’n Slaai met agt kleure | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | ’n Slaai met agt kleure

Written stories

’n Slaai met agt kleure

Author

Deur Helen Brain

Illustrator

Illustrasies deur Rico

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Dit is Mamma se verjaardag. Neo het sy sakgeld gespaar en vir haar ’n boks sjokolade gekoop. Pappa het vir haar ’n paar pragtige pienk oorbelle gekoop en Mbali het ’n pragtige prentjie op ’n kaartjie geteken.

 

“Dankie, my skattebolle,” sê Mamma en bêre die oorbelle veilig weg in die juwelekissie op haar spieëltafel. “Nou moet ek gou maak, of ek gaan laat wees vir die haarkapper. Ek gaan my hare laat doen sodat ek ekstra spesiaal lyk vir my partytjie vanaand.”

 

’n Rukkie later roep Gogo vir Neo. “Ek is besig om kos te maak vir Mamma se verjaardagpartytjie,” sê sy. “Sal jy asseblief vir Mbali oppas.”

 

“Reg so, Gogo,” sê Neo. Maar hy luister nie regtig nie. Hy het ’n nuwe boek by die biblioteek uitgeneem oor twee seuns wat op ’n seerowerboot op die see vaar.

 

“Neo,” roep Gogo na ’n rukkie, “wat doen Mbali?”

 

Neo spring op. Hy het heeltemal van sy kleinsussie vergeet. Waar is sy? Hy kan hoor hoe sy vir haarself sing. Sy het Mamma se juwelekissie oopgemaak en sy dra al Mamma se hangertjies en ringe en armbande.

 

“Nee, Mbali!” sê Neo. “Jy mag nie daaraan raak nie.”

 

Mbali begin huil en Neo pak vinnig al die hangertjies, ringe en armbande weg. Toe tel hy sy kleinsussie op en dra haar kombuis toe.

 

Gogo is baie besig. Sy kyk na ’n baie mooi vrou met die naam Siba op die televisie. Siba maak iets wat sy ’n sewekleurslaai noem.

 

“Waarom word dit ’n sewekleurslaai genoem?” vra Neo.

 

“Kyk,” sê Gogo, en wys na die bestanddele op die tafel. “Die slaai bestaan uit witrys, groen soetrissies, rooi soetrissies, oranje soetrissies, bruin spek en swartpeper.”

 

“Rooi is my gunstelingkleur,” sê Neo, en knibbel aan ’n stukkie spek.

 

“Myne is geel,” sê Gogo.

 

“En Bella hou van groen,” sê Neo.

 

“Pienk, pienk,” sê Mbali.

 

“Maar Gogo, daar’s net ses kleure,” sê Neo.

 

“Wel, ek gaan ’n bietjie kerriepoeier byvoeg,” sê Gogo. “Mbali, watter kleur is kerriepoeier?”

 

“Pienk,” sê Mbali.

 

Gogo en Neo lag.

 

“Neeee,” giggel Neo, “dis geel.”

 

Sommer gou is die slaai klaar. Gogo sit dit op die tafel en maak dit met ’n doek toe. “Ek gaan gou na die bure toe om vir mevrou Mthembu te vra of sy vir my ’n koppie suiker kan leen. Neo, kyk na jou suster. Maak seker sy raak aan niks nie.”

 

“Bring al jou teddies hierheen,” sê Neo vir Mbali. “Dan speel jy met hulle terwyl ek my boek lees.”

 

Mbali waggel na haar slaapkamer toe om al haar teddiebere te gaan haal. Neo help haar om hulle op die rusbank uit te pak en met ’n kombersie toe te maak sodat sy hulle aan die slaap kan maak. Toe tel hy sy boek op en begin weer lees.

 

“La, la, la, la,” sing Mbali vir haar teddies. Neo blaai om. Hierdie boek is so opwindend. “La, la, la, la,” sing Mbali.

 

Skielik kyk Neo op. Mbali sing nie meer nie. Waar is sy? Hy kyk in al die kamers. Daar is sy, in die kombuis, en sy staan op een van die stoele. Sy is besig om Gogo se sewekleurslaai te eet.

 

“NEE!” skree Neo. “Dit is vir Mamma se partytjie.”

 

Hy vat gou-gou ’n lepel en maak die slaai gelyk bo-op en gooi weer die doek netjies oor. Dit lyk so goed soos nuut. Eish! Dit was amper.

 

Teen vyfuur is alles gereed. Mamma is terug van die haarkapper en haar hare lyk pragtig. Neo het vir Pappa gehelp om die braaivleisvuur aan te steek en Gogo het vir Mbali gebad en haar mooiste partytjierok vir haar aangetrek.

 

Skielik is daar ’n harde gil uit Neo se ouers se slaapkamer: “My nuwe oorbelle is weg!”

 

Neo hardloop na die slaapkamer toe. Mamma is byna in trane. “Ek het hulle hier gebêre,” sê sy. “Ek het hulle net vanoggend in my juwelekissie gebêre en nou is hulle weg! Iemand moes ingebreek het!”

 

“Agge nee,” sê Neo. “Mbali het vanoggend met jou ringe en hangertjies gespeel, maar ek het alles netjies weggepak, belowe.”

 

“Mbali,” roep Mamma. “Kom hier.”

 

Mbali se onderlippie begin bewe en sy kyk af.

 

“Waar’s my oorbelle?” vra Mamma. Mbali begin huil.

 

“Ek het vir jou gesê om jou suster op te pas, Neo,” sê Gogo. “Jy weet sy mag nie met jou ma se goed speel nie.”

 

Neo voel ellendig. Sy kop hang. “Ek is regtig jammer, Mamma,” mompel hy. Nou is Mamma se verjaardag bederf en dit is alles sy skuld.

 

Wag! Wat is dit wat hy sien? Daar blink iets onder die spieëltafel. Vinnig kruip Neo onder die spieëltafel in en tel dit op. “Hier’s een van jou oorbelle, Mamma!” roep hy.

 

Hy soek oral na die ander pienk oorbel – onder die spieëltafel, onder die bed, in Mamma se laai. Hy kyk selfs in Mbali se bed en in haar pop se stootwaentjie, maar hy kan dit nêrens kry nie. Mamma is baie hartseer – sy kan nie net een oorbel dra nie.

 

Net toe lui die deurklokkie. Hulle vriende is hier vir die partytjie. Mamma sit haar ou blou oorbelle aan en glimlag toe sy almal gaan groet wat haar ’n gelukkige verjaardag kom toewens. Pappa sit die wors op die rooster en sommer gou lag en gesels almal.

 

Neo kan sien Mamma is nog hartseer. “Ek wens ek het beter na Mbali gekyk,” dink hy terwyl hy vir Gogo help om die slaai na die groot tafel buite te dra.

 

“Kom ons eet,” sê Pappa. “Alles lyk heerlik. Dankie, Gogo, dat jy sulke heerlike kos gemaak het.”

 

“Sy het by ’n vrou op die TV geleer hoe om die sewekleurslaai te maak,” sê Neo. “Daar’s witrys, en groen en rooi en oranje soetrissies, en bruin spek en geel kerriepoeier en swartpeper in die slaai.”

 

“Pienk, pienk,” roep Mbali, en kap met haar lepel op die tafel. “Pienk, pienk.”

 

“MMMM,” sê Mamma. “Ek kan nie wag om dit te proe nie.”

 

Sy skep ’n groot lepel vol slaai in haar bord en neem ’n happie. Skielik hou sy op met kou. Haar oë rek groot. Iets is fout!

 

“Wat’s fout?” vra Pappa.

 

“Hou jy nie van die slaai nie?” vra Gogo. “Het ek te veel kerriepoeier ingegooi?”

 

Mamma sit haar hand in haar mond en haal iets uit. “My oorbel!” roep sy uit. “Hier’s my oorbel wat weg was.”

 

“Pienk,” sê Mbali met ’n groot glimlag. “Pienk.”

 

“Mbali het jou oorbel in die slaai gesit,” giggel Neo. “Sy was hartseer omdat haar gunstelingkleur nie in die slaai was nie.”

 

“Ek dink vanaand moet ons dit ’n agtkleurslaai noem,” glimlag Gogo.

 

Almal lag, selfs Mbali, wat Mamma se pienk oorbel vashou.

 

Wees kreatief!

* Soek saam met jou kinders op die internet of in ’n resepteboek na ’n resep vir iets wat nie een van julle al ooit voorheen probeer maak het nie. Kyk saam watter bestanddele julle nodig het en lees en volg dan die stappe in die resep. Of maak saam ’n nuwe gereg deur bestanddele wat julle in die huis het, te kombineer. Skryf dan die resep neer sodat julle dit later weer kan maak of met ander kan deel.

* Wat is jou gunstelingkleur? Speel saam ’n raaispeletjie waar jy vir almal die name van voorwerpe met jou gunstelingkleur noem. Kyk hoe vinnig iemand die naam van die kleur kan raai! Laat almal ’n beurt kry om hul gunstelingkleur te beskryf.