Grote Koei!

Written stories

Grote Koei!

Author

Deur Koketso Tsemekwane

Illustrator

Illustrasies deur Heidel Dedekind

Listen to the story here

In die ou dae het Koei en Kat op Toutswemogala-heuwel gewoon. Hulle het hierdie heuwel met al die ander diere gedeel. Die diere het meestal almal in vrede en harmonie saamgeleef.

Koei was ’n baie spesiale dier, want sy was die enigste dier wat ’n mogogolwane, ’n pragtige mantel, het. Elke oggend haal sy haar mogogolwane uit, hang dit om haar skouers en roep die diere bymekaar.

 

 

Koei lyk soos ’n regte godin waar sy in haar pragtige versierings staan. Sy is vol wysheid en gee advies oor alles, klein en groot.

Ongelukkig het niemand juis van Kat gehou nie. Die ander diere glo Kat is slinks, en hulle vertrou haar nie. Hoekom sluip sy snags rond en lê dan heeldag lui in die son en slaap? Hulle is seker Kat is besig met kattekwaad.

Op ’n dag kom Kat na Koei toe om raad te vra. Kat vra: “Koei, hoekom hou jy en die ander diere nie van my nie?”

Koei moe net, draai haar mogogolwane stywer om haar skouers en stap weg sonder om te antwoord.

“Koei,” miaau Kat, “ek wil weet hoekom jy nie van my hou nie. Jy is veronderstel om na almal van ons om te sien, en selfs al help jy al die ander diere, is jy nooit gaaf met my nie.”

Kat gaan elke dag terug na Koei toe met geskenke en wil weet hoekom niemand van haar hou nie. Sy bring soet, vars gras uit die vallei en silwerskoon, koel water uit die stroom. Maar al probeer Kat ook hoe hard, Koei en die ander diere hou steeds nie van haar nie. Hulle hou aan om haar te ignoreer, en dit maak Kat baie hartseer.

So gaan dit aan totdat Kat op ’n dag vir Koei sê: “Genoeg is genoeg,” en wegtrek.

Dit neem ’n rukkie voor die muise begin amok maak. Toe kom die ander diere na Koei toe om te kla. Hulle is baie ontsteld. “Grote Koei!” roep hulle terwyl hulle snork en grom en bulk en blaas en skree.

“Koei, jy moet iets doen,” brul Leeu.

“Die muise is oral – waar ons slaap, waar ons eet, selfs waar ons drink,” snork Seekoei.

Eers toe begin Koei en die ander diere besef watter belangrike werk Kat snags gedoen het terwyl hulle almal geslaap het.

As die leier van Toutswemogala, roep Koei ’n soekgeselskap bymekaar om na Kat te gaan soek. Hulle begin almal hoog en laag soek. Sewe dae lank soek hulle hier en daar en oraloor.

Toe hulle uiteindelik vir Kat opspoor, tree Kameelperd – wat haar eerste gewaar het – vorentoe. “Kat,” sê Kameelperd, “al die diere mis jou. Ons dink nie meer dat jy slinks en vol kattekwaad is nie. Hoe meer die muise ons pla, hoe meer mis ons jou. Ons het jou nodig, en ons hou van jou. Kom asseblief saam met ons terug na Toutswemogala.”

 

 

Kat voel baie gelukkig toe sy saam met die ander diere terugstap na Toutswemogala toe. Sy eet elke nag die muise en verjaag hulle uit elke hoekie en gaatjie. Al die diere is baie gelukkig, maar Koei is nou die gelukkigste, want daar is weer rus en vrede in Toutswemogala. En van daardie dag af is Koei en Kat baie goeie vriende, en Koei bêre elke dag vir Kat ’n slukkie melk.

 

[Get story active!] Raak doenig met stories!

  • Teken ’n prent van ’n muis.
  • Gebruik klei of speeldeeg om modelle van ’n koei, ’n kat en ’n kameelperd te maak. Gebruik jou kleidiere om die storie op te voer.
  • Skryf jou eie einde vir die storie. Stel jou voor Kat het geweier om terug te gaan na Toutswemogala. Wat dink jy sou gebeur het?