Die oggendson skyn helder waar Lulu op ’n grasspriet op haar skool se sportveld sit. Vandag is atletiekdag by die insekte se laerskool. Lulu is baie opgewonde. Sy neem deel aan hoogspring. “Vlooie kan baie hoog spring!” skree sy toe sy op ’n klip spring, toe op ’n takkie en uiteindelik op ’n boomtak daar naby. Lulu kyk uit die boom af en sien hoe die ander insekte gereedmaak vir die dag se gebeure. Die insekte voel almal baie selfversekerd, want hulle het hard geoefen om gereed te wees vir vandag se byeenkoms.
Sprinkaan strek sy agterbene. “My bene is baie sterk. Ek dink ek sal vandag goed vaar in vêrspring,” sê hy. “Ek dink ek sal my resies wen,” sê Kakkerlak terwyl sy die laaste happie pannekoek eet en haar mond met haar vlerk afvee. Naaldekoker, Muskiet, By en Vlieg klap hul vlerke terwyl hulle stry oor wie die hoogste sal kan vlieg. “Die hoogvliegitem is ’n baie spesiale item,” sê Naaldekoker. “Nie alle insekte het vlerke nie, maar dié van ons wat het, kan baie hoog vlieg. Ek dink ek gaan vandag die beker wen.” Miskruier weet hy sal die bal met sy sterk agterbene die verste kan stoot.
Mier weet haar span sal die aflos wen, want hulle oefen al maande lank om die stokkie vir mekaar aan te gee. En Skoenlapper weet sy sal oor al die hindernisse in die hindernisresies kan vlieg. Lulu voel ook selfversekerd. “Ek sal vandag die hoogste spring,” sê sy. “Zara dink sy kan my wen, maar ek gaan die beker wen!” En daarmee gee Lulu ’n yslike sprong van die boomtak af en beland … op iets harigs. “Waar is ek?” roep Lulu verward. Lulu was besig om te dagdroom en het nie gesien hoe Apie teen die boom opklim nie. Nou sit sy in sy hare vas! Toe hoor Lulu Juffrou Skilpadbesie se aankondiging: “Goeiemôre, goeiemôre. Welkom aan al die atlete, hul gesinne en ons toeskouers! Maak gereed, want ons is amper reg om te begin. Al die atlete moet asseblief in die middel van die veld bymekaarkom.” Lulu kan die raserige toeskouers hoor lag, hande klap en juig. Maar Lulu en die skare toeskouers weet nie van die paddas wat onder die boomblare op die grond wegkruip nie. Hulle sit net en wag vir die regte oomblik om uit te spring en aan al die heerlike insekte te begin smul!
Lulu probeer intussen om haar uit Apie se hare los te wikkel, maar sy maak dit net erger. Toe skree sy so hard as wat sy kan: “Help! Help! Iemand help my, asseblief!” Maar niemand kan haar piepstemmetjie bo die raserige insekte hoor nie.
Toe hoor Lulu hoe Juffrou Skilpadbesie sê: “Die hoogspring vir meisies sal binnekort begin. Almal wat wil deelneem, moet asseblief na die hoogspringpunt toe gaan.” “Ag, nee,” skree Lulu. “Ek gaan my item misloop!” Sy probeer deur Apie se pels beur, maar dis te dik. Lulu begin huil. Sy het so hard geoefen vir hierdie dag en nou gaan sy nie kans kry om deel te neem nie.
Ná ’n rukkie hoor Lulu hoe Juffrou Skilpadbesie sê: “Die hoogspring vir meisies verloop goed. Dit is Zara se laaste sprong. Die dwarslat is baie hoog. Kom ons kyk of sy dit maak.” Net toe onthou Lulu haar ma se woorde: “Selfs al lyk dinge hopeloos, kan jy altyd ’n plan maak, Lulu.” Toe maak Lulu sommer ’n blink plan. “Ek is ’n vlooi,” sê sy vir haarself. “Ek kan byt. Wanneer ek byt, sal dit aanhou jeuk.” En dis toe presies wat Lulu doen – sy byt vir Apie soveel keer as wat sy kan. “Waaaah!” skree Apie. “Iets byt my! Dit jeuk verskriklik.” Hy krap so hard dat hy Lulu uit sy pels uit krap en sy trek deur die lug. “Wieeeee!” skree Lulu toe sy oor die hoogspringpale se dwarslat seil!
Zara kan haar oë nie glo nie. “Waar kom jy vandaan, Lulu?” vra sy verbaas. Voor Lulu kan antwoord, verloor Apie sy balans en val uit die boom. Hy beland op die paddas, wat so groot skrik dat hulle links en regs spring om weg te kom. Die perdebye swerm om die ander insekte om te keer dat hulle geëet word. En toe jaag hulle al die paddas weg.
In die deurmekaarspul dink almal dat Lulu die hoogspringitem gewen het, maar Lulu sê: “Nee, ek het nie gespring nie. Apie het my oor die dwarslat laat vlieg. Zara het die hoogspring gewen.” Juffrou Skilpadbesie oorhandig die beker aan Zara. “Baie geluk, Zara, ons is trots op jou,” sê sy. Toe draai sy na Lulu toe. “Ons is ook trots op jou, Lulu. Jy was eerlik en het seker gemaak Zara kry die beker.
Jy het ons ook van daardie aaklige paddas gered! Ek dink jy verdien ook ’n beker.” Toe gee sy vir Lulu ’n beker omdat sy eerlik en dapper is. Almal klap hande en Zara gee vir Lulu ’n stywe drukkie. Aan die einde van die dag stem al die insekte saam dat dit beslis die opwindendste atletiekdag is wat hulle nog ooit gehad het!
Raak doenig met stories!
- Maak ’n lys van al die insekte in die storie. (WENK: Daar is 12 insekte.)
- Teken ’n insek waarvan jy hou en skryf HOU VAN onder die tekening.
- Teken nou ’n insek waarvan jy nie hou nie en skryf HOU NIE VAN NIE onder die tekening.
- Kies enige insek. Maak ’n model van hierdie insek uit klei, wondergom of speeldeeg.