Mamma sit haar inkopiesakke op die vloer neer en flop op ’n kombuisstoel neer. “Goeiste, maar ek is moeg,” sê sy en vee die sweet van haar voorkop af. “En ek moet nog so baie bak vir Eerwaarde Dumisani se verjaardagtee by die kerk vanmiddag.”
“Gaan Mamma pannekoek bak?” vra Unathi opgewonde. “Ek kan jou help.”
“Nee,” sê Mamma. “Dit is ’n spesiale verjaardagtee vir Eerwaarde Dumisani. Al die leraars van ons kerk kom, en ook Eerwaarde Dumisani se goeie vriend, Eerwaarde Buso. Ek het gehoor Eerwaarde Buso hou van kaasskons, en ek het ’n skonmengsel daarvoor gekoop. Eerwaarde Dumisani hou van suikerkoekies, en ek het ’n koekiemengsel daarvoor gekoop.”
Unathi lyk hartseer. “Ek dink Mamma moet eerder pannekoek bak. Almal hou daarvan. En as jy pannekoek bak, kan ek jou help.”
“Nee dankie, Unathi,” sê Mamma. “Ek wil hê almal moet sien hoe goed ek kan bak. Ek gaan skons en koekies bak, en ek is haastig. Ek moet dit op my eie doen.” Mamma begin die pakkies skonmengsel en koekiemengsel uitpak en haal botter en mengbakke uit.
Unathi kyk hoe Mamma een van die pakkies oopmaak en dit in ’n bak uitgooi. Mamma voeg klein blokkies botter by die mengsel en vryf hulle met haar vingerpunte in. “Is dit die skons of die koekies, Mamma?” vra Unathi.
“Die skons,” sê Mamma, terwyl sy kaas byvoeg en alles goed meng.
Unathi kyk na die leë pakkie op die tafel. Daar is ’n prentjie van heerlike koekies op die voorkant.
“Mamma, is jy seker jy het die regte pakkie?” vra Unathi.
Mamma kyk op terwyl sy melk in ’n maatkoppie afmeet. “Ek is jammer, Unathi,” sê sy kwaai, “maar ek het vir jou gesê ek is haastig. Gaan speel asseblief.”
“Maar …” begin Unathi.
“Weg is jy,” sê Mamma streng.
Unathi voel lus om te huil. Sy wil net help. Dit lyk of Mamma nie baie gaaf is wanneer sy ander mense probeer beïndruk nie.
Unathi gaan sit in die groot boom in die tuin. Sy hou Mamma deur die kombuisvenster dop.
Toe Mamma klaar die laaste van die deeg uitgerol en gesny het, vee sy haar hande aan ’n lappie af, en kyk by die venster uit. Sy sien Unathi in die boom sit en beduie vir haar om af te klim. Unathi is bly. Dalk is Mamma nie meer kwaad vir haar nie, en kan sy die bakke uitlek.
Mamma glimlag vir Unathi toe sy in die kombuis instap. “Ek is klaar gebak. Ek is jammer dat ek so kwaai was, maar ek het baie gehad om te doen. Ek het vir jou ’n klein lepeltjie koekiedeeg gebêre om aan te proe,” sê Mamma.
Unathi glimlag terug en druk die bolletjie koekiedeeg in haar mond. Sy maak haar oë toe terwyl sy wag dat die heerlike soetigheid haar smaakknoppies bereik.
“Ughh, jig!” roep Unathi, en spoeg die bolletjie deeg in haar hand uit. “Hierdie spoggerige koekies proe aaklig. Ek hou glad nie daarvan nie.”
Mamma lig verbaas haar wenkbroue. “Wat bedoel jy, Unathi? Jy is baie onbeskof.”
“Jammer, Mamma, maar proe hieraan,” sê Unathi. “Dis glad nie lekker nie.”
Mamma knyp ’n klein stukkie deeg af en sit dit in haar mond. Sy trek haar neus op. “Jy’s reg. Dit proe aaklig,” sê sy. “Maar wat kon verkeerd gegaan het?” Skielik sit sy haar hande oor haar oë. “O, nee!” kerm sy. “Ek het deurmekaar geraak met die pakkies vir die skonmengsel en die koekiemengsel! Ek het baie soet skons gemaak, en suikerkoekies met kaas!”
Mamma gaan sit by die tafel en laat haar kop in haar hande sak. “Wat gaan ek nou doen? Ek het niks meer skon- of koekiemengsel oor nie, en daar is ook nie meer baie tyd nie. Wat gaan ek vir Eerwaarde Dumisani se verjaardagtee maak?”
Unathi kry skielik ’n blink plan. “Daar is genoeg tyd om pannekoek te bak, Mamma! En al wat ons nodig het, is meel, eiers, olie en melk. Ons het dit altyd in die huis. EN ek kan jou help!”
Mamma gee vir Unathi ’n drukkie. “Jy’s reg. Ek moes in die eerste plek na jou geluister het. Pannekoek sal perfek wees.”
Mamma en Unathi spring dadelik aan die werk. Hulle bak ’n hele stapel pannekoek. Unathi eet vyf pannekoeke terwyl sy help!
Daardie middag is die verjaardagtee ’n groot sukses en albei die eerwaardes hou toe sommer baie van pannekoek!