Nie so lank gelede nie, trouens, in die tyd toe my ooroumagrootjie nog ’n jong meisie was, was daar ’n hoender en ’n koei wat vriende was.
Eendag, terwyl hulle in die lande stap, pof Hoender haar vere op en wikkel haar stertvere. Sy is rusteloos. Koei sien dit raak terwyl sy stadig staan en herkou.
“Wat’s fout, Hoender?” vra Koei terwyl sy haar stert heen en weer piets.
“Hoor jy dit?” Hoender kyk in die lande rond, en dan weer na Koei.
“Nee,” sê Koei. “Is ek veronderstel om iets te hoor?” Koei draai haar kop hierdie kant toe en daardie kant toe sodat die groot ou klok om haar nek klingel en klangel. Dit maak ’n harde geluid wat oor die doubedekte lande rol.
“Dis presies wat ek bedoel,” sê Hoender. “Daar is geen ander dieregeluide op hierdie plaas nie. En hoekom dink jy is dit so?”
Koei bly herkou terwyl sy oor die vraag nadink.
“Omdat,” sê Hoender onbeskof terwyl Koei nog staan en dink, “die boer al ons vriende en familielede weggestuur het om geslag te word.”
Koei skrik so groot dat sy haar herkoutjie heel insluk. Sy breek ’n harde wind op, wat glad nie is soos ’n dame haar gedra nie!
“Ons moet ontsnap, want een van ons is volgende! Ons moet wegkom voor dit gebeur,” sê Hoender.
“Ontsnap?” vra Koei terwyl sy met groot oë na Hoender staar.
“Ja, ons moet vanaand ontsnap! Maar ons moet versigtig wees vir die boer. Ons moet seker maak hy sien of hoor ons nie,” sê Hoender. Koei knik instemmend.
Daardie aand, toe die ligte in die plaashuis afgaan en hulle die boer kan hoor snork, val Hoender en Koei in die pad.
Hoender byt met haar snawel aan die klepel van Koei se klok vas, want hulle moet so stil moontlik wees as hulle wil wegkom sonder dat iemand hulle hoor.
Toe hulle in die Groot Groen Woud kom, laat los Hoender Koei se klok en hulle staan vir ’n rukkie doodstil en luister. Hulle het geen idee waarheen hulle op pad is nie en voel so ’n bietjie bang.
Op ’n tak bo hulle hoor hulle ’n swaeltjie roep.
“Haai, vreemdelinge! Hier! Hier bo! Het julle verdwaal …?” wil Swaeltjie weet.
“Nee, ons het nie. Ons het weggeloop van die plaas af, want die boer het al ons vriende en familie gestuur om geslag te word. Een van ons, of albei, is volgende, en daarom het ons besluit om weg te loop,” antwoord Hoender.
“Nie slim nie, nie slim nie,” roep Swaeltjie van bo af. “Die Groot Groen Woud is vol wilde diere, en dis nou juis die tyd wanneer die groot katte rondloop op soek na ’n lekker maaltyd – soos ’n sappige, smaaklike koei of ’n hoender. As julle my vra, sou ek sê julle het nou van die wal af in die sloot beland.”
“Wel, ons kan nie teruggaan nie …” sê Koei, en kyk benoud rond.
“Hoekom nie?” kwetter Swaeltjie. “Al wat julle hoef te doen, is om vir die boer te wys dat daar ’n beter manier is.”
“’n Beter manier?” kloek Hoender. Sy kan nie glo wat sy hoor nie.
“Ja,” sê Swaeltjie. “Onthou, ek is die Koning se raadgewer. Ek weet hoe hierdie dinge werk. Julle moet vir die boer wys wat julle werklike waarde is.”
Die res van die aand sit die drie saam en dink en gesels om ’n plan te beraam.
Gelukkig is die Groot Groen Woud ’n towerwoud waar enigiets moontlik is, en daarom stuur Swaeltjie al die voëls in die woud uit om soveel groentesaad as wat hulle kan vind, bymekaar te maak.
Toe al die saad veilig bymekaar gemaak is, kyk Swaeltjie na die twee vriende.
“Julle moet al hierdie saad terugneem na die plaas toe en dit in die landerye plant wat die boer reggemaak het. Maar elke saadjie moet voor die toweruur in die grond wees.” Swaeltjie kyk na Hoender en Koei en toe na die maan. “Julle moet gou maak. Daar is baie saadjies en die tyd is min.”
Hoender en Koei sukkel om al die saadjies tussen hulle twee teruggedra te kry, maar kort voor lank is hulle besig om die saadjies so vinnig as moontlik in die landerye te plant.
Net toe Hoender die laaste saadjies met ’n bietjie grond toekrap, slaan die toweruuur en Unkulunkulu maak die hemel se sluise oop. Sagte reën sak uit op die saadjies wat hulle geplant het en al die verskillende soorte saadjies ontkiem en begin groei. Sommer gou staan daar groente so ver as wat die oog kan sien. Die boer se landerye lyk lieflik.
Toe die boer daardie oggend na sy lande toe stap, kan hy sy oë nie glo nie. Daar staan mandjies vol vars groente in netjiese rye, en dan is daar ook nog baie eiers en ’n klomp emmers vars melk. Hoender en Koei staan daar naby en lyk baie trots. En die boer weet dis alles te danke aan hulle harde werk.
Die boer is baie dankbaar, en van daardie dag af het die boer, Hoender en Koei gelukkig saam op die plaas gewoon.
[Get story active!] Raak doenig met stories!
- Kies ’n deel van die storie wat nie ’n illustrasie het nie en teken ’n prent daarvoor. Skryf die woorde van die storie neer wat by jou prent pas, of vra iemand om jou te help om dit te doen. Plak die bladsy met die storie onder jou prent vas.
- Maak of jy Koei en Hoender is. Skryf ’n briefie om vir Swaeltjie dankie te sê dat hy jou gehelp het.
- Begin jou eie klein tuintjie in ’n plastiekbottel. Laat die bottel plat lê, met die oopgesnyde kant na bo. Maak die bottel vol goeie grond. Plant ’n paar boontjies en maak dit nat. Plaas jou tuintjie in die son.