Olwethu, die seekat, rus onder ’n rotslys in ’n groot poel naby die strand. Sy is bang. Sy was nog nooit so ver weg van haar eie poel op die rif nie. Sy voel altyd veilig op die rif, ver van die kuslyn en mense. Maar ’n paar dae gelede het haar neef, Oscar, haar uitgedaag om saam met hom op ’n avontuur te gaan om die poele naby die strand te gaan verken. “Dis so vervelig hier. Ek wil die wêreld sien. Kom swem saam met my, Olwethu,” het hy gesê.
Olwethu het hom gesmeek om nie te gaan nie, maar Oscar het nooit na haar geluister nie en doen altyd net wat hy wil. Nou is hy al ’n paar dae lank weg. Dis hoekom Olwethu besluit het om na hom te kom soek. Haar soektog het haar na hierdie poel naby die strand gelei waar sy uiteindelik seediere gekry het wat haar kan sê wat van Oscar geword het. “Hy was veels te nuuskierig vir sy eie beswil,” sê die seester harsteer. Die see-anemone wuif hul tentakels instemmend. “Ons het hom gewaarsku om op te pas vir kleurvolle dinge wat in die water hang,” sê hulle. Die kluisernaarskrap loer by sy dop uit en sê: “Die visserman was so bly om ’n seekat te vang.” Olwethu is baie hartseer. Sy sal alleen na haar poel op die rif moet teruggaan. Terwyl sy onder die rotslys ronddryf en dink oor hoeveel sy na Oscar verlang, hoor sy skielik mensestemme. Toe Olwethu uitloer, sien sy ’n klein dogtertjie, haar ma en haar ouma by die rand van die poel.
Hulle staar in die water in. Net toe Olwethu onder die rotslys inskiet, hoor sy die ouma roep: “Kyk, Viwe, daar’s ’n seekat! Kyk daar onder die rotslys!” Olwethu verander vinnig van kleur sodat sy net soos die rotse en seegras om haar kan lyk. Maar Viwe het haar raakgesien. “Ja! Kyk, ek dink dit probeer wegkruip,” sê sy en wys na waar Olwethu was.
Olwethu onthou wat met Oscar gebeur het en besluit om na veiligheid te vlug. Sy glip so vinnig soos blits onder die rotslys uit om onder ’n groter rots te gaan skuil. Maar tot haar afgryse loop die klein dogtertjie deur die water en gaan sit op die groot rots waaronder Olwethu wegkruip. Die dogtertjie hou ’n helderkleurige ding in haar hand vas, maar Olwethu weet nie wat dit is nie.
Olwethu het nog altyd van helder kleure gehou. Haar eie poel op die rif is so kleurvol. Dit is vol rooi anemone, blink skulpe, groen seegras en baie, pragtige seesterre. Olwethu kan verstaan hoekom Oscar so aangetrek is deur die helderkleurige dobbertjie wat die vissermanne gebruik het om hom te vang. Uit haar wegkruipplek sien Olwethu hoe die helderpienk voorwerp in die water beland en verby haar swiep. Sonder om te dink, steek sy een van haar tentakels saggies uit en draai dit om die voorwerp. Toe niks gebeur nie, begin sy ’n tweede tentakel om die voorwerp draai. Dan hoor sy die klein dogtertjie roep: “Kyk, Mamma, die seekat het my snorkel gevat.” Olwethu skrik so groot dat sy die voorwerp stywer vashou. Die dogtertjie steek haar hand in die water in en gryp die snorkel. Toe sy voel hoe Olwethu dit vashou, begin sy ook daaraan trek.
“Mamna, die seekat wil nie my snorkel los nie!” sê Viwe en begin paniekerig raak. “Agge nee,” dink Olwethu skielik, “ek is net so dwaas soos Oscar was! As ek nie oppas nie, gaan ek ook gevang word!” Sy laat die voorwerp gou los. Die snorkel bons met ’n gespat uit die water uit en Viwe val byna agteroor van die rots af in die water. Gogo lag en sê: “Jy’s ’n gelukkige meisie, Viwe. Jy het ’n seekat gesien en amper een gevang ook!” “Ja,” sê Viwe opgewonde, “en die seekat het amper my snorkel gevang!” Wat ’n noue ontkoming, dink Olwethu toe sy na haar poel op die rif begin terugswem. Terwyl sy water insuig en uitspuit, skiet sy deur die water en weg van die gevaar af. In die verte hoor sy Viwe se ouma sê: “Goeiste! Kyk hoe vinnig beweeg daardie seekat, Viwe! Dit skiet deur die water soos ’n vliegtuig deur die lug.” Maar Olwethu wag nie om te hoor wat Viwe sê nie. Sy hou nie op swem tot sy weer veilig op die rif is nie.
Raak doenig met stories!
- Was jy al ooit op ’n avontuur? Hoe het jy gevoel? Hoekom?
- Teken ’n prent van ’n seekat. ’n Seekat kan van kleur verander! Jy kan dit inkleur en dit ’n interessante kleur of patroon gee.
- Maak ’n plakkaat vir ’n vermiste persoon. Teken ’n prent van die vermiste persoon en skryf hul naam en ouderdom neer asook ’n beskrywing van hoe hulle lyk onderaan die prent.