Busi se gawe

Written stories

Try our growing collection of stories to print out or read aloud at home with the whole family.

Busi se gawe

Author

Oorvertel deur Joanne Bloch

Illustrator

Illustrasies deur Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Busi is ’n klein groen paddatjie wat saam met haar gesin langs ’n kronkelende rivier in die Drakensberge woon. Busi is ’n gelukkige paddatjie, maar een ding maak haar ongelukkig. Sy lyk anders as haar broers, haar susters, en al die ander paddas. Haar gesig lyk dieselfde. Haar lyf lyk dieselfde. Maar een van Busi se agterbene is ekstra lank en dik. Soms terg die ander paddatjies haar oor haar vreemde been, en dit laat Busi nog slegter voel. 

 

“Ek wens ek het soos al die ander gelyk!” sê sy dikwels met ’n sug. “As ek net nie so lelik was nie!” 

 

“Dis sommer twak!” sê Oupa Padda. 

 

“Oupa is reg!” sê Mamma Padda. “Hoe kan so ’n spesiale klein paddatjie sulke bog praat?” 

 

Maar Busi glo hulle nie. Wanneer die paddas tydens die lang somersaande op die wal van die rivier sit en kwaak, sit Busi agter die res van hulle sodat niemand haar ekstra lang agterbeen moet sien nie. En wanneer hulle vlieë vir middagete vang, steek sy daardie been weg sodat sy meer soos die ander lyk. 

 

 

Verder af met die rivier, in ’n donker grot hoog in die berge, woon ’n nare arend. “Bly ver weg van daardie arend!” waarsku Mamma Padda dikwels. 

 

Op ’n dag, toe Busi baie hartseer voel, besluit sy om alleen te gaan swem. “Ek is te lelik om met die ander te speel,” dink sy. “Ek sal liewer die dag alleen deurbring.” 

 

Die klein paddatjie swem ’n lang ruk, en toe kruip sy uit die water om op die gras van die rivierwal te rus. Terwyl sy daar in die son lê, kyk sy op en sien die arend se nes. 

 

“Ek moet liewer nie hier bly nie!” dink sy. Sy is op die punt om weer in die rivier in te spring, toe sy stemme van die grot af hoor kom. 

 

“Meneer,” hoor Busi ’n kind se stem sê, “ek het die grot uitgevee en u middagete gemaak. Mag ek asseblief nou rivier toe gaan terwyl u eet, sodat ek my rok kan was? Dis die enigste rok wat ek nou het, en dis baie vuil.” 

 

“Dink jy ek is ’n gek, klein dogtertjie?” skree ’n harde, kwaai stem. “As ek jou naby die rivier laat kom, sal jy net weghardloop!” 

 

 “O, nee, Meneer,” hoor die paddatjie die kind sê. “Ek sal nie weghardloop nie. U sal weet ek is nog daar, want u sal hoor hoe ek my nat rok teen die rotse slaan totdat dit skoon is.” 

 

“Nouja, goed dan,” sê die nare arend, “maar maak gou, want daar is nog baie werk vir jou!” 

 

Busi sien hoe ’n jong meisie in ’n baie vuil rok aanstap rivier toe. Sy gaan sit op die rots langs Busi en begin huil. 

 

“Moenie huil nie, klein dogtertjie,” sê die paddatjie sag, maar die kind huil net al hoe meer. 

 

“O, Paddatjie,” snik sy, “ek sal nooit weer kan huis toe gaan nie! Daardie nare arend het my laas week uit my dorpie gesteel, en nou is ek sy slaaf!” 

 

Net toe hoor hulle die arend se kwaai stem uit sy grot roep: “Is jy nog daar, meisiekind? As ek nie binnekort ’n geslaan hoor nie, is jy in GROOT moeilikheid!” 

 

“Liewe maat,” sê Busi vinnig, “jy het nie tyd om te mors nie! Gee vir my jou rok, en hardloop dan so vinnig as wat jy kan weg. Ek sal die rok teen hierdie rotse slaan, en die arend sal die geraas hoor. Teen die tyd dat hy uitvind dat jy weg is, sal jy weer tuis by jou ma wees!” 

 

“Jy’s so gaaf, Paddatjie,” sê die meisie. “Maar hoe kan ’n klein diertjie soos jy die rok hard genoeg slaan om ’n harde geraas te maak?” 

 

“Wel,” sê Busi, “jy het nog nie my spesiale sterk been gesien nie!” 

 

Skamerig wys die paddatjie vir die klein dogtertjie haar lang, dik agterbeen, wat soos gewoonlik onder haar ingevou is. Toe weet die kind sy het ’n kans. Sy trek haar rok uit en doop dit in die water. Toe dit nat is, kap sy dit ’n paar keer teen ’n groot rots. Toe gee sy vining die rok vir Busi aan. Sy soen die paddatjie op haar voorkop, fluister: “Dankie,” en hardloop weg. 

 

KLAP! KLAP! KLAP! maak die nat rok, terwyl Busi dit vir ’n lang ruk teen die rots slaan. Haar ekstra lang been is so sterk dat dit vir haar maklik is om ’n harde geraas te maak. Dit is eers toe die arend weer vir die meisie skree om gou te maak dat Busi die rok neergooi, kaplaks in die rivier spring en vinnig wegswem. 

 

“Uiteindelik!” sê Busi se mamma toe Busi by die huis kom. “Waar was jy?” 

 

Terwyl sy Busi styf vasdruk, sien sy ’n skitterende edelsteen op die klein paddatjie se voorkop, daar waar die klein dogtertjie haar gesoen het. 

 

“Kyk hoe pragtig is jy!” sê Mamma Padda, en al Busi se boeties en sussies stem saam. Toe Busi haar weerkaatsing in die water sien, gee sy ’n breë paddaglimlag. Sy is bly dat sy so mooi lyk. Maar bo alles, is sy bly dat haar ekstra lang been toe glad nie so ’n slegte ding is nie.