Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Die reënmaker

Author

Kgosi Kgosi

Illustrator

Magriet Brink en Leo Daly

Translator

Anita van Zyl

Lank, lank gelede was daar in die Kgalagadi ’n magtige ou man met die naam Rapula. Rapula het een van die grootste gawes in die wêreld gehad. Hy het die krag gehad om die wolke bymekaar te bring wanneer hulle ver uit mekaar was. Hy het die krag gehad om dit te laat reën. Hy was oor die hele land bekend as Rapula, die reënmaker.

Vir Rapula was die reënmakery ’n uiters pynlike proses. Dit het al sy energie geverg, maar dit het hom ook vreugde verskaf om te sien hoe al sy mense baat by die water wat uit die wolke val. Wanneer dit gereën het, het die mense die water opgevang en dit gebruik om te drink en mee te kook. Die riviere het vol geraak en die diere het water gehad om te drink. Die reën het ook die landerye van die Kgalagadi gevoed.

Na baie jare van reën maak, het Rapula die reënmaker siek geword en sy kragte het afgeneem. Die grond in die Kgalagadi het stadig begin uitdroog. Die groen gras en die bome het begin verdwyn. Al het die ou man aanhou probeer, kon hy net klein bietjies reën maak. En elke keer wat hy probeer het, het hy swakker en swakker geword.

Gou het die ou man so siek en swak geword dat hy nie meer reën kon maak nie. Toe dit gebeur, was daar ’n groot droogte. Die landerye het opgedroog en die oeste het misluk. Daar was nie genoeg kos nie. Diere het gevrek, plante het gevrek en mense het gesterf.

Die mense van die Kgalagadi het gewag. Hulle het bly hoop dat die reënmaker weer gesond sou word. Terwyl hulle gewag het, het hulle die bietjie wat hulle gehad het met mekaar gedeel en vir die reënmaker hul beste kos gegee. “Dalk sal hy gou weer sy kragte terugkry,” het hulle gesê.

Uiteindelik het die mense besef dat Rapula nooit weer gesond sou word nie. Die wyse manne van die dorp het geweet al wat hulle nou kon doen, was om te wag dat Rapula sy spesiale krag aan iemand anders oordra.
 
Toe Rapula die reënmaker sterf, was die mense van die Kgalagadi hartseer. Hulle het ’n kosbare lid van hul gemeenskap verloor. Die oudstes van die dorp is egter getroos deur die wete dat Rapula se gawe nie verlore sou gaan nie. Dit sou oorgedra word aan ’n jonger persoon.

Daar was ’n groot begrafnis om die groot reënmaker te eer. Mense het van die verafgeleë dele van die Kgalagadi gekom om daar te wees. Hulle het die bietjie kos en drinkgoed wat hulle gehad het saamgebring om met almal te deel.

Voordat Rapula die reënmaker in die grond begrawe kon word om vir ewig te rus, het ’n vreemde ding gebeur – iets wat vir die mense van die Kgalagadi sou wys wie die nuwe reënmaker sou wees. Die kleure van die reënboog het die ou reënmaker se liggaam verlaat en in die liggaam van ’n jong meisie met die naam Mapula, Rapula se agterkleinkind, ingegaan. Dit was die verstommendste ding wat enigiemand nog ooit gesien het, maar almal het geweet dat dit die manier was waarop reënmakers hul kragte oordra. Dit het baie selde gebeur, want reënmakers het baie lank geleef.

Mapula was nou die nuwe reënmaker van die Kgalagadi. Dae lank na die begrafnis het die mense die jong meisie se nuwe krag gevier. Hulle het met musiek en kos feesgevier. Almal in die Kgalagadi het vir haar geskenke van nuwe klere, blomme, spesiale kos en ander dinge gebring.

Dit het ’n paar dae geduur voor Mapula gewoond was aan haar krag, maar dit het gou sterker geword. Nou moes sy haar gawe behoorlik gebruik. As sy kwaad was terwyl sy reën maak, sou sy ’n donderstorm of oorstroming veroorsaak. Dit kon haar hele gemeenskap vernietig.

Selfs al was die Kgalagadi so lank sonder reën, moes Mapula stadigaan leer hoe om haar krag te gebruik. Eers moes sy leer om reën te maak deur klein wolke bymekaar te bring. Sy het een keer per week geoefen om dit te doen. Net soos haar oupagrootjie, was sy baie moeg nadat sy die wolke laat reën het. Soms moes sy vir twee dae slaap om haar kragte te herwin.

Die mense van die Kgalagadi was slim. Hulle het nuwe maniere gevind om die kosbare water te spaar. Hulle het geleer hoe om damme te bou en groot tenke te maak waarin die water opgeberg kon word.

Na baie maande kon Mapula uiteindelik weer goeie reëns oor die Kgalagadi laat uitsak. Almal het die groot reën gevier deur te sing en te dans. Hulle het baie jare laas soveel reën gesien, en hulle het geweet die droogte is uiteindelik verby. Hulle was bly dat daar ’n nuwe reënmaker was – ’n reënmaker wat almal se lewens sou verbeter.

Wees kreatief!

Nadat jy Die reënmaker gelees het, stel voor dat jou kinders reënprente maak. Hulle kan watte vir die wolke gebruik en dan reëndruppels uit blou papier knip. Of hulle kan vingerverf gebruik om die wolke en reën te maak. Hulle sal dalk selfs reënboë by hul prente wil voeg!