Eendag, terwyl ’n ou vrou haar huis uitvee, kom sy af op geld waarvan sy vergeet het. Sy is so bly dat sy ronddans en sing.
“Kyk net hier,” sê sy en hou die geld in die lug op. “Wat sal ek hiermee doen? Ek weet! Ek sal mark toe gaan en ’n vark koop.”
Die volgende dag gaan sy mark toe en koop ’n oulike varkie. Sy sit ’n halsband om die vark se nek, bind ’n tou aan die halsband vas en begin huis toe stap met die vark. Op pad kom hulle by ’n lae houtheining.
Die ou vrou sê: “Spring asseblief oor die heining, Varkie.” Maar die vark wil nie oor die heining spring nie. Al smeek die vrou ook hoe, die vark wil nie roer nie.
Net toe kom ’n hond verbygedraf en die ou vrou sê vir hom: “Hond, Hond! Kom hier. Jaag asseblief hierdie vark. Hy wil nie oor die heining spring nie, en nou sal ek nie vanaand by die huis kom nie.”
Maar die hond wil nie die vark jaag nie.
Die ou vrou gaan haal toe ’n emmer water wat ’n entjie van die heining af staan. “Water, spat asseblief hierdie hond nat. Die hond wil nie die vark jaag nie. Die vark wil nie oor die heining spring nie, en ek sal nie vanaand by die huis kom nie.”
Maar die water wil nie die hond natspat nie.
Die ou vrou sien ’n os in die verte. Toe hy nader kom, roep sy: “Os, Os, drink asseblief die water. Die water wil nie die hond natspat nie. Die hond wil nie die vark jaag nie. Die vark wil nie oor die heining spring nie, en dit word laat. Dis tyd dat ek en die vark by die huis kom.”
Maar die os wil nie die water drink nie.
Net toe stap ’n slagter verby.
Sy gaan staan en pleit: “Slagter, Slagter, neem asseblief hierdie os saam met jou. Die os wil nie die water drink nie. Die water wil nie die hond natspat nie. Die hond wil nie die vark jaag nie. Die vark wil nie oor die heining spring nie. Ek kan al die maan sien opkom. Ek en die vark moes al ’n uur en ’n half gelede by die huis gewees het.”
Maar die slagter wil nie die os vat nie…
Teen hierdie tyd is die ou vrou al besig om kwaad te raak – niemand wil haar help nie! Sy haal toe ’n stuk tou uit haar sak en sê: “Tou, Tou, bind asseblief die slagter vas. Die slagter wil nie die os vat nie. Die os wil nie die water drink nie. Die water wil nie die hond natspat nie. Die hond wil nie die vark jaag nie. Die vark wil nie oor die heining spring nie, en ek sien reeds die maanlig. Ek en die vark moes ure gelede al by die huis gewees het!”
Maar die tou wil nie die slagter vasbind nie.
Net toe skarrel ’n muis oor die veld, en die ou vrou roep: “Muis, Muis, kou asseblief hierdie tou. Die tou wil nie die slagter vasbind nie. Die slagter wil nie die os vat nie. Die os wil nie die water drink nie. Die water wil nie die hond natspat nie. Die hond wil nie die vark jaag nie. Die vark wil nie oor die heining spring nie, en die maan sit al hoog. Ek en die vark moet nou al regmaak om te gaan slaap.”
Die muis gaan staan. Hy kyk na die ou vrou. “Ja,” sê die muis, “ek sal die tou kou, as jy vir my ’n stukkie kaas gee.”
Die ou vrou sit haar hand diep in haar sak, en haal ’n klein stukkie kaas uit, wat sy vir die muis gee. En toe die muis die kaas geëet het, begin hy aan die tou knaag; die tou begin die slagter vasbind; die slagter begin die os weglei; die os begin die water drink; die water begin die hond natspat; die hond begin die vark jaag en … die vark spring oor die heining.
Die ou vrou sug diep en stap huis toe. “Uiteindelik,” sê sy.
Hoe laat het sy en haar vark by die huis gekom? Niemand weet nie. Maar as hierdie ou vrou naby jou woon, en jy weet, vertel asseblief vir ons.