'n Klein bietjie
Home | Written stories | Multilingual stories | 'n Klein bietjie

Written stories

Try our growing collection of stories to print out or read aloud at home with the whole family.

'n Klein bietjie

Author

Wendy Hartmann

Illustrator

Shân Fischer

Translator

Anita van Zyl

Toe Sibu in iLanga-laan intrek, vra mev. Magona vir al die bure om ’n klein bietjie van dit en ’n klein bietjie van dat te bring om hom te verwelkom. So maak Sibu goeie vriende. Hulle hou van hom en hy hou van hulle.

Ongelukkig was daar een ding wat almal ontstel het. Soms het Sibu genies. En sy niese was die ergste niese in die hele wêreld. Wanneer hy in die deur van sy klein huisie staan en … snuif, snuif, snuif, …aaa, aa …, maak, raak almal paniekerig.

Een oggend maak Sibu sy voordeur oop. ’n Klein swart katjie hardloop buitentoe en Sibu kom agterna. Sibu lig sy kop op, maak sy mond oop en sê: “Aa, aaa …”

“NEE!” roep mev. Magona. “Moenie dat hy nies nie. Die laaste keer toe dit gebeur het, het dit my wasgoed tot in die vlei gewaai. Stop hom nou dadelik!”

“NEEE!” skree mnr. Samson. “Die laaste keer toe Sibu genies het, het dit al my rooi rose plat gewaai. Hulle was pragtig, en net reg om verkoop te word. Stop hom!”

“AA, AAAA, AAAAA …” maak Sibu.

“Neeeeee!” gil Jabu en Nozi. “Die laaste nies het ons huiswerk weggewaai. Die juffrou wou ons nie glo toe ons haar vertel dis ’n nies wat dit weggewaai het nie.”

“Gou! Ons probeer ’n klein bietjie van dit en ’n klein bietjie van dat om die nies te keer,” sê mev. Magona met ’n wasgoedpennetjie in haar hand. Sy knyp Sibu se neus met die wasgoedpennetjie toe.
Little bit 1

“Aa, aaaa … Eina! Haal asseblief die pennetjie af,” sê Sibu.

Mnr. Samson bring vir Sibu ’n glas water. “Knyp jou neus toe en drink dit,” sê hy.

Gloeg, gloeg. Sibu sluk en begin hoes.

“Gou,” sê Jabu en hou ’n bakkie pap na Sibu toe uit. “Eet dit.”

“Dit sal jou mond besig hou,” sê Nozi, “en jou neus laat wikkel.”

“Aaaaaa …” sê Sibu en stoot die bakkie weg. “Aa, aaaa …”

Almal gaan staan en staar en wag toe maar.

Die klein swart katjie wat op die muur sit, wag en kyk. Sy weet presies wat gaan gebeur. Die wasgoed sal in die lug opwaai, die blomme sal platgevee word, die huiswerk sal wegvlieg en dan sal drie belangrike dinge gebeur. Die groot nies sal haar pels en snorbaarde ritsel. Die sand sal in die krake in die muur inwaai … en dan … die beste van alles … sal die muise uithardloop. En die katjie is honger.

“Aaaaaa … tiesjSSJJ …” Almal koes en probeer wegkruip. “… SJOOEE!” nies Sibu.

Daar vlieg die wasgoed in die lug op. Die blomme buig plat teen die grond. Jabu en Nozi se huiswerk vlieg weg. En tot die klein swart katjie se groot vreugde, hardloop die muise buitentoe.
Little bit 2

“Dit kan nie so aangaan nie. Ons moet iets doen. Het jy iets geëet wat jou laat nies?” vra mev. Magona.

“Nee,” antwoord Sibu.

“Het jy aan iets geruik?” vra mev. Magona.

“Nee,” antwoord Sibu.

“Wel, wat het jy gedoen?” vra mnr. Samson.

“Ek het gedoen wat ek elke Saterdagoggend doen,” sê Sibu. “Ek het opgestaan en myself gewas. Ek het my ontbyt geëet. Ek het in my stoel gesit en my boek gelees, en soos gewoonlik het daardie klein swart katjie kom hallo sê.”

Almal draai om om na die klein swart katjie te kyk.

“Is sy jou kat?” vra mev. Magona.

“O, nee!” sê Sibu.

“Aan wie behoort sy?” vra mev. Magona. Almal skud hulle koppe.

“Dan sal ons haar moet wegjaag. Kyk, jou trui is vol swart kathare,” sê mnr. Samson en wys daarna.

“Jy is allergies vir katte, Sibu,” sê mev. Magona. “Dis hoekom jy nies. Ons sal daardie kat moet wegjaag.”

“Nee,” sê Jabu en Nozi tegelyk. “Ons sal haar saam met ons huis toe vat. Ma het gesê ons mag maar ’n katjie kry.”

“En hoe gaan julle haar weghou van Sibu se huis af?” vra mev. Magona.

“Maklik,” sê Jabu. “Ons sal doen wat u altyd sê.”

“Regtig? En wat is dit?” vra mev. Magona.

“Ons gee haar ’n klein bietjie van dit en ’n klein bietjie van dat om haar te verwelkom,” antwoord die kinders.

Almal glimlag.

Jabu en Nozi loop na die klein swart katjie toe, streel haar pels en praat saggies met haar. Tot almal se verbasing staan die katjie op en volg hulle huis toe.

“Aaaaa,” sê mev. Magona trots. “Dit werk elke keer.”

“En nou,” sê Sibu, “sal ek my beesvleisbredie maak om te vier dat ek NIE WEER SAL NIES NIE.”

Daardie aand sit al die bure om die vuur en eet van Sibu se heerlike bredie.

En die klein swart katjie? O, sy is heeltemal te gemaklik en warm om vir Sibu te pla. Sy weet dat sy by Jabu en Nozi se huis altyd ’n klein bietjie van dit en ’n klein bietjie van dat sal kry, én baie liefde.