Die dogtertjie wat per ongeluk ruimte toe gegaan het | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Die dogtertjie wat per ongeluk ruimte toe gegaan het

Die dogtertjie wat per ongeluk ruimte toe gegaan het

Author

Deur Jeanine Vermaak

Illustrator

Illustrasies deur Magriet Brink en Leo Daly

Lesedi is dol oor die sterre. Terwyl ander kinders nie kan wag dat dit dag word nie, kan sy nie wag dat dit nag word nie. Sy is glad nie bang vir die donker nie. Sy hou daarvan om saans voor slaaptyd buitentoe te gaan, net om na die naghemel te kyk.

Dink net aan al die sterre wat sy kan sien. Honderde en honderde blink, flikkerende sterre en die groot geel maan.

“Dis amper slaaptyd, Lesedi!” roep die klein dogtertjie se ma.

“Ek kom, Mamma!” antwoord Lesedi.

Maar Lesedi is nie reg om binnetoe te gaan nie. Sy wil die sterre tel. “Een, twee, drie, vier …” Lesedi het al een honderd drie-en-dertig sterre getel toe sy haar ma weer hoor roep.

Toe sy omdraai om binnetoe te gaan, sien sy ’n reusagtige, helder lig in die hemel. Dit kom al hoe nader. Dit is ’n enorme ruimteskip! Lesedi kan haar nie wegskeur nie en kyk tot dit net daar in haar voortuin land.

Lesedi stap na die ruimteskip toe en raak daaraan. Dit is glad en blink en dit voel warm. Skielik gaan ’n groot deur aan die kant van die skip oop en ’n loopplank sak af.

“Dalk kan ek net gou vinnig gaan loer hoe dit binne-in lyk,” dink Lesedi.

Sy stap stadig met die loopplank op. Daar is helder ligte en rooi en blou knoppies orals. Maar dis die groot oranje knop net onder een van die vensters wat haar aandag trek.

“Ek wonder wat sal gebeur as ek dit druk?” sê sy hardop.

BIEP maak die knop wanneer sy dit druk. Dan klap die deur toe en daar is ’n harde BOEM wanneer die enjin aanskakel. Dan hoor sy ’n stem oor ’n luidspreker sê: “Ruimteskip gereed om te vertrek oor 3, 2, 1 …”

Lesedi voel hoe die ruimteskip beweeg! Dit skud heen en weer; dit skud op en af, en dan styg dit met ’n harde knal op.

“Mamma gaan so kwaad wees,” dink Lesedi, maar sy glimlag van oor tot oor. Sy gaan uiteindelik ruimte toe! Deur die ruimteskip se vensters kan sy sien hoe haar huis al hoe kleiner raak terwyl hulle al hoër vlieg.

Sy waai en roep: “Tot siens, Mamma! Ek is nou-nou terug!”

Die ruimteskip vlieg al hoe hoër. Dit vlieg rondom sterre en swenk tussen ander deur. Dit wentel om en om die planete en skiet dan verder in die ruimte in. “Wag tot ek vir Tshepo en Amina by die skool hiervan vertel,” dink sy.

Lesedi kyk nog by die venster uit toe sy iets sien nader kom. Kan dit wees …? Ja, dit is! Dis die maan … en daar staan ’n man op die maan. Dit lyk of hy vir haar waai.

“Dis die man in die maan!” gil Lesedi opgewonde.

Die man hou aan waai tot die ruimteskip met ’n sagte plof op die maan land. Dan stap hy nader en klop aan Lesedi se venster.

“Hallo,” sê hy deur die glas. “Ek kry nie baie besoekers nie. Wat is jou naam?”

“My naam is Lesedi,” sê sy trots. “Ek’s nie veronderstel om hier te wees nie. Dis nie my ruimteskip nie. Dit het in ons tuin geland, en toe ek inklim, styg dit op!”

“Dis seker omdat jy ’n gebore ontdekkingsreisiger is,” sê die man.

“Ek is. Ek is dol oor die ruimte en veral sterre. En my naam, Lesedi, beteken lig,” sê sy.

“Dis fantasties! Hier’s iets wat jy saam met jou kan huis toe vat.” Lesedi maak die venster oop en steek haar hand uit. Die man gee vir haar ’n klein stukkie rots. “Dis ’n spesiale maanrots. Nou het jy iets wat jou altyd aan jou avontuur sal herinner.”

“Baie dankie, Man in die maan!”

Al geniet Lesedi haar avontuur, begin sy ’n bietjie moeg voel. “Goeiste! Mamma gaan bekommerd raak oor my!” dink sy en gaap. Sy kyk rond. “Dalk sal die ruimteskip my huis toe vat as ek weer daardie oranje knop druk.”

Sy druk die knop. Onmiddellik kom daar ’n stem oor die luidspreker wat sê: “Terugreis begin oor 3, 2, 1 …”

“Totsiens, Man in die maan,” roep Lesedi gou.

“Totsiens, Lesedi. Ek hoop ek sien jou weer,” sê hy en waai vir haar.

Die ruimteskip styg op en draai stadig om. Lesedi kan die aarde ver onder haar sien. Dit lyk soos die blou gomlastiekbal waarmee sy en haar maats so graag speel. Dan voel sy hoe die ruimteskip met ’n whoesj-geluid af, af, af daal tot dit doef in haar tuin land. Die deur gaan oop en die loopplank sak af.

“Ek’s by die huis!” roep Lesedi.

Sy hardloop met die loopplank af, kyk op na die groot, ronde, geel maan en verbeel haar dat sy ’n klein mannetjie vir haar sien waai.

Wanneer Lesedi se ma buitentoe kom om na haar te soek, kry sy haar dogter vas aan die slaap op die gras.

“My ou dogtertjie, jy was seker so moeg,” sê sy en tel haar op.

Sy dra Lesedi huis toe en sit haar in die bed. Dan voel sy iets in Lesedi se hand. Dis ’n ronde, grys stukkie rots.

“Lawwe klein dogtertjie,” glimlag sy en soen Lesedi op haar voorkop.

Sy skakel die lig af en loop by die kamer uit, maar sy sien nie dat die ronde, grys stukkie rots in die donker gloei nie.