Eendag, lank gelede, het die diere Leeu gekies om die koning van die oerwoud te wees. Op daardie dag het Sebra al die diere bymekaargeroep en gesê: “Kom ons hou ’n partytjie om te vier dat ons ’n nuwe koning het.” “Dis nou ’n goeie idee,” sê Luiperd. “Ek dink Krokodil is die een wat op die dag van die partytjie met die koning moet dans.” “Ek stem saam,” sê Akkedis. “Maar as Krokodil met die koning gaan dans, moet hy in die rivier bad sodat sy vel skoon en blink kan wees, nes myne.” Al die diere stem saam met Akkedis. Krokodil se vel is veels te grof en vaal. Hy moet in die rivier gaan bad sodat sy vel skoon en blink sal wees wanneer hy met die nuwe koning dans. Maar arme Krokodil stem nie saam nie. “Ek kan nie in die rivier bad nie!” kerm Krokodil. “Ek was nog nooit in die rivier nie. Ek weet nie eens of ek kan swem nie!” Maar nie een van die diere luister na Krokodil nie. Hulle draai almal weg en gaan huis toe.
Krokodil is stoksielalleen. Hy is baie bekommerd dat almal vir hom sal lag as hy nie kan swem nie. Hoe gaan hy sy vel skoon en blink kry as hy nie in die rivier kan bad nie? Toe dink hy aan ’n plan. “Ek sal in die nag rivier toe gaan wanneer almal slaap. Dan sal niemand sien hoe ek probeer swem nie.” Daardie aand, terwyl al die diere slaap, gaan Krokodil af rivier toe. Hy dink niemand kan hom sien nie, maar hy het vergeet dat Uil snags wakker is! Uil kyk hoe Krokodil versigtig in die rivier ingly en leer swem. Maar Uil maak nie ’n geluid nie. Uiteindelik breek die dag van die partytjie aan. Al die diere kom by die bymekaarkomplek byeen. “Weet enigiemand waar Krokodil is?” vra Akkedis terwyl hy rondkyk. “Ek hoop hy’s skoon en blink vir sy dans met die koning.” Maar niemand weet waar Krokodil is nie. Toe sê Uil: “Ek dink ek weet waar hy is. Volg my!” Al die diere volg vir Uil terwyl sy afvlieg rivier toe. By die rivier kry hulle vir Krokodil, wat vies en miserabel lyk. Hy is al dae lank in die river, maar sy vel is nog altyd grof en glad nie blink nie. “Kom asseblief uit die rivier uit,” roep al die diere. “Die partytjie gaan begin en jy moet met die koning dans!
“Nee, ek sal nie!” antwoord Krokodil. “En as enigiemand dit naby die rivier waag, sal ek hulle opeet. Ek is bitter kwaad vir julle.” En dis hoekom Krokodil vandag nog in die rivier woon. Sy vel is nog altyd grof en hy is nog altyd bitter kwaad. En nie een van die diere kom naby hom nie. Hulle is almal te bang Krokodil dat hulle sal opeet!
Raak doenig met stories!