Die windmakerige klein vinkie | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Die windmakerige klein vinkie

Die windmakerige klein vinkie

Author

Nicky Webb

Illustrator

Vian Oelofson

Daar was eenmaal ’n klein vinkie wat baie trots was op sy pragtige geel vere en blink swart snawel. Hy het in die riete langs die rivier gesit en vir almal wat wou luister, geskree: “Kyk na my! Is ek nie pragtig nie? Kyk na my heldergeel vere! Kyk hoe blink my snawel in die son!”

 

Die ander voëls en diere het nie van die vinkie gehou nie. Hy was nie net windmakerig nie, hy was ook gemeen.

 

“Hei, Krokodil!” skree Vinkie, “Jy het rêrig lelike tande. Hulle is lank en ongelyk en geel, en daar sit stukkies vleis tussen jou tande vas! Sies! Ek weet sommer jy wens jy het so ’n pragtige snawel soos ek gehad!”

 

Krokodil gly onder die water in en dink oor hoe lekker dit sou wees as Vinkie tussen sy tande kon vassit!

 

Toe dit tyd raak vir Vinkie om ’n nes te bou, is hy weer ene windmaker. In plaas daarvan om soos die ander voëls stukkies gras en riete en vere te kies, tel hy stukkies blink papier en skitterende lekkergoedpapiertjies op, wat hy in sy nes inweef. Toe hy klaar is, skitter en vonkel sy nes in die son. “Haai, almal,” roep Vinkie. “Kyk na my nes. Is dit nie manjefiek nie? Kyk hoe blink dit in die sonlig!”

 

 

n Skilpad kruip verby die riete en gaan staan om na Vinkie se vreemde nes te kyk. Wens jy nie jy het n huis soos myne nie, Skilpad?” tjirp Vinkie. Jou huis is so vaal en vervelig. Kyk hoe skitter myne.”

Skilpad skud sy kop. Ek is gelukkig met my dop, Vinkie. Dit hou my veilig, en dit is al wat vir my belangrik is.”

 

Toe steek n klein veldmuisie haar kop by n hoop droë blare uit. n Stukkie foelie in Vinkie se nes vang haar oog. Sjoe, Vinkie, maar jou nes is darem baie blink,” piep sy.

 

Vinkie pof sy vere op. Is dit nie?” sê hy trots. Is jy nie moeg om tussen bruin blare en takkies te woon nie, Muis? Jou huis lyk so saai en oninteressant.”

 

Nee, Vinkie,” sê Muis. As jy so klein soos ek is, wil baie ander diere jou opeet. Wanneer ek n tonnel in my hoop blare grawe, kan niemand my sien nie, en so word ek nie opgeëet nie. Ek is eerder bang Jan as dooie Jan.”

 

Ek is seker jys net jaloers,” snuif Vinkie met sy snawel in die lug.

 

Naby die rivier is daar n groot slang wat die hele winter geslaap het. Toe hy wakker word, is hy baie honger, en hy gaan soek iets lekkers om sy maag vol te maak. Hy sien die klein skilpad wat in die son lê en bak. Skilpad gee een kyk na Slang se flitsende tong en klein kraalogies en trek dadelik sy kop diep in sy dop in. Slang voel-voel n paar keer aan Skilpad, maar dit lyk of dit net n harde dop is, en daarom gaan soek hy na iets waarin hy sy tande kan laat wegsink.

 

Sommer gou sien Slang vir Muis raak, wat saadjies en ander lekkernye vir middagete versamel. Hy seil na haar toe en probeer om nie n geluid te maak nie, maar sy maag wat so grom, verklap hom. Muis hardloop weg so vinnig soos wat haar kort beentjies haar kan dra en skarrel vinnig tot onder in haar hoop droë blare. Sy lê doodstil en roer nie n snorbaard nie. Slang voel-voel aan die blare, maar sy maag grom nou kliphard. Hy is te honger om deur al daardie blare te soek na iets om te eet wat so klein soos Muis is, en hy seil weg.

 

Kort voor lank is hy by die rivier. Daar sien hy die vreemdste ding raak. Dit lyk net soos n nes, maar dit skitter en blink in die helder sonlig. Slang sien hoe Vinkie in die nes invlieg. Snaaks dat n voël nie sal probeer om sy nes vir n honger slang weg te steek nie,” sê Slang vir homself.

 

Hy seil suutjies tot by die rivier en seil teen die riete op tot by Vinkie se nes. Gelukkig sien die ander voëls hom net toe hy sy kop in die nes wil insteek en die klein voëltjie wil opeet. Hulle kwetter en kweel om Vinkie te waarsku. Vinkie skiet net betyds uit sy nes uit en slaag daarin om weg te kom, maar Slang stamp die pragtige nes grond toe, waar dit uitmekaarval.

 

“Dit sal jou leer, Vinkie, omdat jy so ’n windmaker is,” tjirp die ander voëls.

 

“En kyk!” roep ’n klein voëltjie, “jou vere het bruin geword!”

 

Vinkie kyk geskok na sy vlerke. Hulle is inderdaad heeltemal bruin. Hy voel baie skaam. Hy is amper opgeëet, sy huis is verwoes, en sy pragtige geel vere is nou net bruin en gewoon, net soos baie van die ander voëls s’n.

 

Vinkie het sy les geleer. Hy hou hom nie meer so windmaker nie en is vriendeliker met die ander diere. Al word sy vere weer geel, word dit tot vandag toe nog elke winter weer bruin om hom te herinner aan hoe dwaas hy was.

 

 

Die windmakerige klein vinkie

  • Gebruik klei, speeldeeg of selfs wondergom om die karakters in die storie te maak, of teken jou eie prente van die karakters en knip hulle dan uit. Gebruik jou karakters om die storie op jou eie manier oor te vertel!
  • Ken jy enige ander stories waarin slange of voëls voorkom? Wat gebeur in hierdie stories? Is daar enige ooreenkomste met hierdie storie?