Lank gelede was daar ’n ou vrou wat die lekkerste sop by die mark op die dorp verkoop het. Dit was heerlike, warm hoendersop. Niemand in die dorp het geweet wat die ou vrou se naam is nie. Niemand het geweet waar sy woon nie. En niemand het geweet waarom haar sop so smaaklik is, of so warm nie. Hulle het nie eens hieroor gedink nie. Hulle het net die sop gekoop en dit geëet.
Die ou vrou het elke oggend na die mark toe gekom. Sy het altyd die groot swart pot vol hoendersop op haar kop gedra en dan met die pot onder ’n boom in die skaduwee gaan sit. Kort voor lank sou al die sop verkoop wees. Dan sou sy versigtig haar geld in ’n lappie toevou, dit in haar sak sit, die leë pot weer op haar kop sit en vertrek.
In die dorp, nie ver van die mark nie, het ’n seun met die naam Fezile gewoon. Hy het baie van die hoendersop gehou. Eintlik was hy versot daarop en kon nie genoeg daarvan kry nie. Hy wou uitvind waar die ou vrou wat sulke lekker sop maak vandaan kom. Eendag, toe die ou vrou haar leë pot op haar kop sit en die mark verlaat, volg Fezile haar. Hy is versigtig om in die skaduwees te bly, en agter die bome en bosse, sodat sy hom nie moet sien nie. Hy volg haar baie, baie ver met ’n paadjie langs wat weg van die dorp af lei en toe op teen ’n steil heuwel. Hy is nog besig om op, op, op te klim toe dit donker word. Fezile is bang, maar hy hou aan loop.
Uiteindelik kom die vrou by ’n klein huisie op die steil heuwel aan. Sy sit die pot voor die huis neer. Fezile wag totdat die vrou binnetoe gaan en die deur toemaak. Toe kruip hy nader om in die pot te loer. Skielik hoor Fezile die deur oopgaan. Hy kruip vinnig op ’n plek weg waar hy die ou vrou maklik kan sien. Sy stap na die pot toe en begin sing:
“Towerpot, towerpot,
Kook sop vir my, ’n hele lot.
Kook sop met hoender. Kook hoendersop.
Kook sop vir koop en vir verkoop.
O towerpot, o towerpot!”
Sommer gou is die pot vol hoendersop! Die stoom trek uit die groot, swart pot en dit ruik so lekker dat Fezile honger raak. Toe die ou vrou weer terug is in die huis, kruip Fezile nader aan die groot pot. Hy kyk onder die pot. Al is die pot boordensvol warm hoendersop, brand daar geen vuur onder die pot nie. “Ek moet van hierdie sop eet,” sê Fezile vir homself. “Ek is so honger!” Hy strek vorentoe en steek sy hand in die pot om ’n stukkie hoender te gaps. Skielik kom die ou vrou uit haar huis uit en sien vir Fezile met sy hand in die pot. “Ai! Ai! Ai!” skree sy. “NEE! NEE! NEE!” Fezile draai om en hardloop so vining as wat hy kan. Die ou vrou hardloop skreeuend agter hom aan, maar sy kan hom nie vang nie.
Fezile hardloop en hardloop tot hy uiteindelik veilig by die huis kom. Hy vertel vir sy ma en pa van die ou vrou en haar towerpot. Hulle gaan almal buitentoe en kyk op na die heuwel. Daar sien hulle stoom in die lug opstyg. “Ja,” sê Fezile se ouers, “kyk daar. Ons kan die stoom uit die towerpot sien trek.” Die ou vrou het nooit weer na die mark toe gekom nie, en niemand het daardie steil heuwel aangedurf om haar te besoek nie. Hulle was almal te bang. Maar van toe af sê die dorpenaars elke keer wanneer hulle wolke rondom die heuwel sien: “Kyk! Kyk daar bo! Dit is die stoom uit die ou vrou se towerpot.”