’n Dag om te onthou
Home | Written stories | Multilingual stories | ’n Dag om te onthou

Written stories

’n Dag om te onthou

Author

Lorato Trok

Illustrator

Rico

Translator

Anita van Zyl

“Maak gou, Neo, ons het nie baie tyd nie!” sê Hope en sit haar swaar sak neer. Hope en Josh wag vir Neo. Hulle is almal op pad park toe as deel van Hope se plan! Hope het ’n plan begin beraam nadat sy die nuwe boek gelees het wat haar ma vir haar gekoop het. Dit gaan oor ’n meisie wat dapper haar dorpie van ’n vreesaanjaende monster red. Hope het die boek so baie geniet dat sy dit binne ’n dag klaar gelees het, en selfs daardie nag van die vreesaanjaende monster gedroom het! “Ek hoop net jou plan gaan pret wees. Hoekom is jy so haastig?” vra Neo vir Hope toe hy die voordeur toetrek. Neo het sy gunstelingseerowerhoed op en dra ook ’n oogklap.

 

“Ek weet net so min soos jy, Neo. Hope het my net gevra om my vlieër saam te bring park toe,” sê Josh en beduie na sy vlieër. “Vertrou my, julle gaan dit geniet!” sê Hope terwyl sy voor haar maats uitstap. Neo en Josh volg haar en probeer bybly. Toe hulle by die park kom, sien hulle die burgemeester, met ’n groot skare mense om hom. “Wat gaan aan?” vra Josh vir ’n vrou wat daar naby staan.

 

“Wel, die burgemeester het die afgelope maande baie klagtes ontvang omdat daar nie genoeg skaduwee in die park is nie,” sê sy. “Daarom het hy baie nuwe bome laat aanplant, en vandag is hy hier om dit saam met almal te vier.”  “Ag, nee! Die park is te vol vir my plan om te werk,” sê Hope teleurgesteld. “Watter plan?” vra Neo en Josh gelyk en kyk na mekaar. “Onthou julle die storie wat ek gelees het van die dapper meisie wat haar dorp gered het?” vra Hope. “Wel, ek het gehoop ons kan ’n vreesaanjaende monster maak, dit aan Josh se vlieër vasbind en dit dan oor die park laat vlieg. Maar kyk nou!” sê Hope, en wys na die glimlaggende mense wat rondom die burgemeester staan.

 

Neo sien hoe hartseer Hope is. “Blink plan, Hope!” sê hy. “Kom ons gaan sit agter daardie groot bos. Niemand sal ons daar sien nie.” Josh en Hope knik instemmend en kies koers soontoe. “Josh, gaan soek jy ’n paar stokkies. Neo, haal jou seerowerhoed en oogklap af,” gee Hope instruksies terwyl sy haar karateklere en ’n ballon uit haar sak haal. Josh vind ’n paar dun stokkies langs ’n vullisdrom. Die drie maats gaan sit agter die bos en gebruik die tou uit Hope se sak om die stokkies in ’n kruisvorm aan mekaar vas te bind vir die monster se lyf. Toe blaas Hope die ballon op en bind dit daaraan vas vir die monster se kop. Hulle trek Hope se karateklere vir die monster aan en sit vir hom Neo se seerowerhoed en oogklap op. Josh maak die monster aan sy vlieër vas. En toe is hulle gereed!

Die kinders kruip agter die bos weg en laat die vlieër se tou afrol. ’n Sterk rukwind trek die monster hoog in die lug in op. Hoër en hoër vlieg dit op in die lug, al verder van hulle af weg. Intussen het Bella en haar ma by die park aangekom om met Noodle te gaan stap. Toe Noodle die monster in die lug sien hang, begin hy blaf en trek aan sy leiband. Bella probeer aan Noodle se leiband vashou, maar hy trek so hard dat sy moet laat los. Daar hardloop Noodle deur die park, met Bella en haar ma agterna.

 

Toe sweef die monster stadig af tot reg bo die burgemeester se kop terwyl hy nog besig is om sy toespraak te maak! Noodle hardloop steeds blaffend agter die monster aan – met Bella en haar ma op sy hakke. Josh trek aan die vlieër se tou en probeer om die monster hoër in die lug te laat opvlieg, maar dit is te laat. Noodle spring in die lug op om die monster te gryp en stamp die burgemeester om. Stukkies papier met die burgemeester se toespraak daarop waai die park vol, en mense begin in alle rigtings hardloop.

Neo, Josh, Hope, Bella en haar ma kom vinnig nader om te help. Hulle vind die burgemeester op die grond langs die monster, met Noodle wat steeds daarvoor blaf. Die kinders help om Noodle stil te maak terwyl Bella se ma die burgemeester ophelp.

Toe verduidelik Hope haar plan en hoe dit skeefgeloop het. Die burgemeester luister, en toe Hope klaar is, kyk hy na haar … en bars uit van die lag. “Wel, nou kan jy jou eie storie oor ’n vreesaanjaende monster skryf,” stel die burgemeester voor.

 

En selfs al het Hope se plan nie heeltemal uitgewerk nie, is dit ’n dag wat hulle almal sal onthou!