Dimpho en Sello se ma het ’n probleem. “My voete het gisteraand soos ysblokke gevoel!” sê sy een Maandagoggend vir die kinders.
“Hulle was so koud ek kon nie slaap nie. Nou is ek doodmoeg!”
“Ek weet!” sê Sello. “Waarom trek Mamma nie vanaand sokkies aan wanneer jy gaan slaap nie?”
“Wat ’n blink plan!” sê Mamma. “My kinders is so slim!”
Daardie aand trek sy haar dikste wolsokkies aan. “Tannie Thoko het vir my hierdie sokkies vir Kersfees gegee,” sê sy.
“Hulle is heerlik warm! Ek sal vanaand lekker slaap!”
Maar Mamma was verkeerd. Dinsdagoggend is sy weer moeg.
“Ek kon nie ’n oog toemaak nie,” sug sy. “As ek tog net my koue voete kon warm kry!”
“Mamma,” sê Dimpho, “waarom laat week jy nie jou voete in warm water voor jy vanaand gaan slaap nie?”
“Dis die moeite werd om te probeer!” sê Mamma. “Dankie!”
Daardie aand na aandete tap Mamma warm water in ’n groot rooi waskom. “Mmmm, dis lekker!”
sê sy en roer haar voete in die water rond. “Ek is seker ek gaan vanaand lekker slaap.”
Maar raai wat? Woensdagoggend is sy weer moeg. “Aan die begin was dit perfek,” sê sy, “maar na ’n paar uur was dit weer dieselfde ou storie … yskoue voete! Ek sal maar aan iets anders moet dink.
Eet gou klaar! Dis tyd om skool toe te gaan!”
Toe Mamma daardie aand na werk by die huis kom, het Dimpho goeie nuus. “My juffrou sê as ’n mens gemmertee drink, maak dit jou oraloor warm,” verduidelik sy. “Gemmertee sal jou voete warm maak!”
“Goed dan,” sê Mamma. Sy klink nie baie gelukkig nie. Na so baie slapelose nagte, voel sy baie knorrig!
Maar Mamma vergeet nie wat Dimpho gesê het nie. Saterdagoggend, voor sy gaan werk,
vra Mamma die kinders om vir haar gemmer te gaan koop. “Niks anders help nie,” sê sy terwyl sy regmaak vir werk.
“Dalk sal gemmer die ding doen!”
Die kinders vat die pad. “Waarna kyk jy, Sello?” vra Dimpho toe hulle by die grootpad naby die winkels kom.
Sello antwoord nie. Hy staar na iets daar naby.
“Sello!” sê Dimpho weer. “Hou my hand vas. Ons moet oor die pad stap.”
“Wag eers!” sê Sello. “Kyk daar! Ons moet daardie kat help!” En voor Dimpho hom kan keer, storm Sello weg.
Op ’n leë erf is twee seuns van Sello se ouderdom besig om ’n grys kat te terg. Hulle lag. Die kat probeer wegkom.
Vir ’n klein seuntjie het Sello ’n harde, diep stem. “HOU OP!” skree hy. “Los daardie kat uit!”
“Ja, los die kat uit!” sê Dimpho.
Die seuns kyk op. “Hoekom moet ons?” sê een van hulle, maar die ander seun laat die verskrikte kat gaan.
“Vir wat gee julle in elk geval om? Dis net ’n dom rondloperkat! Kom, Jabs, kom ons gaan!”
Toe Dimpho en Sello se ma daardie middag by die huis kom, kan sy haar oë nie glo nie.
Haar kinders is besig om ’n wollerige, grys kat te streel. Die kat spin en lek haarself.
Mamma sien dat hulle vir die kat van die oorskietvleis gevoer het.
“Wat op aarde gaan hier aan?” vra sy kwaai. “Waarom het julle daardie dier huis toe gebring?
Raak nou dadelik ontslae daarvan!”
“Maar Mamma, dit reën buite,” sê Sello. “Kietsie sal nat word! Kan ons haar net vanaand hou? ASSEBLIEF?”
Mamma kyk by die venster uit. Dis waar. Toe sy uit die taxi geklim het, was die lug vol grys wolke.
Nou giet die reën neer. “Goed dan,” sê sy met saamgeperste lippe, “maar môre is daardie kat weg.”
“Dankie, Mamma!” sê albei kinders.
“Hmmmf,” sê Mamma. Sy gaan sit, trek haar skoene uit en vryf haar voete.
“Waar is daardie gemmer wat julle vir my gekoop het?” vra sy. “Dis tyd vir my eerste koppie gemmertee!”
Die kinders kyk met groot, ronde oë na mekaar. Hulle het vergeet om die gemmer te koop! Mamma is baie kwaad.
Sy bly die hele aand kwaad. Toe die kombuis skoon is, gaan sy reguit bed toe.
Sondagoggend toe Dimpho en Sello wakker word, is daar geen teken van hulle ma nie. Hulle is verbaas – sy word altyd vroeg wakker. Hulle kan die kat ook nêrens sien nie.
“Kom ons gaan kyk of als reg is met Mamma,” sê Dimpho. Stilletjies maak hulle haar kamerdeur oop en loer in.
En wat dink julle sien hulle? Mamma lê lui-lui in die bed. Die kat lê opgekrul by haar voete en spin hard.
“Goeiemôre,” sê Mamma. “Wat ’n goeie nagrus! Uiteindelik warm voete!” Sy kyk na die kat.
“Ek dink ons sal jou moet hou!” sê sy vir die kat.
“Kom ons noem jou Gemmer!” Die grys, wollerige kat spin net harder.
Die kinders lag, klap hande en bons rond. Toe gaan staan Sello. Hy frons. “Maar waarom noem ons haar Gemmer?” vra hy.
“Wel,” sê Mamma, “julle twee is winkel toe om gemmer te gaan koop, maar in plaas daarvan het julle met hierdie kat teruggekom. Sy het my voete warm gehou, soos wat Dimpho gesê het die gemmertee sal doen, en daarom is haar naam Gemmer!”
En dis wat hulle haar genoem het.