Sita woon in ’n klein, vierkantige huis in ’n nou straat aan die kant van ’n heuwel. Haar hele gesin werk baie hard. Haar ma maak pragtige sari’s vir vroue en haar pa maak deftige pakke vir mans.
Omdat haar ma en pa sulke goeie werk doen, vra baie mense hulle om vir hulle klere te maak. Daar is altyd baie werk om te doen, en daarom help Sita en haar suster haar ouers met die naaldwerk. Die twee meisies sit in die piepklein slaapkamer wat hulle deel en werk saam. Maar soms is daar nie genoeg plek vir albei van hulle EN die naaldwerk nie, en dan begin hulle stry.
Op ’n dag kry Sita ’n plan. Dit is ’n lieflike somersaand en sy besluit om met haar naaldwerk bo-op die plak dak van hulle vierkantige huisie te gaan sit. Van die dak af kan sy die dorp daaronder sien en in die verte ’n heuwel. Maar in plaas van ’n klomp huisies teen daardie heuwel, is daar slegs een huis heel bo-op die heuwel.
Toe die son begin sak en Sita haar werk klaarmaak, vang ’n goue glans haar oog. Dit is die huis op die heuwel, en dit is asemrowend. Die vensters blink soos goud.
“Ai,” sê Sita, “ek wens ek kon in so ’n huis woon. Ek is seker hulle het groot vertrekke en baie plek in daardie huis. Dit moet soveel beter as ons huis wees.” En daardie nag droom Sita van die huis met die goue vensters.
Die volgende oggend eet Sita en haar familie saam ontbyt by die klein kombuistafel. “Julle twee het baie hard gewerk,” sê hulle ma, “en ons het besluit julle kan vandag vakansie vat. Gaan doen iets wat julle graag wil doen!”
“Ja,” sê hulle pa. “Geniet julle dag en gebruik dit goed.”
Sita se suster gil van opwinding. “Daar is so baie dinge wat ek wil doen! Ek kan nie kies wat ek eerste wil doen nie!” en sy storm by die kombuis uit.
Sita glimlag. Sy weet presies wat sy wil doen. Sy wil die huis met die goue vensters gaan soek.
Terwyl sy in die pad af stap, dink sy hoe die huis van naby sal lyk. Sy het nog nooit voorheen regte goud gesien nie. Sy stap ’n lang ruk totdat sy uiteindelik bo-op die heuwel is. Sy is verbaas om te sien dat die huis nie soveel groter as haar eie huis is nie … en sy sien geen goue vensters nie.
“Dalk moet ek voor om stap,” dink sy. Sy kom by die voordeur, maar niks is goud nie.
Net toe maak ’n klein seuntjie die deur oop. Sita vertel vir die seuntjie hoe sy die huis met die goue vensters van haar huis se dak af gesien het. Sy vra hom of hy weet waar die huis is.
“Ja, ek weet!” sê hy opgewonde. “Jy soek op die verkeerde plek. Volg my!” Hy neem haar na sy geliefkoosde boom. “Jy kan dit van daar bo af sien.” Hy beduie na die hoogste tak. Saam klim hulle tot bo in die boom.
“Sien jy dit?” vra hy.
Sita soek oral na die seuntjie se huis. “Nee,” sê sy hartseer.
Die seuntjie lag. “Hoekom kyk jy na my huis? Kyk daar oorkant …” en hy beduie na die heuwel in die verte. Dit is die heuwel waar Sita woon. Sy kan al die vierkantige klein huisies teen die kant van die heuwel sien en sy kan haar eie huis sien. Die lig van die sakkende son baai haar huis se vensters in ’n pragtige goue gloed.
“Ek sien dit!” lag sy.
“Dit lyk na so ’n spesiale plek,” sê die seuntjie.
“Dit is,” glimlag Sita en hulle klim albei uit die boom.
Dis byna donker toe Sita by die huis kom. Sy kan haar ma, pa en suster se vrolike stemme in die huis hoor opklink. Sy is bly om weer tuis te wees.
“Het jy ’n lekker dag gehad?” vra haar pa.
Sita glimlag. “O, ja!” sê sy. “En ek het geleer dat ons ’n pragtige huis het, en dat dit soms goue vensters het.”
Toe gaan sit hulle almal om die kombuistafel en Sita vertel hulle van haar dag en hoe bly sy is om in hulle klein, vierkantige huisie teen die kant van die heuwel te woon.
Wees kreatief!
Vertel vir jou kinders ’n storie oor ’n keer toe jy skaam gevoel het, en moedig hulle dan aan om hulle eie stories te vertel oor 'n keer toe hulle skaam gevoel het.