Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Smerige Dassie

Author

Joanne Bloch

Illustrator

Heidel Dedekind

Translator

Anita van Zyl

Dumi Dassie lê op sy rug op ’n groot, plat rots, sodat sy wollerige maag in die son kan bak. Hy is byna aan die slaap toe hy ’n gegiggel hoor. Lui maak hy een oog oop. Twee klein dassies draf verby.

“FOEI!!!” sê een van hulle vir die ander een toe hulle veilig verby die rots is. “Daardie dassie ruik SLEG!” Hulle giggel nog toe hulle wegskarrel.

Dumi sug en klap na ’n vlieg wat om sy oor zoem. “Dis nie regverdig nie!” dink hy by homself. “Niemand verstaan my nie.”

En dis waar. Dumi ruik sleg, want hy is vuil. Hy is vuil, want hy bad nooit nie, maar niemand weet waarom nie. Die waarheid is dat Dumi bang is vir water. Eenkeer, toe hy nog ’n baba was, het hy kop eerste in ’n groot modderpoel geval. Dumi kon nie swem nie, maar gelukkig het sy ouboet hom aan sy agterbene uitgetrek. Sedert daardie dag kan Dumi dit nie verdra om naby water te kom nie. Wanneer die ander dassies elke oggend in die poel gaan was, sluip Dumi weg en gaan kruip in die bosse weg. Niemand kan hom sover kry om van plan te verander oor water nie – nie eens sy ma nie!

Die dae gaan verby – die somer is baie warm en dit reën nie. Dumi raak vuiler en vuiler. Sy pels is olierig en gekoek, en hy ruik aaklig. Om dit nog erger te maak, is daar ’n swerm vlieë wat hom agtervolg waar hy ook al gaan. Dumi hou natuurlik nie hiervan nie, maar hy maak of hy nie omgee nie.

Een oggend kom die oudstes van die dorp om met Dumi te praat. Hulle staan ver van hom af, en Dumi sien dat hulle hul neuse toeknyp en na hul asems snak.

“Ons is jammer, Dumi,” sê hulle, “maar soos jy weet, het dit lanklaas gereën. Daar is baie vlieë in die rondte. Vlieë hou van vullis, en omdat jy so smerig is, is die vlieë dol oor jou! Al hierdie vlieë gaan ons siek maak … Dit is beter dat jy weggaan uit die dorp.”

Arme Dumi! Hartseer sluip hy weg. Hy loop en loop. Die dag word warmer namate die son hoër in die blou lug opstyg. Dumi se kop voel swaar en sy voete is so seer! Uiteindelik voel hy hy kan nie ’n tree verder loop nie.

“Ek moet in die skaduwee kom!” sê hy, en kyk rond. Daar is nie baie bome in hierdie deel van die veld nie, maar hy sien ’n klein doringboom daar naby. Stadig hinkepink Dumi oor na die klein boompie toe. Hy gaan lê onder die boom en raak vas aan die slaap.

Ure gaan verby. Dumi slaap so vas dat hy nie die reënwolke in die lug sien saambondel nie. Die son verdwyn. Die lug word donker. Die lug raak koeler en koeler, maar nog steeds slaap die moeë dassie. Uiteindelik begin die reën neerplof.

Dumi word wakker. Vet reëndruppels spat oor sy hele lyf! In die dassiedorp skuil al die dassies onder die groot rotse teen die reën. Maar hier is daar nêrens vir Dumi om weg te kruip nie! Toe Dumi die eerste keer die reën sien en voel, skree en huil hy en rol homself in ’n klein wolballetjie op. “Help!” kerm hy. “Iemand help my!” Maar selfs die vlieë het padgegee, en Dumi is stoksielalleen.

Toe gebeur ’n vreemde ding. Terwyl die koel reën oor sy lyf stroom, besef Dumi dat dit lekker voel. Stadigaan bedaar hy, en na ’n rukkie waag hy dit selfs om sy oë oop te maak. “Die reën is mooi,” sê hy, “en dit laat die veld vars ruik!” Toe staan Dumi op en maak sy mond oop om die reëndruppels te drink. “Dit smaak ook lekker!” sê hy verwonderd. Hy is so bly dat hy sommer gou sy voet begin stamp en sy vingers klap.

Dis toe dat Dumi omdraai en al die pad tot by die dassie-dorp dans en sing: “Die reën! Die reën! Ek’s dol oor die reën! Imvula! Imvula! Imvula!”

Dumi kom teen sononder by die dorp aan. Nie een van die ander dassies sien hom nie – hulle skuil almal onder die groot rotse teen die reën. Dumi gee nie om nie. Hy is in elk geval gewoond daaraan om alleen te wees, en hy voel so gelukkig! Hy eet ’n paar blare vir aandete, kruip onder ’n bos in en raak weer vas aan die slaap.

Toe Dumi wakker word, het die reën opgehou en die dorp lyk skoon en vars. Toe die son opkom, verskyn ’n tapyt van helderpienk blomme.

“Sjoe!” sê hy en kyk om hom rond.

Net toe kom al die ander dassies na hom toe aangestap. Hulle is op pad na die poel toe om te gaan was. Hoe verbaas is hulle nie om die nuwe, skoon, vars Dumi te sien nie!

“Dumi! Wat het gebeur?” vra hulle almal en drom om hom saam. Maar in plaas daarvan om te praat, begin Dumi sy voet stamp en sy vingers klap … en gou dans en sing hy weer. Al die dassies val in, terwyl hulle koers kies na die poel toe: “Die reën! Die reën! Ons is dol oor die reën! Imvula! Imvula! Imvula!”

Wees kreatief!

Gee vir jou kinders groot velle papier en stel voor dat hulle prente teken van hoe Dumi Dassie oor water gevoel het aan die begin of aan die einde van die storie – of albei!