Slakke het ook gevoelens!
Home | Written stories | Multilingual stories | Slakke het ook gevoelens!

Written stories

Slakke het ook gevoelens!

Author

Deur Lori-Ann Preston

Illustrator

Illustrasies deur Chantelle en Burgen Thorne

Listen to the story here

Die slakke wat in mev. Mondliwa se tuin woon, is baie ongelukkig.

“EK HET GENOEG GEHAD!” brom Slimy Slak.

“Ek ook,” sê sy beste maat, Speedy. “Hoekom hou die ander goggas in die tuin nie van ons nie?”

“Ek is siek en sat om so sleg behandel te word,” gaan Slimy voort.

“Ja, wat’s fout met ons?” vra Speedy.

“Ek het ’n plan. Kom ons kry al die slakke bymekaar en gaan kla by die ander goggas,” stel Slimy voor.

“Dis ’n blink plan,” stem Speedy saam. “Ons sal vir hulle sê dat hulle meer van ons moet hou.”

Die volgende dag kom Speedy en Slimy en al die ander slakke onder die doringbos bymekaar om met die ander tuingoggas te praat.

“Ons wil met respek behandel word,” sê Speedy. “Ons wil ook hê julle moet meer van ons hou.”

“VERGEET DAARVAN!” skree Skoenlapper. “Slakke is aaklig.”

“JA!” stem By saam. “Slakke hoort nie by ons nie.”

“Julle is ’n oorlas,” voeg Ruspe by.

“Maar wat het ons al ooit verkeerd gedoen?” vra Slimy.

“WAT! Kyk net na hierdie kneusplek op my been,” begin Sprinkaan. “Weet jy waar ek dit gekry het? Van slakke! Julle slakke smeer julle slym oraloor en dit laat ons gly en val en seerkry. Het julle enige idee hoe glibberig daardie slym is?”

“Ons is so klein, ons sit vas in julle slym,” sê Mierkoningin.

“O, goeiste!” sê die slakke verbaas. “Ons het dit nie geweet nie.”

“En dis nie al nie,” sê Ruspe. “Weet julle watter verkeersknope julle veroorsaak?

Julle slakke is sooooo stadig.”

“En dis nie al nie,” voeg Skoenlapper by. “Kan julle asseblief ophou om al die blomme op te eet? Julle verwoes ons pragtige tuin.”

Die slakke voel verskriklik sleg. Hulle het geen idee gehad dat hulle soveel probleme veroorsaak nie. Die klein slakkies voel so sleg dat hulle begin huil.

“Slakke moet darem goed wees vir iets, of hoe?” smeek Slimy.

Die ander goggas raak stil. Hulle dink en dink oor waarvoor slakke moontlik kan goed wees.

Uiteindelik sê Skoenlapper: “NEE WAT! Jammer, maar julle is eenvoudig aaklig.

Daar is niks waarvoor slakke goed is nie!”

“Ek dink eintlik al die slakke moet die tuin verlaat. Die res van ons het genoeg gehad!” sê Wurm, al is hy self maar slymerig.

“WEG MET DIE SLAKKE! WEG MET DIE SLAKKE!” begin die goggas dreunsing.

“Wag, wag,” sê Slimy. “Gee ons nog ’n kans.”

“Ja,” sê Speedy. “Gee ons ’n kans en ons sal vir julle wys dat slakke ook goed en nuttig kan wees.”

Die goggas dink vir ’n oomblik hieroor na. “Nou goed dan,” stem hulle in. “Julle het twee dae om vir ons te bewys dat julle nuttig is vir iets, anders is dit weg met julle!”

Toe die goggas terug is na hulle deel van die tuin, gaan sit die slakke en hulle dink en dink.

“Ons kan altyd leer om te hardloop,” stel Speedy voor.

“Blink plan,” sê Slimy. “Kom, slakke, kom ons raak fiks!” Die slakke oefen die hele dag lank, maar ongelukkig kry hulle dit nie reg om te hardloop nie.

“Ag nee!” sê die oudste slak. “Wat nou? Ons moet met ’n plan vorendag kom wat sal maak dat die ander goggas van ons hou.”

“Ek het dit!” sê Slimy. “Kom ons probeer die onkruid eet in plaas van die blomme.”

“Nou goed, hoekom nie?” stem die ander in. Die slakke probeer toe om net die onkruid in die tuin te eet.

“Ai tog, dit gaan nie werk nie. Onkruid proe AAKLIG!” sê Speedy na ’n rukkie.

 

Die slakke voel baie hartseer. Party van hulle begin selfs hul huise oppak om te vertrek.

“Haai, ek het ’n idee,” giggel Simphiwe, die jongste slak. “Julle moet my asseblief almal bo-op die miershoop ontmoet.”

“Is jy gek? Dit sal ons dae vat om daar te kom,” sê Slimy.

“Vertrou my,” sê Simphiwe.

Twee dae gaan verby en toe is die slakke uiteindelik bo-op die miershoop. Die ander goggas vergader aan die voet van die miershoop om te kyk wat die slake in die mou voer.

“Nou toe, wat is jou blink plan?” vra die goggas kwaai.

“Wel, um …” begin Simphiwe.

“Ja?” sê die ander goggas.

“Julle sal ons beslis toelaat om in die tuin te bly as julle sien wat ons gemaak het,” kondig Simphiwe aan.

Die ander goggas staan doodstil, hul oë vasgenael op Simphiwe.

“Ta-da,” sê Simphiwe, en beweeg na die kant van die miershoop. “Ons het vir julle die wonderlikste GLIBBERIGSTE GLYBAAN met al ons slakslym gemaak!”

Die goggas is lank stil terwyl hulle hieroor nadink.

“FANTASTIES!” roep hulle. “Kom ons toets dit uit.”

En dis presies wat hulle doen. Die goggas neem almal beurte om teen die glibberige glybaan af te gly. Dit is hope pret. Almal hou van die glybaan en so word daar besluit dat die slakke beslis in die tuin mag bly woon!