Wolf se aandete | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | Wolf se aandete

Written stories

Wolf se aandete

Author

Deur Griselda Jacobs

Illustrator

Illustrasies deur Vian Oelofsen

Listen to the story here

’n Harde tjank weerklink deur die bosveld toe Wolf ná ’n heerlike nagrus wakker word.

“Wat ’n lieflike dag,” sê Wolf. “Goeiemôre, al my klein maatjies en al my groot maters,” groet hy die ander diere. “Vandag moet julle die sonskyn geniet. Asem die vars lug diep in. Soek hoog en laag totdat julle die sappigste kos vind,” voeg hy oorvriendelik by.

 

 

Jy sien, Wolf is van plan om daardie aand een van die diere op sy spyskaart vir aandete te sit! Hy besluit om die hele dag niks te eet nie. In die namiddag sal hy rasend honger wees, en dan sal hy gaan jag vir ’n sappige stukkie vleis. Uiteindelik roep hy: “Geniet die dag, maters! Sien julle later.” Hy glimlag skelm terwyl hy wegstap.

Wolf neurie ’n vrolike deuntjie terwyl hy na die diere se watergat toe draf. Die water is helder en koel. Hy drink soveel as wat hy kan. Toe kry hy ’n slaapplek onder ’n groot, groen koelteboom.

Wolf droom soete drome oor die heerlike maaltyd wat hy later daardie dag gaan eet. Dit sal sekerlik ’n stuk gebraaide vleis, net so groot soos Koning Leeu s’n, wees! Wolf glimlag breed in sy slaap.

Die son sak al toe Wolf uiteindelik wakker word. Hy strek homself uit en skud die slaap uit sy honger lyf. Dan maak hy sy mond ’n paar keer wyd oop en toe om sy kakebeen te oefen sodat hy sy prooi op presies die regte plek kan byt.

“Wel, dis tyd om my aandete te gaan soek,” sê Wolf. “Ek is so honger soos ’n wolf, hie-hie-hie,” sê hy terwyl hy skud van die lag.

Vir ’n oomblik wonder Wolf in watter rigting hy moet loop. Moet hy links of regs draai wanneer hy by die hoë bome kom? Hy sien ’n plat klip in die sagte gras. Een kant is grys, en die ander kant is swart. “Ahaaaaa!” roep hy. “Ek sal die klip in die lug op gooi, en as dit op grys land, sal ek links draai, en as dit op swart land, sal ek regs draai.” Die klip land op swart. Wolf draai onmiddellik regs toe hy by die hoë bome kom. Hy huppel liggies terwyl hy deur die bome draf.

Nie lank daarna nie, gewaar Wolf sy eerste moontlike slagoffer – ’n klein, grys veldmuis.

“Nee, dis te klein,” dink Wolf. “Dis nie eens genoeg vir ’n voorgereg nie.”

Wolf draf verder, en dan sien hy ’n blougrys tortelduif. Die duif sit voor n groot boom en pik in die sagte grond rond op soek na wurms.

 

“Mmmm, liewer nie,” dink Wolf. “Sy is nog te klein, en ek is baie honger! Ek sal geduldig wees en kyk wat ek by die watergat raakloop.”

Toe Wolf naby die watergat kom, tjank hy van opgewondenheid. Dis amper te hard! Daar, reg voor sy oë, sien hy ’n toneel wat amper te goed is om waar te wees. Diere van alle vorms en groottes staan en water drink.

“Nou,” dink Wolf, “sal ek slim moet wees.”

Hy kruip stilletjies vorentoe en wag. Toe kruip hy baie stadig nog nader op sy maag. Hy moet versigtig wees, want diere kan baie goed ruik, en hy wil nie hê hulle moet agterkom hy is daar nie. Wolf sluip deur die laaste plaat lang gras. Hy is uitasem van opwinding, want reg voor hom staan ’n jong springbok rustig en water drink.

“Net reg,” fluister Wolf. “Nou is dit nog net daardie skerp klip in die blink water tussen my en my aandete.”

Toe Wolf spring, maak hy sy oë toe, maak hy sy mond wyd oop en klap hy sy kake hard op mekaar. Maar op daardie einste oomblik steek ’n by hom op die punt van sy neus.

 

 

“Aaaawhooo!” huil Wolf van die pyn. Die bysteek brand verskriklik! Maar die pyn in sy keel is nog erger. “Wat gaan aan? Die by het my nie in my keel gesteek nie!”

Toe kom Wolf agter dat die skerp klip in sy keel vassit. Hy het die springbok misgehap en die groot klip ingesluk!

“Ek moes my oë oopgehou het!” kreun hy vies terwyl hy stert tussen die bene wegdraf.

Aan die ander kant van die watergat sit al die diere in ’n ry soos toeskouers wat betaal het om na ’n vertoning te kyk. Hulle geniet elke oomblik van Wolf se penarie. Hulle brul van die lag. Van die klein diertjies rol heen en weer van pure plesier.

“’n Klip vir aandete!” brul Koning Leeu en lag te lekker. “Hierdie keer het Wolf sy les op die harde manier geleer!”

Toe rammel en dreun die oerwoud van die diere wat hardop lag. Hulle lag tot die grond bewe. Die grond bewe so erg onder Wolf se lyf dat die klip loskom en uit sy mond uit skiet. Die diere by die watergat hoor ’n dowwe getjank in die verte. Hulle glimlag almal vir mekaar, en toe is die bosveld weer stil en rustig.

 

[Get story active!] Raak doenig met stories!

  • Hoe voel jy oor dit wat met Wolf gebeur het? Voel jy jammer vir hom of nie? Sou jy anders gevoel het as Wolf die jong springbok gevang het?
  • Koning Leeu sê dat Wolf ’n les geleer het. Watter les dink jy het Wolf geleer?
  • Moes jy al ooit ’n swaar les leer? Hoe het jy gevoel toe jy die les geleer het?