Hond | Nal'ibali

Written stories

Hond

Author

Kai Tuomi

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Anita Van Zyl

Toe die wêreld nog jonk was, was Hond ’n wilde dier. Hy het die land alleen deurkruis. Snags het hy met sy kop op sy wollerige pote gelê en sy grot bewaak.

Nobantu, die eerste vrou, het in ’n klein hut naby Hond se grot gewoon. Een aand toe sy huis toe stap, sien Nobantu hoe Hond met sy kop op sy wollerige pote met een oog oop lê en slaap. Sy voel jammer vir hom.

“Ek wonder wat ek kan doen om vir Hond te help?” dink sy. “Hy lyk so eensaam.”Terwyl Nobantu aan ’n plan dink, word Hond wakker en blaf vir haar.“Hond,” roep sy, “jy hou so goed wag.”

“Ja,” grom Hond, “ek hou die beste wag in die hele bosveld. My ore is so goed dat ek die sagste geluid kan hoor, my oë kan in die donker sien, en ek slaap altyd met een oog oop.”

“Ongelooflik,” sê Nobantu. “Kan jy my asseblief leer hoe om net so goed soos jy wag te hou? Kom môre teen sononder na my hut toe. As jy kom, sal ek vir jou lekker warm kos gee om te eet.”

 

Hond het nog nooit voorheen lekker warm kos geëet nie, maar dit klink goed.Met sononder die volgende dag, stap Hond deur die bosveld tot by Nobantu se hut. Hy groet haar en grom: “Hou my nou mooi dop. Ek sal jou leer hoe om goed wag te hou.”

Toe gaan lê Hond buite Nobantu se hut met sy kop op sy wollerige pote. Hy raak aan die slaap met een oog oop.

Daardie nag jaag hy ’n paar wilde diere weg. Die volgende oggend bring Nobantu vir hom lekker warm kos in ’n ou blikkommetjie.“Hierso,” sê Nobantu.Hond verorber die kos.“Het ek jou geleer hoe om goed wag te hou?” blaf hy.

“Ek dink ek weet amper hoe,” antwoord Nobantu met ’n glimlag, “maar dalk kan jy my vanaand weer wys. As jy dit doen, sal ek vir jou lekker warm kos gee EN ek sal vir jou ’n bed maak om op te slaap.”

Hond lek sy lippe af. Die warm kos was heerlik en hy het nog nooit voorheen op ’n bed geslaap nie.

Met sononder stap Hond deur die bosveld tot by Nobantu se hut. Net soos wat sy belowe het, wag daar ’n bed vir hom. Dis sag en gemaklik – baie gemakliker as ’n grotvloer – en Hond raak dadelik aan die slaap met een oog oop.

Daardie nag jaag hy ’n paar wilde diere weg. Die volgende oggend bring Nobantu vir hom lekker warm kos in ’n ou blikkommetjie.“Hierso,” sê Nobantu.Hond verorber die kos.“Het ek jou geleer hoe om goed wag te hou?” blaf hy.

“Ek dink ek weet amper hoe,” antwoord Nobantu met ’n glimlag, “maar dalk kan jy my vanaand weer wys. As jy dit doen, sal ek vir jou lekker warm kos gee, jy kan weer op die bed slaap, EN ek sal jou rug krap.”Hond lek sy lippe af. Die warm kos was heerlik en die bed was gemaklik – baie gemakliker as ’n grotvloer – en niemand het nog ooit sy rug gekrap nie.

Met sononder stap Hond deur die bosveld tot by Nobantu se hut. Hy gaan lê op die bed. Nobantu sit langs hom en krap sy rug. Hoe salig! Hond blaf van geluk, en raak dan op die bed aan die slaap met een oog oop.

Daardie nag jaag hy ’n paar wilde diere weg. Die volgende oggend bring Nobantu vir hom lekker warm kos in ’n ou blikkommetjie. Hond verorber die kos.

“Jy weet, Nobantu,” blaf Hond, “ek het nou drie nagte in ’n ry my bes probeer om jou te leer hoe om goed wag te hou, maar dit lyk nie of jy dit onder die knie kry nie. Ek dink nie jy gaan ooit leer hoe om dit te doen nie.”“Nie?” vra Nobantu met ’n glimlag.

“Nee, ek dink nie so nie,” antwoord Hond. “Die probleem is dat jy binne slaap, jou ore is te klein, en jy kan nie in die donker sien nie. Ek het ’n beter idee. In plaas daarvan dat ek vir JOU leer hoe om goed wag te hou, kan ek liewer wag hou buite jou hut. In ruil daarvoor kan jy vir my kos gee, ’n bed om op te slaap en jy kan my rug krap.”

“En wat van speel?” vra Nobantu.“Speel?” frons Hond.Nobantu wys vir Hond hoe om met ’n stok te speel. Dis fantasties!

Toe hulle klaar is, stem hulle saam dat Hond sal bly en Nobantu se waghond sal wees.Toe die son daardie aand sak, raak Hond op sy bedjie aan die slaap met ’n glimlag op sy gesig, en albei oë toe.

En dit is hoe hy en sy kinders, en hulle kinders se kinders by mense gaan bly het, en dit is waarom honde nie meer wilde diere is wat in die bosveld ronddwaal en stoksielalleen in grotte slaap nie.