Leeu was koning van die diere. Sy harde brul het die blare aan die bome laat bewe. Bedags het hy gejag vir kos en in die son gelê en slaap. Hy was trots op sy brul, en hy was trots op sy skerp tande en kloue, maar hy was die trotsste van alles op sy pragtige goue pels en maanhare.
Op ’n dag, terwyl hy by ’n dam water drink, sien Leeu dat sy maanhare vol kaal kolle is. “Wat’s dit?” brom hy by homself. Hy draai om en sien dat die goue hare op sy rug ook vol kaal kolle is. Leeu is baie ongelukkig. Dit sal nie deug as ’n leeu nie hare of maanhare het nie. Hy draf weg om dr. Skilpad te gaan sien en uit te vind wat hy kan doen om sy pels te red.
“Hmmm,” sê dr. Skilpad nadenkend. “Dit is ’n uiters ernstige geval van iets, maar ek is nie heeltemal seker van wat nie. Laat ek dink …”
“O, nee! Dit klink verskriklik,” snak Leeu, maar ’n groot leeu mag tog nie huil nie. Sy kniekoppe bewe. “Sal … sal ek dit oorleef?” vra hy.
“Natuurlik sal jy dit oorleef,” lag dr. Skilpad, “jy het net ’n ernstige vlooiaanval. Jy moet vir Apie gaan vra om die vlooie te vang. Dan is jy weer so reg soos ’n roer.”
“Vlooie? Is dit al?” sê Leeu en lyk verlig. Hy bedank dr. Skilpad en haas hom om Apie te gaan soek.
Apie is soos gewoonlik besig om kattekwaad aan te vang. Hy sit in ’n boom en gooi vrot ngwenya-bessies na ’n lui vlakvark wat in die son lê en slaap.
“Apie!” brul Leeu. Apie skrik en val byna uit die boom uit. “Apie, kan jy asseblief die vlooie in my pels kom vang?” vra Leeu.
“Ja, natuurlik, U Majesteit,” kwetter Apie. Hy laat val sy laaste bessie en skarrel af grond toe.
Leeu lê in die warm son terwyl Apie sy maanhare en pels kam en die vlooie vang. Apie kam en vang vlooie. Hy streel en pamperlang. Die son is warm en sommer gou is Leeu vas aan die slaap.
Toe Leeu wakker word, kan hy nie roer nie. Hy brul van woede toe hy ontdek dat Apie sy stert aan ’n boom vasgebind het. Hoe meer Leeu trek en wriemel, hoe stywer trek die knoop in sy stert. ’n Klein nagapie kyk met pieringoë uit die boom hoe Leeu spartel en spook.
“Ek kan jou help, Leeu,” sê Nagapie liefies, “maar dan moet jy eers belowe om my nie op te eet nie.”
Leeu is moeg gespartel. “Natuurlik sal ek jou nie eet nie,” hyg hy. Sy maag grom. Nagapie lyk senuweeagtig. “Ek belowe ek sal jou nie eet nie!” sê Leeu.
Nagapie klim toe uit die boom en begin die knoop met sy lang, delikate vingers losknoop. Uiteindelik is Leeu vry. Hy bedank vir Nagapie en loop weg.
Terwyl hy loop, besin Leeu oor wat Apie aan hom gedoen het, en hy raak baie kwaad. Hy besluit om Apie ’n les te leer. Hy vertel vir die ander diere om vyf dae te wag en dan vir Apie te vertel dat Leeu dood is.
Vyf dae later gaan die diere na Apie toe en vertel hom hartseer dat Leeu ongelukkig dood is. Vlakvark maak selfs of hy huil. Die diere vertel vir Apie dat hulle besluit het om ’n partytjie te hou om van Leeu afskeid te neem. Apie is dol oor partytjies en sê: “Ek sal beslis daar wees!”
Daardie middag kyk Apie hoe die diere naby die groot liggaam van die leeu bymekaarkom en dan een-een by hom verbystap. Hulle streel sy maanhare, soen hom op die kop en groet hom. Apie hop van een been na die ander. Hy wil so gou moontlik vir Leeu totsiens sê sodat hy by die partytjiekos kan uitkom.
Toe hy by Leeu se kop kom, leun hy oor en kwetter: “Totsiens, jou lawwe ou kat. Ek het jou behoorlik om die bos gelei.”
Leeu maak sy oë oop en spring met ’n B-R-U-L orent! Apie skrik so groot dat hy agteroor val.
Apie kom vinnig weer op sy voete en klim rats in die naaste boom, waar hy sit en raas en bewe van vrees. Leeu brul weer en skud sy reuse klou in Apie se rigting: “Jy en al die ander apies moet liewer nie uit die bome kom nie! As julle dit doen, sal ek julle vir aandete eet!”
En tot vandag toe woon apies altyd in bome. Hulle durf nie afkom nie, want hulle is steeds bang dat hulle Leeu se volgende maaltyd sal word.
Wees kreatief!
Nooi jou kinders om ’n prent te teken van die deel van die storie waar Apie kyk hoe die ander diere verby Leeu se liggaam loop. Stel voor dat hulle praatborrels of denkborrels vir Leeu, Apie en die ander diere teken, en dan woorde in die borrels skryf of prente in die borrels teken om te wys wat die diere dink of sê.