar ouers nie, maar sy dink tog hulle is verkeerd. “As Ouma nog geleef het,” sê sy vir haarself, “sou sy my geglo het!” Maar Ketti se ouma is ʼn paar jaar gelede dood. Die enigste ding wat Ketti nog van haar het, is haar ouma se ou duimklavier.
Twee weke gaan verby, en geen reën val nie. Die gesaaides begin verskrompel en die honger diere se ribbes staan nog meer uit. Die son bak genadeloos neer uit die verblindende blou lug. “Ek gee nie om wat hulle sê nie!” dink Ketti. “Ons het reën nodig. Ek gaan weer môre vir die voël kos gee!”
Vroeg die volgende oggend vat Ketti ʼn sny brood en ʼn handvol rooi bessies uit die kombuis, en sluip by die huis uit. Sy kies koers na die middel van die woud. Maar wat sy nie weet nie, is dat haar pa ook wakker is. Toe hy sien wat sy dogter doen, besef hy dat sy weer vir die reënvoël gaan kos gee. “Ek sal daardie ongehoorsame kind ʼn les leer!” sê hy vir homself. Hy gryp sy pyl en boog en volg Ketti stilletjies na die woud.
Net toe die voël afvlieg om die kos te eet wat Ketti vir haar neergesit het, lig haar pa sy boog op en skiet die dodelike pyl. Die pyl tref die voël se hart. Die voël skree skril. Ketti tol verskrik in die rondte − net betyds om te sien hoe haar pa morsdood neerval. Ketti gil en draai om − net betyds om te sien hoe die pyl skadeloos uit die voël se blink lyf val. Toe vlieg die voël sonder ʼn skrapie terug na die hoogste takke van die boom.
Ketti hardloop uit die woud uit en wat sy sien, is totale verwoesting. Elke dier en elke mens wat sy teëkom, lê dood op die grond. Met ʼn bonsende hart hardloop sy heelpad huis toe. Sy kry gou haar ouma se duimklavier. “Dit is my enigste hoop!” dink sy. “Die reënvoël is kwaad. Ek moet haar weer gelukkig maak! Ek MOET!”
ʼn Halfuur later is Ketti terug by die stam van die groot boom. Sy is sopnat van die sweet en sy snak na haar asem. ʼn Paar treë verder lê haar pa se lewelose liggaam. Ketti kyk vinnig weg, en met bewende hande begin sy die duimklavier speel.
Sy speel en speel, tot haar vingers pyn. Uiteindelik gebeur dit wat sy die heel graagste wil hê. Die voël swiep neer asof niks gebeur het nie. Die voël eet van die bessies wat steeds op die grond lê, en sing ʼn paar note. Toe, terwyl Ketti verder speel, lig die voël haar vlerke … Ketti hoor ʼn geritsel agter haar. Dit is haar pa wat wakker geword het. “Ek is jammer!” sê hy weer en weer vir die groot, blou voël. Toe hou hy sy hand na sy dogter uit en hulle stap stadig terug na die dorpie. In die dorpie is al die mense en diere weer lewendig.
Daardie aand hou die dorpsmense ʼn vergadering. Hulle stem almal saam dat hulle ʼn waardevolle les geleer het. En van daardie dag af gaan daar nie ʼn week verby wat hulle nie spesiaal na die woud stap om vir die voël wat die reën bring, kos te gee nie.