Haas en Krimpvarkie | Nal'ibali
Home | Story Resources | Multilingual stories | Haas en Krimpvarkie

Haas en Krimpvarkie

Author

Retold by Elaine Ridge

Baie jare gelede was daar ’n haas wat vinniger kon hardloop as enige ander dier op die plaas. Hy was baie, baie trots daarop dat hy so vinnig kon hardloop. Hy kon nie help om die ander diere daaraan te herinner hoe goed hy kon hardloop nie.

“Ek is vinniger as die wind,” spog hy weer en weer by sy vriend, Krimpvarkie.

Aw 1Een oggend ontmoet Haas en Krimpvarkie mekaar by die hek wat na ’n veld op die plaas lei. Dit is ook nie lank voor Haas begin spog nie: “Ek is die beste hardloper in die wêreld. Ek is vinniger as die wind.”

“Ek dink nie so nie,” sê Krimpvarkie beslis. “Ek dink ek kan vinniger as jy hardloop.”

“’n Draaikous soos jy?” gee Haas ’n gemene laggie. “Jy het nie ’n kat se kans om vinniger as ek te hardloop nie.”

Krimpvarkie dink ’n oomblik na. Toe sê hy sag: “Nou goed dan. Kom ons kyk wie is die vinnigste. Ons kan môre teen mekaar resies hardloop. Ons sal van hierdie hek af tot by die verste punt van die veld hardloop, en weer terug.”

“Reg so,” sê Haas. “Ek sal nie eens hoef te hardloop om jou te klop nie, ou Kortbeen.”

“Jy sal sien,” sê Krimpvarkie. “Jy het nie lang bene nodig om ’n resies te wen nie. Ek ontmoet jou môre, net na sonop, by hierdie hek. Ek gaan die resies wen. Jy moet my belowe dat wanneer ek wen, jy my nooit weer Kortbeen of Draaikous sal noem nie.”

“Goed dan,” stem Haas in, baie selfvoldaan. “As jy regtig teen my wil resies hardloop, kan jy. Ek belowe ek sal jou nie Draaikous of Kortbeen noem nie − dis nou AS jy wen. Natuurlik sal dit nooit gebeur nie. Ek is vinniger as die wind. Ek sal tot by die verste punt van die veld en terug hardloop terwyl jy nog dink aan wegspring. Dan sal ek jou so dikwels as wat ek wil Kortbeen of Draaikous kan noem. Ha! Ha!”

Krimpvarkie vertel vir sy ouer broer van die resies. “O, tog,” sê sy broer, “jy het ’n vreeslike fout gemaak. Wat op aarde het jou laat besluit om iets wat so onmoontlik is, aan te pak? Haas is vinniger as die wind. Nou sal hy jou vir die res van jou lewe Draaikous of Kortbeen kan noem.”

“Moenie bekommerd wees nie,” sê Krimpvarkie. “Ek het ’n plan. ’n Baie slim plan. As jy my help, kan ons vir Haas ’n les leer. Hy sal moet ophou spog − en hy sal my nooit weer Draaikous of Kortbeen kan noem nie!”

Die volgende dag is Krimpvarkie lank voor Haas by die hek. Soos gewoonlik neem dit Krimpvarkie ’n lang tyd om daar te kom, maar hy wag met ’n glimlag op sy gesig daar toe Haas aangehop kom net voor die son oor die heuwel loer.

“Goeiemôre, Kortbeen. Is jy seker jy wil steeds teen my resies hardloop? Jy weet jy het nie ’n kat se kans om te wen nie. Is jy gereed om die aftog te blaas? Onthou, ek kan vinniger as die wind hardloop,” sê Haas.

Haas was so seker hy gaan wen dat hy selfs aan nuwe name gedink het wat hy Krimpvarkie na die resies kon noem. Dit sou pret wees.

Krimpvarkie glimlag net stilletjies. Hy staan kalm by die wegspringplek en wag. “Kom ons maak net seker van die reëls,” sê hy. “Ons gaan tot by die verste punt van die veld hardloop, en dan weer terug tot by hierdie hek, reg so?”

“Ja,” sê Haas. Toe skree hy: “Op jou merke! Gereed! Weg!” en toe hop hy weg so vinnig as wat hy kan.

Aw 2Toe hy naby die punt van die veld kom, kan hy nie help om lekker in sy mou te lag nie. “Krimpvarkie probeer waarskynlik nog om weg te trek. Ai, hy is so ’n draaikous.”

Kan jy jou indink hoe verbaas Haas was toe Krimpvarkie vrolik aan die punt van die veld verskyn en uitroep: “Ek was voor jou hier!”

Haas gaan staan ’n oomblik. Toe draai hy om en hardloop vinniger terug as wat hy nog ooit gehardloop het. Hy hyg en blaas gewoonlik nie, maar hy hyg en blaas en sweet teen die tyd dat hy aan die hek raak. Hy kyk oor sy skouer. Daar is geen teken van Krimpvarkie nie. Hierdie keer is hy seker hy het gewen. Toe sê ’n vrolike stem van die ander kant van die hek af: “Ek is weer voor jou hier!” Dis onmoontlik! Maar daar staan Krimpvarkie, en hy glimlag al te soet vir Haas.

Haas kan nie sy oë glo nie. Krimpvarkie het hom geklop. Haas draai om en stap kop onderstebo huis toe.

Maar hoe het Krimpvarkie dit reggekry om vir Haas te klop? Die waarheid is dat hy glad nie eens gehardloop het nie. Toe Haas na die verste punt van die veld begin hardloop het, het Krimpvarkie naby die hek weggekruip. Sy broer het alreeds aan die punt van die veld weggekruip. Toe Haas by die verste punt van die veld aankom, was dit Krimpvarkie se broer wat skielik verskyn en gesê het: “Ek was voor jou hier!” Haas was so verbaas dat hy nie eens agtergekom het dat dit ’n ander krimpvarkie was nie. Toe Haas hygend en blasend en swetend by die eindstreep aangekom het, moes Krimpvarkie net stilletjies uit sy wegkruipplek kom en sê: “Ek is weer voor jou hier!”

Haas het nooit weer gespog nie – ten minste nie by Krimpvarkie nie. Hy het ’n baie gawer vriend geword. Hy het nooit weer vir Krimpvarkie lelike name genoem nie. En hy het nooit uitgevind hoe Krimpvarkie die resies gewen het nie.

Wees kreatief!

Verbeel jou jy is Krimpvarkie. Skryf vir Haas ’n brief om te verduidelik hoe en waarom jy besluit het om hom te kul.