Die meerminbeursie
Home | Written stories | Multilingual stories | Die meerminbeursie

Written stories

Die meerminbeursie

Author

Jude Daly

Illustrator

Magriet Brink

Translator

Anita van Zyl

Dit is al laat toe Nolitha uiteindelik aan die slaap raak, haar kop vol meerminne, matrose en robbe. Buite skitter die sterre en die Afrika-maan gooi skaduwees oor die uitgedroogde aarde. Môre gaan sy vir die heel eerste keer see toe.

Dit voel of die rit vir ewig duur. Deur bruin heuwels wat in mekaar invou en oor ʼn ruwe bergpas. Maar toe sien Nolitha uiteindelik hoe die rand van die aarde in die eindelose see wegsink.

Soutlug swiep teen haar gesig. Golwe dreun. Seemeeue skreeu. Kormorante duik in die see in. Alles lyk selfs mooier as in haar prenteboek! Terwyl Mamma uitpak, verken Nolitha hierdie nuwe wêreld waar seeslakke met gedraaide skulpe in die nat sand ingrawe en vissies vinnig skuiling soek in rotspoele.

Mermaid-1-finNolitha tel skulpies op en verbeel haar dis meermingeld. Sy luister na al die nuwe geluide en snuif die reuk van die see in terwyl sy koers kies na ʼn groepie rotse. Van bo van die rotse af waai Nolitha vir Mamma om vir haar te wys dat sy veilig is. Toe begin tel sy haar geldskulpies en droom oor wat sy daarmee kan koop.

“Tyd vir middagete!” roep Mamma.

Die oggend het so vinnig verbygegaan! Maar die seelug het Nolitha baie honger gemaak en Mamma se geel mieliebrood en toebroodjies met die ingelegde vis daarop smaak tog te lekker.

Na ete plas Nolitha en Mamma in die vlak water, spring oor golwe en jaag hulle terug strand toe totdat Mamma sê: “Sjoe, Nolitha, nou moet ek eers rus!” Nolitha drentel terug na die rotse toe waar sy haar uitstrek en luister hoe die see saggies sing en haar aan die slaap sus.

ʼn Rob breek deur die oppervlak van die water. Nolitha is seker dit is ʼn rob, want sy het al foto’s van hulle gesien. Vir ʼn oomblik kyk hy met sy groot hartseer oë na haar. Toe is hy weg. Maar gou kom hy weer op en sleep homself op ʼn rots uit. Nolitha is betower . . . nou is hy nie meer ʼn rob nie; hy is ʼn seun!

Die seun kom nader, en nader, en sit versigtig iets voor Nolitha neer. Toe draai hy om en vind sy pad terug na die rand van die water. Huiwerig tel Nolitha die geskenk op en draai dit in haar hande om. Dit is ʼn meerminbeursie. Dit is wondermooi!

Nolitha staan op om vir die seun dankie te sê, maar voor sy dit kan doen, kyk hy terug na haar en duik in die see in. En toe sy lyf die water tref, verander hy weer in ʼn rob.

“Nolitha, Nolitha,” roep Mamma, “tyd om huis toe te gaan!”

Nolitha sit al haar geldskulpies in haar meerminbeursie. Toe stap sy terug na Mamma, maar sy kyk elke nou en dan terug na die see. Ongelukkig sien sy nie ’n rob nie, en ook nie ’n seun nie. Al wat sy sien is die golwe wat oor-en-oor inrol.

Toe hulle die skemer inry, wys Nolitha vir Mamma die pragtige meerminbeursie.

“Dis pragtig!” sê Mamma.

Mermaid-2-fin-loresEn Nolitha vertel vir Mamma alles van die robseun wat dit vir haar gegee het.

“Dis darem wonderlik!” sê Mamma.

En toe, terwyl Nolitha aan die slaap raak, glimlag Mamma ʼn veraf glimlag en fluister: “Dis net daar waar ek ook ’n robseun gesien het toe ek ʼn klein dogtertjie was.”